‘André was my Noordelike Ster’

André Piehl (51) by sy vrou, Sharon. (Foto: Verskaf)

Die driekampatleet André Piehl se vrou, Sharon, beskryf hul lewe saam as die “grootste liefdesverhaal van alle tye”.

’n Gedenkdiens is Woensdag vir Piehl, wat op 29 Januarie op sy fiets doodgery is, by die Gracepoint-kerk in Johannesburg gehou waar Sharon en hul tweelingkinders roerende huldeblyke gelewer het.

Jéan du Preez, wat ook in die voorval beseer is, is glo van sy fietsrymaat se dood in kennis gestel, maar kan niks van die voorval onthou nie.

Piehl se vrou word deur gesinslede en vriende beskryf as “ongelooflik sterk” en iemand wat berge kan versit. So het sy ook haar huldeblyk aan haar lewensmaat van die afgelope 20 jaar met dapperheid aangepak.

“My grootste krag kom van jou af,” het sy gesê terwyl sy na die foto van André op die skerm in die kerk gekyk het.

“Ek het geworstel met wat om te sê en hoe om hulde aan ons kampioen te bring. Nie omdat ek nie woorde gehad het nie, maar omdat woorde nie werklik kragtig genoeg is om André se lewe en impak te beskryf nie.”

Sharon sê sy voel die naaste aan haar man wanneer sy soggens stil in die donker sit en wag vir die son om oor hul droomhuis op te kom. Die gesin woon in die Monaghan Farm-agrilandgoed in Centurion.

“Ek smeek hom om na my toe te kom, om vir my te sê wat om te doen.”

Sy vertel dat hul liefdesverhaal een was waar baie hoofstukke met mekaar oorvleuel het: Prestasie, ervaring, oomblikke, feesvieringe asook hartseer en uitdagings.

Sy het oor André se tekortkominge geskerts en sy smaak in musiek.

Hoewel hy ook glad nie ritme gehad het nie, sê Sharon was een van haar gunstelingdinge om met haar man te dans – wanneer hy haar in sy sterk arms toevou en die dans lei.

“Sien, ek en André was ware eweknieë. Ons het mekaar nooit die ander een se individualiteit ontsê nie. Maar in werklikheid was André my Noordelike Ster. Deur te praat of nie, het hy my gelei.”

Sy sal haar man se liefde vir die lewe onthou, asook die lig wat altyd om hom “deurgebreek” het.

Sharon het ook sy prestasies in sy sport en loopbaan geloof, maar gesê dat sy belangrikste wedloop nog, sy kinders was.

“Die belangrikste hoofstuk in ons liefdesverhaal, was verreweg ons kinders. Niks kan vergelyk word met die trots en vreugde wat hy gevoel het om ʼn pappa te wees nie.”

Jéan du Preez is steeds in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Du Preezs vir altyd in gesin se harte

Sharon het haar geliefdes bedank vir hul onwrikbare ondersteuning, asook Du Preez se vrou, Illinda, vir haar ondersteuning op die ongelukstoneel.

“Terwyl jou man met ʼn helikopter na ʼn hospitaal vervoer is, het jy by my gesit, my hand vasgehou en my getroos. Ons hou Jéan en julle gesin vir altyd in ons harte.”

Du Preez word steeds in ʼn Johannesburgse hospitaal behandel, maar is tans buite gevaar.

ʼn Bron het aan Maroela Media bevestig dat hy steeds dreineringspype in sy longe het en in erge pyn verkeer. Hy is egter wakker en het selfs vyf treë gestap.

Du Preez se geliefdes het vir privaatheid gevra terwyl hy sy lang herstelpad aandurf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wonder net ·

MM, dalk net weer seker maak. Jean is in kennis gestel, hulle het met sy vrou gepraat op Jacaranda, en sy het hom daarvan gese. Hy sou die begrafnis virtueel volg uit sy hospitaal bed saam met sy vrou.

Breakfast with Martin Bester spoke to Ilinda du Preez, wife of Je’an du Preez, to hear how he is currently doing. 

“It’s going better with Je’an. He is still in a critical condition but he is talking. 

“I told him about André, but he still can’t remember everything.”

N ·

Maak mens naar. n Donk bestuurder wat n pa en man vir altyd van sy gesin af wegvat. Hy probeer dan eers van die toneel af vlug daarna om weg te probeer hardloop. Later vrygelaat agv te min bewyse. n Lewe is meer kosbaar as dit. Dink aan sy gesin

madels ·

Ek wonder soms of die polisie nie lekker kry dat die man dood is nie :-(. .. te min bewyse? Absolute nog!!!!

Junior ·

Hoop die verdagte gaan vir jare tronk toe waneer hy skuldig bevind word. Daarna moet ondersoek geloods word na die polisie se optrede

Mariana ·

Ja ek hoop ook so…..as hy skuldig bevind word. Deesdae is ‘n lewe mos niks werd in hierdie land nie.

Mariana ·

My hart gaan uit na Andre se gesin en ook sy vriend. Staan sterk soos hy gestaan het. Sterkte vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.