AngloGold Ashanti wil 2 000 poste sny

Argieffoto: Leandro Neumann Ciuffo van Rio de Janeiro, Brasilië (Mina da passagem) via Markos90, Wikimedia Commons

Die mynmaatskappy, AngloGold Ashanti (AGA), het kennisgewings aan vakbonde uitgereik waarin die maatskappy meld dat hy ongeveer 2 000 werkers op verskillende vlakke gaan aflê.

Riaan Visser, bedryfspesialis by Solidariteit, het bevestig dat die vakbond ook ʼn afleggingskennisgewing ontvang het. Visser het die aankondiging as kommerwekkend bestempel, veral in die lig daarvan dat AGA oor ʼn tydperk van 12 maande sy werksmag deur twee afsonderlike afleggingsprosesse met ongeveer 9 300 poste verminder het.

“Solidariteit gaan nou intensief met die bestuur van AGA in gesprek tree ten einde oplossings te vind om soveel moontlik poste by die mynhuis behoue te laat bly. Solidariteit sal natuurlik verheug wees oor elke pos wat moontlik gered kan word,” het Visser gesê.

“Die artikel 189-proses, soos deur die Wet op Arbeidsverhoudinge uiteengesit, moet egter eers begin, waarna Solidariteit in die beste belang van sy lede sal kan optree. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gaan nou ʼn kommissaris as fasiliteerder aanwys, waarna die proses ʼn aanvang sal neem en meer inligting sodoende beskikbaar raak,” het Visser verduidelik.

Intussen het die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) gesê dié 2 000 werkers wat na verwagting afgelê sal word, beslaan 25% van AGA se werkersmag. Volgens Amcu is daar tans ongeveer 8 200 mense in AGA se diens.

Luidens ʼn verklaring van Amcu is die rede vir die beoogde afleggingsproses ʼn daling in die goudprys sedert 2016, asook “onbeheerbare faktore” soos ertsliggame wat uitgemyn is, myne wat al dieper word, laergraad-gouderts, ʼn toename in die koste van elektrisiteit en arbeid, ʼn afname in produksie en ʼn styging in leningskoste.

Amcu het ook gesê hy sal so spoedig moontlik met AGA in gesprek tree om “ʼn werk-bloedbad” te vermy.

“Ons sal nie toelaat dat ons lede van die bron van hul lewensbestaan beroof word nie weens die suiwere najaag van winste wat bo mense gestel word soos by talle ander maatskappye in die mynbedryf,” het die vakbond in ʼn verklaring gesê. “Ons sal geen steen onaangeroer laat nie om die departement van minerale hulpbronne aan te moedig om nou na die tafel te kom en seker te maak dat die sosio-ekonomiese behoeftes van werkers beskerm word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ekke

Ek is ‘n werknemer van AGA. Julle sal nie glo wat hierdie artikel 189 aan die mense doen nie. Die werkshoudings en emosies van die mense is so af want niemand is verseker van hul werk nie. Vroeër jare was jy altyd veiig as jy op die myn gewerk het, maar vandag is dit net so goed jy werk vir Kontrakteurs. Hulle kan jou vandag inroep en sê hulle kan jou nie bekostig nie en jy moet gaan. My vraag nou is, by watter maatskappy of werkgewer kan mens vandag verseker wees van jou werk. My pensioen datum is eers… Lees meer »

julius

Die redes vir die afleggings is reeds gegee. As die staat ophou om in te meng, sal die dinge nie gebeur nie. Waar kan jy ‘n mynwerker R12500 per maand betaal en nog kop bo water hou met al die ander vereiestes? Hoe produktief is die wat so groot salaris eis?

Geen simpatie

Dit is die DIREKTE gevolg van SALARIS DEMANDS en ‘n gestakery. Wanneer gaan die werkers dit in hulle koppe kry? ALMAL praat altyd saam oor ‘n ‘leefbare inkomste vir die arme mense’. almal hier op die kommentaarkolomme skreeu altyd omdat die myners nie ‘leefbare lone’ kry nie .. EN NOU?? Gaan julle hulle nou versorg? 2000 mense waarvan baie van hulle gestaak en ander mense weerhou het om te werk net omdat hulle dink hulle is R12500 werd, gaan nou SONDER WERK SIT . is julle nou happy? Ek stel voor dat AL die mense op die kommentaarkolomme wat die… Lees meer »

GM

Hoe stel jy werkers bo ‘winste najaag’? Dis ‘n besigheid. Dis hartseer dat so baie mense hul werk gaan verloor, maar almal kan nie net ‘demand’ en dink dat dit nie iewers ‘n effek gaan hê nie. Hopelik kan hul iewers tot ‘n vergelyk kom. En hopelik sien van die vakbonde wat hul veroorsaak deur hul alewige stakings.

Johann

Sal geen steen onaangeraak los nie… so hulle gaan klippe, askuus stene, gooi?

En weereens die selfaangewese “verteenwoordigers” wat rol in die vakbond lede se geld.