Anette Roberts: ‘Dana het die geluk in haar uitgebring’

Anette Roberts en Rudi Nienaber. Foto: Verskaf.

Anette Roberts, verloofde van die bekroonde Afrikaanse skrywer Dana Snyman, is Woensdagmiddag, op Snyman se verjaardag, dood in ʼn vriend se motor in Bloemfontein gevind.

Rudi Nienaber, Roberts se jarelange vriend in wie se motor sy haar vermoedelik vergas het, het aan Maroela Media vertel hy het haar daardie oggend laas lewend gesien.

“Sy het vir my gesê ʼn vriend van haar wil my Golfie skilder en ek het toe sommer vir haar gesê ek sal die oggend na haar toe ry dan drink ons gou koffie dan kan sy my by die werk aflaai en dan het sy die kar by haar,” het Nienaber vertel.

Nienaber het haar twee keer deur die dag in die hande probeer kry, maar nie gedink dis vreemd dat sy nie antwoord nie omdat sy soms lank gevat het om op boodskappe te reageer.

“Teen 16:00 toe ek klaar gewerk het, het ek begin bekommerd raak – sy het nie eens die WhatsApps oopgemaak nie. My broer het my kom haal by die werk en iets intuïtiefs het net ingeskop en ons het na haar huis begin ry. Ons het naby die huis ʼn oproep van haar huisbestuurder ontvang wat gesê het ek moet góú kom.”

Nienaber vertel dat hy haar toe in die motor aangetref het. “Die deur was ʼn bietjie oop, maar ek het haar rustig op haar rug gevind met haar hande op haar bors. Ek het haar uiteraard uit die kar geruk om CPR te doen en haar vitals te voel maar dit was reeds te laat.”

“Sy was ʼn regte gypsey. Sy kon nie stilsit nie – altyd ʼn bok vir sport. Die dag op die foto [bo regs] het sy my gebel en gesê ons gaan gou Checkers toe, toe laai sy my in en ons ry Hertzogville toe vir die dag. Ons het soveel pret gehad en vye gepluk. ʼn Koei het ons selfs gestorm en my hand gelek oor ons naby die vyeboom kom!”

Nienaber vertel Roberts was vir hom ook ʼn ‘ongekunstelde mooi vrou’. “Sy het nie ʼn plooi op haar voorkop gehad nie. Sy was altyd opgewonde om iemand te kan help en sy sou alles in haar vermoë doen om iets vir iemand gerieflik te maak. Sy was ʼn hopeless romantic én ʼn fantastiese sakevrou. Haar kop het so vinnig gewerk, sy kon nie een storie klaar vertel nie, sy het in die middel gestop en eers ʼn ander storie begin vertel.

“Sy het musiek gestudeer en altyd orrel in die kerk gespeel. Daar was probleme, maar Dana het die geluk in haar uitgebring en haar teruggevat na haar roots waarvan sy weggedryf het in die sakewêreld, dis waarvoor sy lief was.”

ʼn Gedenkdiens vir Roberts sal Maandag om 10:00 by Pepper Tree in Bloemfontein gehou word. “My boetie gaan viool speel, sy was altyd crazy vir sy vioolspel. Ek het besef as mense soos engele is dan moet hulle partykeer maar hemel toe gaan.”

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie het aan Maroela Media bevestig die Bayswater-polisie sal ʼn geregtelike ondersoek na haar dood doen. “Die polisie het ʼn nota in die motor aangetref, maar kan nie in dié stadium die inhoud daarvan bekend maak nie omdat dit deel uitmaak van die polisie se ondersoek,” het Marope gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tessa ·

Ek stem saam met jou Rudi! “As mense soos Engele is, moet hulle maar liewer Hemel toe gaan!” Dis beter so ~ die Lewe mors met hulle!

Hartseer ·

We’re all broken to a degree it’s just a matter of finding the one willing to help mend it….

Nie_meer_hartseer ·

Hartseer. You are not broken. You may be hurt, but you are not broken. Mens kan ook nie wag vir iemand anders om jou te help regmaak nie, want daardie “iemand” bestaan dalk nie of het self sy/haar eie probleme. Die regmaak kom van binne jouself af. Jy mag hier wees op aarde, jy mag gelukkig wees, jy mag ook hartseer wees. Jy is nie gebreek nie. As jou eie lewe jou hartseer maak. Gee n tree terug en kyk na die voeltjies en diertjies en die wolke in die lug. Alles gaan weer verby en die son kom elke dag weer op.

LBS ·

Nie-Meer-Hartseer, lieflike woorde en uitkyk op die lewe wat jy het. Ek voel ook so, mens moet maar op die ou end self probeer om van die demone ontslae te raak. Anders moet jy gaan hulp soek. Dit help nie om vir “iemand” te wag nie, maar soms is dit so donker dat hierdie mense nie dit lig (of voëltjies, diere, blommetjies) KAN sien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.