Ander planne beraam weens tekort aan Covid-19-toetsmateriaal

(Argieffoto: fernando zhiminaicela/Pixabay)

Dit is geen verrassing dat Suid-Afrika gaan sukkel met tekorte aan Covid-19-toetsmateriaal nie – dit word nie plaaslik vervaardig nie – maar kliniese assessering gaan nou dié gaping vul, het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Dinsdag tydens sy besoek aan die Wes-Kaap gesê.

“Meer as 700 000 toetse is gedoen, dit is baie, en ons sou in een of ander stadium dié haakplekke ondervind,” het Mkhize by die Sonstraal-veldhospitaal buite die Paarl gesê.

“Ons moet net aanvaar dat ons dit nie self vervaardig nie en dus nie genoeg gaan hê nie. Ons doen alles moontlik om die toetsmateriaal te bekom. Die agterstand is ʼn tydelike probleem. Ons sal dit oplos.”

Mkhize het aangekondig dat die getal infeksies landwyd tot 35 812 toegeneem het. Amper twee derdes van dié gevalle is in die Wes-Kaap.

Volgens die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, is nog 41 koronavirussterftes in die provinsie bevestig wat die sterftesyfer teen Dinsdag op 403 te staan gebring het. Altesaam 23 095 infeksies is in die provinsie bevestig – en meer as ʼn duisend die afgelope 24 uur.

Weens die tekort aan toetsmateriaal het die provinsie riglyne aangekondig om toetse te beperk tot diegene wat simptome toon en/of in die hospitaal is, gesondheidswerkers, inwoners van ouetehuise, ouer as 55 jaar, of jonger as 55 jaar maar met onderliggende siektetoestande.

Mkhize het gesê terwyl die land nog toetsmateriaal in die hande probeer kry, sal almal wat moontlik Covid-19 onder lede het behandel word op die aanname dat hulle positief toets vir die virus. Hulle sal in isolasie gehou word om te verseker daar is geen gevaar dat hulle die virus moontlik aan ander mense oordra nie.

“Die dokter sal aanneem die pasiënt het die infeksie opgedoen en dit so bestuur totdat die uitslag bekend is. Daar sal verseker word die persoon word geïsoleer en versprei nie die infeksie nie. Die toets word dan ʼn bykomende hulpmiddel vir die dokter, het hy gesê.

“Selfs al toon pasiënte nie simptome nie, is dit eers veilig om die kwarantyn ná 14 dae op te hef.”

Mkhize het gister die Wynlande besoek waar groot trosuitbrekings in boerderygemeenskappe aangemeld is. Hy het ook veldshospitale in die Moederstad besoek. Die stad en omliggende landelike gebiede is reeds tot koronavirus-brandpunte verklaar.

Die minister het gesê ten spyte van die toename in gevalle in die provinsie is hy vas oortuig die situasie gaan in bedwang gebring word en hy hoop die Wes-Kaap dien uiteindelik as voorbeeld vir die res van die land.

Mkhize het egter gewaarsku dat ten spyte van die intensiewe gesondheidsingrypings in die provinsie, inwoners ook hul gedrag gaan moet aanpas om die verspreiding van die virus te stuit.

Die minister het die mag om ingevolge die bepalings wat die land se afsondering reguleer, aan die kabinet aan te beveel dat ʼn distrik of streek na ʼn hoër vlak van die afsonderingsregulasies oorgeskakel word.

Suid-Afrika het Maandag na koronavirus-vlak 3 geskuif ná twee maande van drakoniese beperkings. Die meeste ekonomiese bedrywighede word nou weer toegelaat.

Dit sluit die verkoop van alkohol in, hoewel slegs van Maandag tot Donderdag.

Winde het gesê amptenare sal die uitwerking van alkoholverkope op die vlakke van geweld dophou, omdat plek in hospitale nie deur trauma-opnames opgeneem kan word ten koste van beddens vir koronaviruspasiënte nie.

“Ons gaan die situasie fyn dophou omdat alkohol verantwoordelik is vir talle euwels in ons gemeenskappe, waaronder geweld, misbruik en padongelukke. Al dié faktore kan tot verhoogde druk op ons hospitale lei,” het hy gesê.

“As ons sien dat alkohol nie verantwoordelik gebruik word nie, en as daar ʼn verwante toename in traumagevalle by ons hospitale is, gaan ons die moontlikhede ondersoek om dié uitwerking te verminder.”

Mkhize het ook teen alkoholmisbruik gemaan en mense gevra om nie paniekaankope van alkohol te doen nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mariana ·

Dit is tyd dat mense na hulself ook begin omsien aangesien die tekort aan toetsmateriaal nie gou opgelos gaan word nie. Die Wes-Kaap het miskien die meeste infeksies en oorledenes maar is ook die provinsie met die meeste toetse en ook pasiënte wat reeds herstel het. Maak gereelde handewas en dra van maskers deel van jou alledaagse roetine.

Jaco ·

wanneer gaan die DA in die Wes-Kaap besef dat hulle pogings om te wys hoe goed, deeglik en oulik hulle is om te toets toets toets, NIE so deur die ANC ervaar word nie. Die ANC sien dit eerder as “dis die provinsie wat die brandpunt is van Corona en dit word deur die ‘rassistiese’ DA regeer”.
Al hierdie “shine vang” deur die DA gaan nog maak dat die ANC met drakoniese stappe TEEN die Wes-Kaap gaan kom.

JohanR ·

Maak dit sin Jaco : Gauteng 4282 gevalle 33 stertes WC 23583 gevalle 568 sterftes. Gauteng amper twee keer soe veel populasie as die WC. Daai 33 sterftes in Gauteng is al soe vir die laaste paar dae. Die probleem le soe dat van die 26de Maart die ANC besig is met ander dinge, donkerder dinge, en nie net Covid-19. Maar hulle dink moes die mense van SA is stupid!

JohanR ·

Hoekom krap die ou al die tyd in die Wes-Kaap rond? Miskien kan hy nie sy oe glo hoe ‘n nie ANC provinsie dinge reg kan doen nie! Sal sien hoe gou hy rond spring in Gauteng waaneer die paw paw die waaier slaan. Soever lieg hulle oor al die ANC provinsies, maar daai lieg gaan terug kom en hom op die agterwereld byt!

Jacobus ·

“So much vir statistiek” veral as dit ‘n agenda aandryf!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.