Andile Lungisa moet by tronk aanmeld

Andile Lungisa. Foto: ANA.

Andile Lungisa, ANC-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, moet hom Donderdagmiddag aanmeld om sy twee jaar gevangenisstraf te begin uitdien.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Oos-Kaap, sê die NVG het Woensdag afskrifte ontvang van Lungisa se aansoek by die Grondwethof om verlof tot appèl teen sy vonnis. Dit volg ná die appèlhof in Bloemfontein verlede Donderdag sy appèl teen sy skuldigbevinding van die hand gewys het.

Lungisa het intussen ʼn borgtogaansoek ingedien hangende die aansoek in die Grondwethof.

“Sy borgtogaansoek sal Maandag in die Grahamstad-hooggeregshof aangehoor word.”

Ngcakani sê die NVG sal sy borgtogaansoek teenstaan.

Lungisa is twee jaar gelede in die Port Elizabeth-landdroshof skuldig bevind op ʼn aanklag van aanranding nadat hy Rayno Kayser, DA-raadslid, met ʼn glasbeker oor die kop geslaan het. Die voorval het tydens ʼn chaotiese Nelson Mandelabaai-raadsvergadering in Oktober 2016 plaasgevind.

Kayser het verskeie snywonde aan sy kop en nek opgedoen en foto’s het gewys hoe hy bloed oral oor hom gehad het. Die vergadering het in sulke erge geweld ontaard dat sommige raadslede berading moes ontvang.

Lungisa is in Mei 2018 tot twee jaar tronkstraf gevonnis, maar het in die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) teen die vonnis geappelleer. Lungisa het tydens die verhoor onskuldig gepleit en gesê hy het uit selfverdediging opgetree.

Sy aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis van twee jaar tronkstraf is in die Port Elizabeth-streekhof van die hand gewys. Hangende die uitspraak van sy aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding, is hy op borgtog van R10 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hennie

Snaaks hoe die windgat nou alles probeer om van PAPPA af weg te bly!
Ek wonder wie finansier sy regskoste?

Misky

Dis reg, hou voet by stuk. Hierdie narre dink mos hulle kan maak nes hulle wil en verhewe bo die wet. Stap in die regte rigting en daar moet so paar van sy boeties saamgaan.

Johann

So as ek hierdie som van wandaad tot hof saak tot skuldig tot apel tot apel tot apel toepas op oom Zumpi en van sy “fellow South Africans”, dan gaan daar nie noodwendig iemand voor die jaar 2041 actually tronk toe gaan nie?

Editor

Wanneer tree Jakob aan?

gatgogga

Wel, dit kon dalk selfverdediging gewees het – die DA-lede het dalk aan hom uitgewys hoe onbekwaam hy is.