‘Angel’-moordsaak: Twee hoor hul lot

Aliya “Angel” Tee. Foto: Verskaf

Twee mans wat beskuldig word van die moord op die 12-jarige Aliya “Angel” Tee, is Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind aan haar moord.

Tee is in Junie 2016 vermoor toe Nealon Redhouse (18) en Deon Harmse (24), wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het, die agterdeur van haar huis in Barberrystraat in Bethelsdorp oopgedwing het. Hulle het Angel op teregstellingswyse doodgeskiet. Haar ouers, Candice en Edmund Tee, is ook tydens die voorval geskiet en vir die dood agtergelaat.

Nealon Redhouse (18) en Deon Harmse (24) is in verband met haar moord en poging tot moord op haar ouers in hegtenis geneem en is Dinsdag deur regter Mandela Makaula daarop skuldig bevind. Die twee is skuldig bevind dat hulle hulself as die polisie voorgedoen het en huisbraak gepleeg het met die doel om moord te pleeg.

Redhouse is ook skuldig bevind vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Makaula het bevind dat Angel se ouers geloofwaardige getuies was wat mekaar geensins weerspreek het nie.

“Hul houding was onberispelik. Hulle het uitstekend gevaar toe hulle die voorval moes herleef, en die trauma waardeur hulle gegaan het, het nie hul vermoëns beïnvloed om te vertel wat daai aand gebeur het nie,” het Makaula gesê.

“Dit is aan my duidelik dat die beskuldigdes gedink het almal was dood toe hulle die huis verlaat het.”

Tee was ʼn graad 7-leerling en prefek aan die Strelitzia Primary School in Port Elizabeth.

Edmund is geskiet toe hy die aanvallers wou afweer. Nadat die aanvallers hom geskiet het, het hulle na ander gesinslede in die huis begin soek. Tee en haar ma was in die badkamer toe die aanvallers op hulle afgekom het. Hulle het by die aanvallers gepleit om hulle nie te skiet nie, maar Angel is in die kop geskiet.

Candice is ook geskiet, maar het die aanval oorleef. Sy het haar bewussyn verloor tydens die skietery. Sy het later bygekom en besef haar dogter is doodgeskiet.

Vonnisverrigtinge sal op 26 Julie begin.

Familielede omhels mekaar by die hof. Foto: ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jakes ·

Natuurlik weer lede van n bende gewees wat geen respek vir die lewe van ander het nie. Waar is die doodstraf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.