AngloGold Ashanti wil 2 000 poste sny

Argieffoto: Leandro Neumann Ciuffo van Rio de Janeiro, Brasilië (Mina da passagem) via Markos90, Wikimedia Commons

Die mynmaatskappy, AngloGold Ashanti (AGA), het kennisgewings aan vakbonde uitgereik waarin die maatskappy meld dat hy ongeveer 2 000 werkers op verskillende vlakke gaan aflê.

Riaan Visser, bedryfspesialis by Solidariteit, het bevestig dat die vakbond ook ʼn afleggingskennisgewing ontvang het. Visser het die aankondiging as kommerwekkend bestempel, veral in die lig daarvan dat AGA oor ʼn tydperk van 12 maande sy werksmag deur twee afsonderlike afleggingsprosesse met ongeveer 9 300 poste verminder het.

“Solidariteit gaan nou intensief met die bestuur van AGA in gesprek tree ten einde oplossings te vind om soveel moontlik poste by die mynhuis behoue te laat bly. Solidariteit sal natuurlik verheug wees oor elke pos wat moontlik gered kan word,” het Visser gesê.

“Die artikel 189-proses, soos deur die Wet op Arbeidsverhoudinge uiteengesit, moet egter eers begin, waarna Solidariteit in die beste belang van sy lede sal kan optree. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gaan nou ʼn kommissaris as fasiliteerder aanwys, waarna die proses ʼn aanvang sal neem en meer inligting sodoende beskikbaar raak,” het Visser verduidelik.

Intussen het die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) gesê dié 2 000 werkers wat na verwagting afgelê sal word, beslaan 25% van AGA se werkersmag. Volgens Amcu is daar tans ongeveer 8 200 mense in AGA se diens.

Luidens ʼn verklaring van Amcu is die rede vir die beoogde afleggingsproses ʼn daling in die goudprys sedert 2016, asook “onbeheerbare faktore” soos ertsliggame wat uitgemyn is, myne wat al dieper word, laergraad-gouderts, ʼn toename in die koste van elektrisiteit en arbeid, ʼn afname in produksie en ʼn styging in leningskoste.

Amcu het ook gesê hy sal so spoedig moontlik met AGA in gesprek tree om “ʼn werk-bloedbad” te vermy.

“Ons sal nie toelaat dat ons lede van die bron van hul lewensbestaan beroof word nie weens die suiwere najaag van winste wat bo mense gestel word soos by talle ander maatskappye in die mynbedryf,” het die vakbond in ʼn verklaring gesê. “Ons sal geen steen onaangeroer laat nie om die departement van minerale hulpbronne aan te moedig om nou na die tafel te kom en seker te maak dat die sosio-ekonomiese behoeftes van werkers beskerm word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ekke ·

Ek is ‘n werknemer van AGA. Julle sal nie glo wat hierdie artikel 189 aan die mense doen nie. Die werkshoudings en emosies van die mense is so af want niemand is verseker van hul werk nie.

Vroeër jare was jy altyd veiig as jy op die myn gewerk het, maar vandag is dit net so goed jy werk vir Kontrakteurs. Hulle kan jou vandag inroep en sê hulle kan jou nie bekostig nie en jy moet gaan.

My vraag nou is, by watter maatskappy of werkgewer kan mens vandag verseker wees van jou werk. My pensioen datum is eers 2043, hoe gaan ek verseker wees ek het n werk met goeie pensioen to dan.

Chris Ws ·

“EKKE” Ek simpatiseer met jou.Regtig.Ek het 34 jaar in die myn gewerk en dinge het so’ erg geraak dat ek een dag net 24 uur kennis gegee het en bedank het.Ek was 7 jaar van pensioen ouderdom af.Dit was op LONMIN.Die swakste myn maatskappy waarvoor ek gewerk het.Ek het my pensioen laat uitbetaal ,my skuld als dood gemaak insluitende my huis lening.Nou leef ek net “kontant”.geen skuld.Ek was nog nie een dag spyt ek het geloop nie.Maar jy is baie jonger as ek en dit maak dinge moeilik.My seun sit met die probleem hy werk vir kontrakteurs en is nooit seker van sy werk nie.Hulle hernu sy kontrak net vir 3 maande op ‘n keer.Hys getroud met ‘n seun van 16 so hy sweet bloed.
Cyril Ramaphosa sal moet drastiese stappe neem om die myn maatskappye se toekoms te waarborg.EEn daarvan is om die beoogde Mybouhandves te skrap en dan die unies se tande te trek.Dan myn maatskappy belastings te verminder om sodoende meer oorsese firmas myne hier te laat kom oopmaak.Op die oomblik wil die wat nog hier is hul goed vat en loop die dat daar afleggings is.Probeer ‘n ander werk kry – ek besef dis nie maklik nie.Sterkte

julius ·

Die redes vir die afleggings is reeds gegee. As die staat ophou om in te meng, sal die dinge nie gebeur nie. Waar kan jy ‘n mynwerker R12500 per maand betaal en nog kop bo water hou met al die ander vereiestes? Hoe produktief is die wat so groot salaris eis?

Geen simpatie ·

Dit is die DIREKTE gevolg van SALARIS DEMANDS en ‘n gestakery. Wanneer gaan die werkers dit in hulle koppe kry? ALMAL praat altyd saam oor ‘n ‘leefbare inkomste vir die arme mense’. almal hier op die kommentaarkolomme skreeu altyd omdat die myners nie ‘leefbare lone’ kry nie .. EN NOU?? Gaan julle hulle nou versorg? 2000 mense waarvan baie van hulle gestaak en ander mense weerhou het om te werk net omdat hulle dink hulle is R12500 werd, gaan nou SONDER WERK SIT . is julle nou happy? Ek stel voor dat AL die mense op die kommentaarkolomme wat die betogings ONdERSTEUN het ten gunster van BETER Salarisse vir die MYNWERKeRS dat hulle nou sal vorentoe tree en OF vir die 2000 afgedankte werkers WERK verskaf, of hulle salarisse met hulle deel. Het geen simpatie meer met die afdanking van mynwerkers nie .. VANDAG staak almal en brand voertuie en bring die myn af tot in die grond . en more as hulle hulle werk verloor datn wil hulle WEER hofsake maak .. hofsake of te not . julle gaan sonder werk sit . DINK VOLGENDE KEER VOOR JULLE STAAK.

GM ·

Hoe stel jy werkers bo ‘winste najaag’? Dis ‘n besigheid. Dis hartseer dat so baie mense hul werk gaan verloor, maar almal kan nie net ‘demand’ en dink dat dit nie iewers ‘n effek gaan hê nie. Hopelik kan hul iewers tot ‘n vergelyk kom. En hopelik sien van die vakbonde wat hul veroorsaak deur hul alewige stakings.

Johann ·

Sal geen steen onaangeraak los nie… so hulle gaan klippe, askuus stene, gooi?

En weereens die selfaangewese “verteenwoordigers” wat rol in die vakbond lede se geld.

Blommie ·

JA NEE,
Seker soos volg SNY.
80% WIT,
9% Groen
En 11% ANDER

GM ·

Sterkte Eish, ek hoop jy behou jou werk! Indien nie, mag klomp ander deure vir jou oopgaan.

Reguit ·

Maar net nóg simptoom wat aandui hoe chronies siek Azanië is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.