Angelina Jolie bepleit vroueregte by AU-raad

AU-voorsitter Nkosaza Dlamini-Zuma en Angelina Jolie Foto: @ermbates op Twitter.

AU-voorsitter Nkosaza Dlamini-Zuma en Angelina Jolie Foto: @ermbates op Twitter.

Angelina Jolie, Hollywood-aktrise en die Verenigde Nasies se ambassadeur vir vlugtelinge, het Vrydag tydens die Afrika-unie-beraad in Johannesburg ʼn beroep op die mans by die kongres gedoen om pogings te verskerp om die verkragting van vroue, veral in konflik-geteisterde dele, te voorkom.

“Ek smeek julle as leiers om aan jul beloftes gestand te doen,” het sy aan die afgevaardigdes by die AU-paneel se gesprek oor vroue, vrede en veiligheid, gesê. “As mans kan julle ʼn groter rol speel deur die oortreders in hegtenis te neem en te vervolg, en fondse beskikbaar te stel vir persone wat seksuele geweld oorleef het en om geweld en diskriminasie in alle vorme uit te roei. Julle kan die leiding neem in hierdie kwessie in Afrika. Daar is geen ander inspirerende rolmodel soos ʼn man wat die regte van vroue beskerm en daarvoor veg nie.”

Die paneel, wat die AU-voorsitter Nkosazana Dlamini-Zuma, Britse politikus William Hague, en die VN-sekretaris-generaal se spesiale verteenwoordiger vir seksuele geweld en konflik Zainab Bangura, het die voorkoms van seksuele geweld teen vroue en meisies in konflikgeteisterde dele bespreek.

“Vroue word nie net deur soldate in konfliksones in Afrika verkrag nie,” het Jolie gesê. “Dit is iets wat regoor die wêreld plaasvind. Meer mense word nou weens oorloë verplaas as ná die Tweede Wêreldoorlog. Meer as 15 miljoen mense is ontwortel weens die konflik en die helfte daarvan is vroue en meisies. Meisies is nie in die skool nie en kwesbaar vir verkragting. Dis duidelik nie ʼn Afrika-probleem nie, maar ʼn wêreldwye probleem.”

Jolie het gesê sy word bemoedig deur Afrika-lande wat maatreëls instel om dit te verhoed. Sy het gesê die Demokratiese Republiek van die Kongo, Somalië en die Ivoorkus het planne om seksuele geweld te verhoed. “Die belangrikste is of hierdie planne ingestel kan word en of dit kan werk,” het sy bygevoeg. “Ek versoek julle om daaraan te dink wat dit sou beteken as hierdie 54 ledestate saamspan vir die regte van vroue – nie net vir hierdie wonderlike kontinent nie, maar vir die hele wêreld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

alex ·

Berhalet ongelukkig is Angelina ook maar ‘n baie vreemde mens.

Ek glo nie iemand neem die mens ernstig op nie.

CHRISTA ·

Waarom het Suid-Afrika een van die HOOGSTE syfers van seksuele geweld in die wêreld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.