Andile Lungisa wys borgtog van die hand

Andile Lungisa (Foto: Raahil Sain/ANA)

Andile Lungisa, wie se aansoek om borgtog Vrydag in die hooggeregshof in Grahamstad op toegestaan is, het die borgtog van die hand gewys en besluit om agter tralies te bly.

Ayongezwa Lungisa, woordvoerder van die Lungisa-familie, het gesê die familie het Andile aangeraai om in die tronk te bly tot ʼn uitspraak in die konstitusionele hof gelewer is, en hy het ingestem.

Hy is borgtog van R10 000 toegestaan in sy aanrandingsaak ná hy ʼn DA-raadslid met ʼn glasbeker oor die kop geslaan het. Die voorval het tydens ʼn chaotiese Nelson Mandelabaai-raadsvergadering in Oktober 2016 plaasgevind.

“Ná die uitspraak in die hoogste hof van appèl op 9 September 2020 het die wetsgehoorsame burger, Andile Lungisa, hom op 17 September 2020 vrywillig aan wetstoepassers oorgegee,” lui ʼn verklaring deur die familie.

Andile het aansoek gedoen dat sy borgtog verleng moet word, terwyl hy by die konstitusionele hof aanklop.

“Ná die borgtog toegestaan is, het ons met Andile gesels. Ons het saamgestem dat die borgtog ʼn teken van oorwinning is, maar dat hy vir kulturele oorweging in aanhouding sal bly totdat die konstitusionele hof uitspraak lewer oor sy appèl. Intussen moet hy voldoen aan die opdrag van die hof en korrektiewe dienste.”

Die familie ontken dat die besluit, om Andile in die tronk te hou, gebeur in die lig van uitsprake deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dat Andile die proses wil verleng. “Die wanhopige NVG voer verder aan dat Andile besig is om homself uit sy regstryd om te koop. Ná sy borgtog in die Grahamstad-hooggeregshof toegestaan is, moet die NVG eerder ʼn nuwe storie probeer soek, want hierdie opgemaakte storie het wettig nie enige gronde nie.”

Lungisa het op 17 September by die Noord-Einde-tronk in Port Elizabeth aangemeld om tronkstraf te begin uitdien nadat hy reeds in 2018 aan aanranding skuldig bevind is en tot twee jaar tronkstraf gevonnis is. Lungisa sou tronkstraf begin uitdien nadat die appèlhof in Bloemfontein vroeër die maand sy appèl teen sy skuldigbevinding van die hand gewys het. Hy het toe ʼn aansoek by die konstitusionele hof ingedien en ʼn nuwe borgtogaansoek gebring.

Lungisa het tydens sy verhoor onskuldig gepleit en gesê hy het uit selfverdediging opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Ou zuma het sy kaders mooi geleer hoe om met die siek regstelsel te werk.Die land se regstelsel is net so groot grap as wat die ANC is.

Johanncb ·

Wat ‘n belediging vir ons Regstelsel! Hy baklei om uit die gevangenis te bly, beledig die Regters, laat die Staat al die onkoste aangaan, en nou kies hy om te bly!

Drico ·

Wetsgehoorsaam?!…
Wonder of die geld kraantjie toegedraai is of opgedroog het….

Bertie ·

Stem. Hulle het nie geld vir die borg nie en gebruik nou n swak verskoning.

Persheks Adri ·

Kulturele oorweging regtig? Laat hy sit klaar! Hy kan sommer nog langer sit en Ace sal mos vir hom sorg shame idioot

Mossel ·

Hoe doen jy aansoek om borg en dit word toegestaan as jy reeds skuldig bevind en gevonnis is ? Wetsgehooraam ? In wie se wereld ?

Adeline ·

Definitief nie ‘n groot grap nie, maar wel ‘n verskriklike tragedie wat elke bevolkings lid (onwettige en kriminele uitgesluit) hierdie land getref het. Die voos vrot cANCer is florerend en het orals op elke vlak ingedring en alles is voos vrot bederf selfs die regstelsel wat inmekaar tuimel- daarmee saam ander politieke partye soos die DA wat saam met die cANCer bedmaats is – verseker is dit ‘n ramp en verlies van opbou vir elke wettige landsburger ongeag van ras of kleur.

JohanR ·

Seker die eerste keer dat ‘n kader verkies het om in die tronk aan te bly. Miskien is die kos op ‘n Sondag net te lekker om mis te loop!

Realis Thailand ·

Hy leef seker te lekker in die gevangenis en sal een vn die dae kwalifiseer vir parool

Hennie J ·

Ou windlawaai! Dit is so ooglopend dat hy himself nou opstel as n martelaar.
Aan die anderkant, dalk was sy kennismaking met Pappa net wat hy nodig gehad het en waarna hy smag na meer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.