Anglikaanse Kerk verwerp seënbede vir gays

Thabo Cecil Makgoba (Wêreld Ekonomiese Forum, 2012) via Wikimedia Commons

Thabo Cecil Makgoba (Wêreld Ekonomiese Forum, 2012) via Wikimedia Commons

Aartsbiskop Thabo Makgoba, Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, het Saterdag sy diepe teleurstelling uitgespreek oor die kerk se provinsiale sinode se besluit om biskoppe nie toe te laat om “seënbede vir persone in gay-vennootskappe” te bied nie.

Die kerk se provinsiale sinode, wat Anglikane in Angola, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Swaziland en op die eiland St Helena insluit, het Vrydag in Ekurhuleni in Gauteng vergader oor die kwessie van pastorale versorging vir gay en lesbiese persone wat in verhoudings is, het Makgoba in ʼn verklaring gesê.

Die twee mosies voor die sinode wat die grootste aandag getrek het, was eerstens dat biskoppe toegelaat moet word om leraars te lisensieer wat hulself as LGBTI (lesbies, gay, biseksueel, transgender en interseks) identifiseer en wat kragtens Suid-Afrikaanse wetgewing in gay vennootskappe is. Die persone wat dié mosie voor die sinode gebring het, het dit egter teruggetrek nog voor die debat begin het.

Die tweede mosie is dat ʼn biskop “seënbede mag aanbied vir persone in gay verbintenisse”. Dié mosie het egter nie voorgestel dat leraars gays moet kan trou onder die kerk se wet nie.

“Onder die kerkwet het ek die kwessie as ʼn omstrede mosie verklaar,” het Makgoba gesê. “Dit beteken dat, om dit goed te keur, moet daar ʼn meerderheidstem wees in die drie aparte ‘huise’ van die sinode, naamlik die huis van biskoppe, die huis van leraars en die huis van lidmate, waarvan laasgenoemde persone in die kerkbanke verteenwoordig. Indien dit in elkeen van die huise goedgekeur word, sal dit ʼn tweederdemeerderheid benodig vir goedkeuring.”

Die mosie het egter nie in een van die huise ʼn meerderheidstem ontvang nie. Die biskoppe het 16 teenoor 6 teen die mosie gestem, die lidmate 41 teenoor 25 en die leraars 42 teenoor 34 teen die mosie.

“Ons woon in ʼn demokrasie, ons kerk bevorder ten sterkste demokrasie, en mense aan alle kante van die debat moet die uitslag aanvaar. Maar, die debat is nog nie verby nie. Sonder om te probeer om die uiteindelike uitslag te voorspel, of voor te stel wat dit moet wees, is dit noemenswaardig dat ʼn aantal teenstanders van die mosie dit nie onmiddellik verwerp het nie, maar daarop gewys het dat die opinie in ons kerk nog nie gereed is vir só skuif nie.”

Die ondersteuning vir die mosie was beduidend in vergelyking met ander Afrika-provinsies van die Anglikaanse Kerk, waarvan meeste gay verbintenisse ten sterkste teenstaan. Dit is die eerste keer wat die kwessie ernstig gedebatteer is deur die sinode en verteenwoordigers mag dit weer by toekomstige sinodes aanhaal.

“Ek bly vol verwagting dat diegene, aan albei kante van die debat, hul verskille kan oorkom op só manier wat ʼn voorbeeld sal stel vir die res van die Anglikaanse Kerk, wat net so verdeeld is oor die kwessie soos ons,” het Makgoba bygevoeg. “Ek is baie teleurgesteld in die uitslag van die debat. Ek is bly ek het my bril gedra, anders sou die sinode my trane gesien het. Ek wou op enige plek wees buiten die sinodevergadering. Ek wens ek was net rustig by my huis.

“Indien enige van julle, my kerklidmate, in pyn is, dan is ek ook in pyn. Die pyn aan albei kante van die debat in die sinode was tasbaar en niemand het die uitslag gevier of het gejuig daaroor nie. Daar is geen wenners of verloorders in die Koninkryk van God nie en ons erken dat, watter kant toe ons ook al sou stem, sou daar pyn wees.

“Niks wat ek in die afgelope twee dae gehoor het vat enigiets weg van dit wat die biskoppe reeds aan mense van LGBTI-oriëntasie gesê het nie. Julle is almal geliefd deur God en is almal gedoop, julle glo en julle is getrou, ongeag seksuele oriëntasie is julle volledige lidmate van die Liggaam van Christus. Ons maan julle om by ons te bly om julle volle deel te vervul in die beraadslagings wat nog kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.