‘Angel’-moordsaak: Beskuldigde te siek vir hof

Nealon Redhouse en Deon Harmse. Foto: ANA

Twee mans wat beskuldig word van die moord op die 12-jarige Aliya “Angel” Tee, was Maandag terug in die hooggeregshof in Port Elizabeth, maar die verhoor kon nie voortgaan nie aangesien een van hulle te siek is.

Tee is in Junie 2016 vermoor toe gewapende mans, wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, op die agterdeur van haar huis in Barberrystraat in Bethelsdorp losgebrand het.

Nealon Redhouse (18) en Deon Harmse (24) is in verband met haar moord en poging tot moord op haar ouers in hegtenis geneem. Die twee mans staan ook tereg op aanklag van huisbraak met die doel om moord te pleeg en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Die saak is in Februarie vanjaar ook uitgestel omdat Harmse ernstig siek was en sy toestand vasgestel moes word. Hy het intussen baie gewig verloor.

Daar is intussen vasgestel dat hy tuberkulose het, het die hof Maandag gehoor. Die hof het ook gehoor dat een van sy longe weens sy swak gesondheid platgeval het.

Staatsaanklaer Mujaahid Sandan het gesê ʼn operasie is vir 16 April vir Harmse geskeduleer. Sandan het die hof versoek om die saak uit te stel tot daar vasgestel kan word hoe lank sy herstelproses gaan duur.

Tee was ʼn graad 7-leerling en prefek aan die Strelitzia Primary School in Port Elizabeth.

Haar pa, Edmund, is geskiet toe hy die aanvallers wou afweer. Nadat die aanvallers hom geskiet het, het hulle glo na ander gesinslede in die huis begin soek. Tee en haar ma, Candice, was in die badkamer toe die aanvallers op hulle afgekom het. Hulle het by die aanvallers gepleit om hulle nie te skiet nie, maar die meisie is in die kop geskiet.

Haar ma het die aanval oorleef. Sy het haar bewussyn verloor tydens die skietery. Sy het later bygekom en besef haar dogter is doodgeskiet.

Die saak is tot 17 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

snoefie ·

hy het tering en het baie gewig verloor. sy het haar lewe verloor. nee! hy het haar lewe geneem.

Muffin ·

Ja Alida dit is waar. Watse operasie moet gedoen word en wie betaal. Ons belastingbetalers.

Veronica ·

Tog eienaardig hoe dikwels beskuldigdes dodelik “siek” word wanneer hul in die hof moet verskyn! Oplossing; gaan voort sonder hulle!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.