Anette Roberts se pa neem ook eie lewe

Jan Schoeman (77). Foto: Verskaf.

Jan Schoeman (77), die pa van die ontslape Anette Roberts wat vroeër vanjaar selfmoord gepleeg het deur haarself in ʼn vriend se motor te vergas, het ook sy eie lewe geneem.

Roberts was die verloofde van die bekroonde skrywer Dana Snyman.

Lumien Orton, Schoeman se kleindogter en Roberts se dogter, het aan Maroela Media bevestig Schoeman het homself Donderdag by die egpaar se huis in Marlothpark in Mpumalanga vergas.

“My ouma, Debbie (75), en my oupa besit die Boskombuis, ʼn tuisnywerheid en restaurantjie, ook in Marlothpark. My ouma het vir hom gesê sy gaan gou in dorp toe, seker om iets vir die winkel te gaan koop,” het Orton vertel.

Sy verduidelik toe Debbie terug by die winkel kom en Schoeman nie daar was nie, het sy sy selfoon gebel, maar geen antwoord gekry nie. “Sy het toe die tuinier by die huis gebel en hy het vir haar gesê: ‘Oupa slaap in die kar,’” het Orton gesê.

Volgens haar het die voorval omstreeks 13:00 gebeur. “Hy was nog warm toe sy hom gekry het. Dit moes tussen ʼn halfuur en vyftien minute vantevore gebeur het.”

Schoeman was ʼn afgetrede skoolhoof van Namibië.

“Ek weet dit klink snaaks, maar iets wat ek altyd van hom sal onthou, is die manier wat hy altyd katjiebotter-en-stroop-broodjies saam met koffie geëet het. Ek het nooit gedink iemand wat só koffie drink sal so oud word nie. My ma het net so baie koffie gedrink, dit was hulle ding. Sy het op Vadersdag ook eendag op Facebook vir hom geskryf: ‘die manier hoe pa my leer koffie maak het …’” het Orton gesê.

Schoeman word Donderdagoggend om 11:00 uit die NG Kerk in Komatipoort begrawe. Hy word oorleef deur sy vrou Debbie, en twee kinders, Wicus en Jan.

Anette Roberts en Dana Snyman. Foto: Facebook

Schoeman se dogter, Roberts, het in Oktober vanjaar haar eie lewe in ʼn vriend se motor in Lillyvale, Bloemfontein, geneem, net meer as twee maande voordat sy en Snyman op 9 Desember sou getrou het. Maroela Media het vroeër berig ʼn konsert ter herinnering aan Roberts sal nou op 9 Desember op Jacobsbaai in die Wes-Kaap gehou word.

Snyman het die nuus oor dié konsert, wat die Swart Hond-konsert heet, op sosiale media bekend gemaak. “Op 9 Desember hou ons konsert hier op Jacobsbaai. Dit is die dag waarop ek en Anette sou getrou het. Iets goeds moet uit al die verdriet kom,” het Snyman op Facebook geskryf.

Hy sê dié konsert is ʼn projek wat hy in die nuwe jaar wil aanpak wat ten doel sal hê om bewusmaking oor depressie te bewerkstellig. “[Dit is ook] om almal wat iemand deur selfdood verloor het, te help en by te staan. Al die dinge prut nog in my kop. Maar ʼn mens moet iewers begin. So, as jy op 9 Desember kan of wil, kom huil en lag saam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
DS

Ai dis so hartseer. Toe ek my seun in motorongeluk verloor het wou ek ook nie verder lewe nie. Net die wete dat ek soveel hartseer, vir my man, kinders en ander mense wat my lief het, gaan veroorsaak en ook dat my oorlede seun sterk in baie moeilike situasies was het my verhoed om dit te doen. Vandag 3 jaar later is ek dankbaar dat ek dit nie gedoen het nie. Ja die seer is nog steeds daar maar mens leer om daarmee saam te leef. Dink voor jy so iets doen en gaan praat met ‘n professionele persoon… Lees meer »

Jannie

Dis baie hartseer. Alle sterkte vir die familie.

Grace

Dis baie hartseer.

Bertus

Ek gaan oom Schoeman se geselsies baie mis, ‘n groot verlies vir Marloth.
In my oë was hy ‘n wonderlike mens.

Ronel

So hartseer. Sterkte aan die familie. Ons het ook iemand verloor agv selfdood. Die onbeantwoorde vrae en die verwyte van die wat agterbly is die ergste.