Andrea Venter-moord: ‘Ek wil hom in die oë kyk as ek dit vir hom gee’

Andrea Venter (Foto: Verskaf)

“Hy kan nou uiteindelik verantwoordelikheid vir sy dade neem.”

Só sê Dries Venter (69), pa van Andrea Venter (25), wat na bewering in 2011 deur haar gewese kêrel, Gerhard Jansen van Vuuren (39), buite haar woonkompleks in Johannesburg doodgesteek is.

Jansen van Vuuren is op die moordtoneel in hegtenis geneem. In Mei 2013, vier dae voordat sy moordverhoor sou begin het, het hy met vervalste reisdokumente uit die land na Brasilië gevlug.

Interpol het ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik waarna die proses om hom op te spoor, bespoedig is. Hy is in Augustus 2013 deur Brasiliaanse owerhede in hegtenis geneem vir die vervalsing van dokumente. Hy is in 2015 vrygelaat nadat hy ʼn vonnis vir die misdaad uitgedien het.

Interpol in Pretoria is al die afgelope paar jaar in verbinding met die Brasiliaanse owerhede om Jansen van Vuuren op te spoor.

Hy is in Junie vanjaar opgespoor en in hegtenis geneem en was sedertdien in ’n gevangenis in Rio de Janeiro aangehou. Hy is oor die naweek na Suid-Afrika uitgelewer.

Jansen van Vuuren het Maandag vlugtig in die hooggeregshof in Johannesburg verskyn en sal na verwagting weer op 6 November in die beskuldigdebank staan.

Venter was Maandag by die hof en sê dit was baie emosioneel. Volgens hom het Jansen van Vuuren tydens die hofsaak soos ’n standbeeld doodstil in die beskuldigdebank gesit en nie eers sy kop gedraai nie.

“Die jare se wonde word weer opnuut oopgekrap. Gelukkig weet ek geregtigheid sal nou na al die jare geskied. En ek weet eendag sal die groot Regter met hom afreken,” sê Venter.

Volgens hierdie hartgebroke pa kon hy die afgelope sewe jaar wat sy dogter se vermeende moordenaar ’n voortvlugtende was, nie vrede in sy hart kry nie.

“Alhoewel ek verlig is dat hy gevang is, sal ek die dag as sy vonnis opgelê word berusting vind.”

Andrea se ma, Annatjie, is in 2016, vyf dae nadat sy 63 jaar oud geword het, dood en dit was ʼn dubbele slag vir Venter. Volgens hom het sy vrou haar dood getreur.

Gerhard Jansen van Vuuren is oor die naweek na Suid-Afrika uitgelewer (Foto: Verskaf)

Venter het ’n brief geskryf en wil dit laat lamineer voor hy dit self aan Jansen van Vuuren wil gee.

“Ek wil hom in die oë kyk as ek dit vir hom gee.”

Andrea en Jansen van Vuuren het mekaar in 2005 by ’n troue ontmoet en het toe ’n liefdesverhouding aangeknoop.

“Aan die begin was hy beskaafd en goedgemanierd. As hy by ons huis kom kuier het, het hy altyd gevra waarmee hy kan help.”

Jansen van Vuuren het later in Engeland gaan werk. Hy het heen en weer tussen Engeland en Suid-Afrika gereis en het gereeld vir Andrea kom kuier.

“In ’n stadium het ons gehoor dat hy weg is by sy werk in Engeland en hy het toe sak en pak teruggekom.”

Dit was na die tweede keer wat hy van Engeland af teruggekeer het, dat hy anders begin optree het, sê Venter

“Dit is tóé dat hy my Andrea begin aanrand het.”

Volgens Venter het sy dogter seker omtrent tien klagtes van aanranding by die polisie in Rustenburg teen hom ingedien en begin 2010 ’n beskermingsbevel teen hom bekom.

Jansen van Vuuren terug in die selle (Foto: Verskaf)

“Volgens die hofbevel mag hy haar nie per telefoon, faks of e-pos gekontak het nie. Hy mag ook nie nader as 50 m aan haar gekom het nie.”

Andrea het nadat sy haar as opgeleide rekenmeester gekwalifiseer het, by ’n ouditeursfirma in Fourways, Johannesburg, gaan werk in ’n poging om van Jansen van Vuuren weg te kom. Sy het toe ook in ’n woonstel in ’n kompleks in Fourways gaan bly.

“Jansen van Vuuren het toe glo 33 ouditeursfirmas in die Johannesburg-omgewing gebel om haar op te spoor. Toe hy die 34ste firma bel, het hy by Andrea uitgekom. Hy het vir haar gesê: ‘Ek het jou nou gekry’.”

Volgens Venter het Jansen van Vuuren die Vrydag by die woonstelkompleks aangekom nadat Andrea van die werk af tuis gekom het.

“Hy het haar heel naweek aangehou, aangerand en vermoedelik verkrag.”

Op 2 Mei 2011 omstreeks 05:30 het kringtelevisiebeeldmateriaal van die veiligheidskompleks waar Andrea gewoon het, gewys hoe sy vanuit die kompleks na die hek probeer vlug en dan van agter af deur ’n persoon met ’n mes aangeval word.

“Sy het na ʼn naweek van hel daarin geslaag om uit sy kloue te kom en het probeer vlug. Hy was te vinnig vir haar. Hy het haar ingehaal en omtrent 12 keer in die rug gesteek. Sy het nog vir so 150 meter vorentoe probeer hardloop. Toe steek hy haar weer twee keer in die skouer en kuit. Laastens het hy haar hoofslagaar in haar nek gesny en daarna die mes in sy eie nek gesteek in ’n poging om selfmoord te pleeg.”

Andrea is op die toneel dood.

“As ek moet sê wat die motief van die moord was, was dit daardie tipiese ingesteldheid van  ‘as ek haar nie kan kry nie, sal niemand nie’.”

Volgens Venter was Andrea die eerste proefbuisbaba in Rustenburg.

“Sy was 12 jaar jonger as haar boetie. Sy was my laatlam. En toe kom neem daardie vark haar van ons af weg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Zandra ·

my hart bloei vir jou hier waar ek sit pappa, en ek kan voel hoeveel hel jy deur gemaak het, mag God jou styf vashou en berusting bring in hierdie tyd
weet net EEN ding God is baas en HY sien alles, betaal sal hy betaal

Danny ·

Hoe vreeslik tragies.. Die regstelsel het hulle ook gefaal vir jare, mag hy nou sy dag kry! Gebede!!

Niklaas ·

Ek hoop sy tyd in die tronk is baie lank. So ‘n mens verdien niks goeds nie. Geregtigheid sal hopelik nou kan seëvier

Genis ·

So onnodig, en weereens agv ons swak regstelsel, of die uitvoer daarvan, het dit haar gevaal… Vrot in die tronk… sies man, kon jy nie net met jou lewe aan gegaan het nie? Jaloesie is n evil… Jaloesie sag geen liefde nie…

Hannelie ·

Die man is siek en verdien nie om so lekker voort te gaan met sy lewe nie. Sluit hom weg en gooi die sleutel baie ver weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.