ANC wys sy LPs vir Nkandla-komitee aan

anc-vlagStone Sizani, die ANC se hoofsweep, het Dinsdag die name van sewe van die party se LPs bekendgemaak wat deel sal vorm van die ad hoc-komitee wat president Jacob Zuma se Nkandla-privaatwoning gaan ondersoek.

Die veelparty- parlementêre komitee se mandaat is om Zuma se reaksie op die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor Nkandla te oorweeg en, indien nodig, aanbevelings te maak voor die algemene verkiesing op 7 Mei.

“Partye is tien dae gegun om aan die speaker van die nasionale vergadering name voor te lê van persone wat op die komitee gaan dien,” het Sizani gesê.

“Ten spyte van ʼn uitputtende en ingewikkelde interne proses om bekwame verteenwoordigers te identifiseer, is ons trots om vandag, twee dae voor die sperdatum van 24 April, die name bekend te maak.”

Die ANC se sewe kandidate is Cedric Frolick (voorsitter van die Nasionale Vergadering),

Buti Manamela (sweep van die party se arbeidsportefeulje), Doris Dlakude (adjunkhoofsweep), Joyce Moloi-Moropa (voorsitter van die komitee van openbare werke en administrasie), Cecil Burgess (voorsitter van die parlementêre gesamentlike staande komitee oor intelligensie), Luwellyn Landers (voorsitter van die parlementêre komitee oor justisie), en Faith Muthambi (sweep van die kommunikasieportefeuljekomitee).

Frolick sal genomineer word om as die voorsitter van die komitee te dien.

Die komitee sal bestaan uit sewe ANC-LPs, twee DA-LPs, een LP van Cope, een LP van die IVP en een van die ander agt politieke partye in die parlement. Die komitee sal sy eie prosedures en vergaderings opstel en skeduleer.

Madonsela het haar finale verslag, getiteld “Secure in Comfort”, op 19 Maart vrygestel. Sy het bevind dat Zuma en sy familie onbehoorlik gebaat het by die opgraderings. Sy het ook bevind dat Zuma die land se Etiekwet vir Uitvoerende Lede oortree het. Madonsela het voorgestel dat Zuma ʼn persentasie van die geld moet terugbetaal. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.