Angie Motshekga kap terug na bewerings van korrupsie

Angie Motshekga. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Dinsdag met groot ontsteltenis gereageer op bewerings rakende haar man se kwansuise betrokkenheid by die vervaardiging en verskaffing van sanitêre middels aan skole gedurende die Covid-19-pandemie.

“Die aantygings is absoluut onwaar en heeltemal kwaadwillig,” het die minister Dinsdag in ʼn verklaring verduidelik.

“Dr. Mathole Motshekga … besit of beplan nie om ʼn fabriek te besit wat handreiniger of persoonlike beskermingstoerusting aan skole vervaardig of voorsien nie,” het sy gesê.

Dr. Motshekga is ʼn parlementêre lid asook ʼn professor in wetgewing en politieke wetenskap.

Luidens die verklaring het bewerings oor Motshekga se man onlangs op sosiale media die lig gesien. Dít nadat verskeie ander ministers by bewerings van korrupsie gedurende die Covid-19-pandemie betrek is.

Volgens Motshekga is die bewerings teen haar man nié net ʼn poging om die minister van onderwys met korrupsie te verbind nie, maar ook desperate en vergesogte leuens wat geïgnoreer moet word.

Maroela Media het vroeër berig die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het die afgelope naweek ook teruggekap ná bewerings op sosialemediaplatforms dat hy ʼn fabriek besit wat persoonlike beskermingstoerusting (PPE) vervaardig.

“Ons wil dit uitdruklik stel dat min. Mkhize nie ʼn PPE-vervaardigingsmaatskappy besit nie en dat hy op geen manier betrokke is by die vervaardiging van PPE’s nie.

“In afwagting van enige verdere fopnuus wil ons dit ook onomwonde stel dat niemand in min. Mkhize se familie betrokke is by die vervaardiging, verkoop of verspreiding van persoonlike beskermingstoerusting nie,” het dr. Lwazi Manzi, Mkhize se woordvoerder, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Daar is net eending wat gaan werk vir julle ANC kommuniste en dit is belasting boikot so nie gaan die geplunder nooit stop nie. Cyril gaan dit ook nie stop nie want julle is almal saam in die geplunder. Cyril was adjunk pres toe zuma en die guptas so geplunder het hy het nie n woord gerep nie hoekom gaan hy nou iets se. Die hele lot van julle hoort in die tronk.

Reinier

“Watch this space”…

Anel

Met die ANC, waar daar ‘n rokie is, is daar’ ‘n veldbrand, nie net’ ‘n vuurtjie nie!!!

Mieke

Tipies!! ! Ontken alles, maar ons weet teen hierdie tyd almal hoe die ANC werk!

Pieter

Professor? Kan jy glo, my 8jarige praat ook baie, dus is hy seker ook n professor.