Anette Roberts se pa neem ook eie lewe

Jan Schoeman (77). Foto: Verskaf.

Jan Schoeman (77), die pa van die ontslape Anette Roberts wat vroeër vanjaar selfmoord gepleeg het deur haarself in ʼn vriend se motor te vergas, het ook sy eie lewe geneem.

Roberts was die verloofde van die bekroonde skrywer Dana Snyman.

Lumien Orton, Schoeman se kleindogter en Roberts se dogter, het aan Maroela Media bevestig Schoeman het homself Donderdag by die egpaar se huis in Marlothpark in Mpumalanga vergas.

“My ouma, Debbie (75), en my oupa besit die Boskombuis, ʼn tuisnywerheid en restaurantjie, ook in Marlothpark. My ouma het vir hom gesê sy gaan gou in dorp toe, seker om iets vir die winkel te gaan koop,” het Orton vertel.

Sy verduidelik toe Debbie terug by die winkel kom en Schoeman nie daar was nie, het sy sy selfoon gebel, maar geen antwoord gekry nie. “Sy het toe die tuinier by die huis gebel en hy het vir haar gesê: ‘Oupa slaap in die kar,’” het Orton gesê.

Volgens haar het die voorval omstreeks 13:00 gebeur. “Hy was nog warm toe sy hom gekry het. Dit moes tussen ʼn halfuur en vyftien minute vantevore gebeur het.”

Schoeman was ʼn afgetrede skoolhoof van Namibië.

“Ek weet dit klink snaaks, maar iets wat ek altyd van hom sal onthou, is die manier wat hy altyd katjiebotter-en-stroop-broodjies saam met koffie geëet het. Ek het nooit gedink iemand wat só koffie drink sal so oud word nie. My ma het net so baie koffie gedrink, dit was hulle ding. Sy het op Vadersdag ook eendag op Facebook vir hom geskryf: ‘die manier hoe pa my leer koffie maak het …’” het Orton gesê.

Schoeman word Donderdagoggend om 11:00 uit die NG Kerk in Komatipoort begrawe. Hy word oorleef deur sy vrou Debbie, en twee kinders, Wicus en Jan.

Anette Roberts en Dana Snyman. Foto: Facebook

Schoeman se dogter, Roberts, het in Oktober vanjaar haar eie lewe in ʼn vriend se motor in Lillyvale, Bloemfontein, geneem, net meer as twee maande voordat sy en Snyman op 9 Desember sou getrou het. Maroela Media het vroeër berig ʼn konsert ter herinnering aan Roberts sal nou op 9 Desember op Jacobsbaai in die Wes-Kaap gehou word.

Snyman het die nuus oor dié konsert, wat die Swart Hond-konsert heet, op sosiale media bekend gemaak. “Op 9 Desember hou ons konsert hier op Jacobsbaai. Dit is die dag waarop ek en Anette sou getrou het. Iets goeds moet uit al die verdriet kom,” het Snyman op Facebook geskryf.

Hy sê dié konsert is ʼn projek wat hy in die nuwe jaar wil aanpak wat ten doel sal hê om bewusmaking oor depressie te bewerkstellig. “[Dit is ook] om almal wat iemand deur selfdood verloor het, te help en by te staan. Al die dinge prut nog in my kop. Maar ʼn mens moet iewers begin. So, as jy op 9 Desember kan of wil, kom huil en lag saam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

DS ·

Ai dis so hartseer. Toe ek my seun in motorongeluk verloor het wou ek ook nie verder lewe nie. Net die wete dat ek soveel hartseer, vir my man, kinders en ander mense wat my lief het, gaan veroorsaak en ook dat my oorlede seun sterk in baie moeilike situasies was het my verhoed om dit te doen. Vandag 3 jaar later is ek dankbaar dat ek dit nie gedoen het nie. Ja die seer is nog steeds daar maar mens leer om daarmee saam te leef. Dink voor jy so iets doen en gaan praat met ‘n professionele persoon om jou deur die rouproses te kom. Sterkte aan die familie.

Bertus ·

Ek gaan oom Schoeman se geselsies baie mis, ‘n groot verlies vir Marloth.
In my oë was hy ‘n wonderlike mens.

Ronel ·

So hartseer. Sterkte aan die familie. Ons het ook iemand verloor agv selfdood. Die onbeantwoorde vrae en die verwyte van die wat agterbly is die ergste.

Sooooo hartseer ·

Dit is sooooo ongelooflik hartseer veral vir Ouma Debbie wt in 1 jaar 2 x keer by ‘n oop graf moet staan met meer vrae as antwoorde. Sterkte liewe Ouma, mag daar ‘n spesiale kalmte kom, ek dink die hartseer van jul dogter was dalk net te veel.

Lance ·

Oom Jan r.i.v, jy was spesiaal aan baie van ons mense,ons gaan jy mis jou stoel gaan nou vir altyd leeg wees so onnodig so hartseer.Sterkte tannie in hierdie moeilike tyd die Here sal help om die trane af te vee.

Hannelie ·

Ai dis so verskriklik hartseer. Dit is erg vir ‘n ouer om ‘n kind te verloor en nou binne 2 maande moet ouma Debbie weer by ‘n oop graf staan. Baie sterkte aan haar en die familie. Mag God jul vertroos in hierdie hartseertyd.

MY MENING ·

Kan ons nie maar die woord ‘selfdood’ eerder gebruik nie? Ek sien in die begin van die artikel die woord “selfmoord” wat gebruik word. Is dit werklik moord en kan jy dit pleeg? Gaan Afrikaans iewers by ‘n moderne leksikon aanpas?

Selfdood. ·

Dit is al lankal selfdood. Ek sny enige mense uit my lewe wat oordeel oor sulke mense. Dit bly hartseer.

Lance ·

My mening ons wat engels is sukkel om by julle gesofistikeerde afrikaans aan te pas ek was in ń engelse skool en sukkel met die afrikaans,net jammer my vrou is afrikaans sprekend anders het ek jou aanmerking nooit afrikaans gepraat of geskryf nie so geniet jou korrekte taal gebruik ons probeer maar net,kan sien hoekom dit so in die land gaan .groete en geniet jou taal.

Mary Du Plessis ·

Selfde geval hier. Ek is Engels, my man is Afrikaans. Ek word gereeld deur Die TAAL Polisie uitgehaal. In any way, what can you do?
Oom Jan Rus in vrede

Grotman ·

Ek is Afrikaans en ek stem 100% met julle saam. Praat die taal soos julle dit praat en vlieg die ander wat menings gee maar niks weet. Julle Afrikaans is dalk beter as hulle Engels.

Celine ·

Is dit Mnr Schoeman wat by Jan Mohr in Windoek vir ons skool gegee het? Baie hartseer!!

riana ·

Ja baie min mense weet nie van depressive nie hulle dink ons speel daarmee. Ek is ook n depressie mens en het ook al selfmoord prober so weet waardeur gaan die familie. Sterkte

Dalene de Vente ·

Dagsê Riana

Dankie vir jou kommentaar. Indien jy angstig of depressief voel en graag met iemand wil gesels, is jy welkom om SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) te kontak. Hulle het opgeleide beraders wat jou deurgaans kan bystaan. Kontak hulle hier: 011 234 4837 of 0800 20 50 26 of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

Baie sterkte
Dalene
nms Maroela Media

Ena ·

Jinne….simpatiseer mer die mense…moenie afrikaanse lesse en terme veranderinge gee nie. Dis hartseer wat hier plaasvind…

madels ·

My hart is so seer om te lees van die Oom. Dit klink of die pyn van sy dogter se dood net te veel geword het …. dis verskriklik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.