Andrea Venter-moord: Moontlike struweling voor sy sterf

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Bewyse en getuienis dui daarop dat daar kort voor haar moord moontlik ʼn struweling in Andrea Venter (25) se woonstel in Lonehill, Randburg, was.

Volgens Matthew Watermeyer, ʼn paramedikus, en lt.kol. Helen Mogale, ʼn polisiebeampte wat op 2 Mei 2011 op Venter se moord reageer het, was daar bloed in eenheid 18 in die Sibaya Sands‑veiligheidskompleks waar Venter gewoon het.

Albei het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg getuig dat die toestand van die woonstel op ʼn moontlike fisieke struweling kon dui.

Volgens die getuies het hulle met hul aankoms by die woonstel die buitedeur en veiligheidshek effens oop aangetref. Hulle kon só toegang tot die woonstel kry.

Hulle het in hul afsonderlike getuienis aan die hof gesê binne die woonstel was daar bloedspatsels op die grond en ʼn bloedkol op die bed. Hulle het ook getuig dat bloed en klosse blonde hare in die toilet gevind is.

Watermeyer het ook twee bebloede pleisters – wat op die bedkassie was – gesien. “Die bloed was egter al effens droeër,” het hy getuig.

Die hof het gehoor daar was skade aan die badkamerdeur en dié deur se sleutel het aan die buitekant van die deur in die slot gesit.

Andrea se pa, Dries Venter, het Maandag in die hof getuig dat die polisie Jansen van Vuuren se woonstel in Roodepoort ná die moord deursoek het en ook daar bloed ontdek het. Venter se klere en ʼn badkamersakkie is ook in hierdie woonstel gevind.

Thulani Ndlovu, ʼn sekuriteitsbeampte wat die oggend van die moord by die kompleks aan diens was, het Maandag getuig dat hy gesien het hoe Jansen van Vuuren vir Venter met ʼn mes agternasit en daarna haar keel oopgesny het. Volgens Ndlovu het Jansen van Vuuren daarna dieselfde mes gebruik om sy eie keel oop te sny.

Ndlovu het getuig dat Jansen van Vuuren die mes ook in sy rigting gewys het.

(Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

‘Is sy al dood?’

Watermeyer voer aan met sy aankoms op die toneel was daar reeds ʼn ander paramedikus wat Jansen van Vuuren behandel het. Jansen van Vuuren het volgens getuienis op die grond gelê en sy bebloede nek vasgehou.

Hy het daarna na Venter gegaan, maar sy het volgens hom geen tekens van lewe getoon nie.

“Sy het ʼn diep sny oor haar nek gehad. Ek het haar bloes se knope losgemaak en twee steekwonde op haar bors gesien. Dit was baie ernstige wonde,” het Watermeyer gesê.

Die ander paramedikus het Jansen van Vuuren daarna gehelp. Jansen van Vuuren het volgens die getuienis vir Watermeyer gevra “of sy [Andrea] al dood is?”

“Ek het vir hom gesê sy [Andrea] is dood, waarna hy toe ʼn sug van verligting gegee het. Hy het teruggelê en het sommer rustig gelyk.”

Watermeyer en Mogale het ook aan die hof gesê verskeie items is onder Venter se liggaam gevind. Dit sluit in ʼn vuisyster, motorsleutels, bankkaarte en geld. Volgens Watermeyer was daar ook ʼn swart belt op die toneel. Dit het volgens hom soos ʼn karatebelt gelyk.

Die saak gaan Woensdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Die swaarste straf sal nogte lig wees vir hierdie moordenaar.

Misky ·

Ek kan nie verstaan dat die saak so lank sloer nie. Ek weet hy was lank weg en oorsee weggekruip, maar kom tog tot ‘n einde en almal weet hy is skuldig. Gee die arme Mnr. Venter afsluiting en rus vir sy siel.

Eurika ·

My dogter is 6 jaar gelede vermoor en niks is nog aan die saak gedoen nie

Misky ·

Ek is so bitter jammer om dit te hoor Eurika. My hart bloei vir jou en soveel ander ouers in jou skoene.

KatjieDeKat ·

So hartseer om dit te hoor, Eurika, my innige simpatie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.