Angsverhaal van jong vrou wat by gewilde nagklub verdwyn

Margaretha Johanna Compaan. Foto: Verskaf

Margaretha Johanna Compaan. Foto: Verskaf

Wat veronderstel was om ʼn lekker aandjie uit te wees saam met haar verloofde, het in ʼn oogwink vir Margaretha Johanna Compaan (29) in nagmerrie ontaard toe sy by ʼn gewilde nagklub in Boksburg glo bedwelm en ontvoer is.

‘n Familielid van Compaan het Woensdag haar angsverhaal, wat klink soos die storielyn van ʼn rillerfliek, met Maroela Media gedeel.

Compaan is ʼn inwoner van in Impalapark in Boksburg, Gauteng.

“Sy en haar verloofde, Trevor Godsmark, is Saterdagaand na Presley’s waar hulle gereeld gaan dans en kuier,” het die familielid gesê. “Net voor middernag het sy vir Trevor gesê sy voel nie lekker nie en is na die badkamer. Toe sy ná sowat 10 minute nie teruggekeer het nie, het Trevor gaan ondersoek instel en kon haar nie kry nie. Nadat hy begin rondvra het, het iemand gesê sy is daar weg saam met ʼn man in ʼn bakkie.”

ʼn Bekommerde Godsmark het dadelik rond gebel om te hoor of sy by die huis is, voordat hy self daarheen gery het. Haar familie het Sondag in die vroeë oggendure al Compaan se vriende tevergeefs gebel om te hoor of iemand weet waar sy is.

Haar gesin het Sondag by die Boksburg-GPF gaan aanklop om hulp en haar inligting en foto’s is wyd op sosiale media versprei.

“Die manier waarop die gemeenskap gereageer het was wonderlik om te ervaar. Dit het ons baie bygestaan in ʼn moeilike tyd om te weet daar is so baie mense wat omgee en help om na my dogter te soek.”

Lede van die GPF en Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het hulle kort daarna gebel en gereël dat ʼn vermiste persoon saak by die Boksburg-Noord-polisiestasie aanhangig gemaak word.

“Die GPF het inligting na omliggende GPF’s versprei en almal het die hele Sondag, tot laataand, rondgery en help soek. Ons was rasend van bekommernis. Haar handsak en beursie was alles in Trevor se kar. Sy sou nooit op haar eie sonder dit êrens heengaan nie. Sy sal ook nooit vir Trevor net by ʼn plek los nie.”

Compaan het Maandag omstreeks 12:00 ʼn baie kort oproep na haar verloofde gemaak en benoud gesê sy is in ʼn klein kamertjie toegesluit en weet nie waar sy is nie. Daarna het haar foon doodgegaan.

ʼn Speurder kon in daardie stadium ʼn sein van haar selfoon opspoor en bepaal sy is in die Pomona-kleinhoewe-gebied. Die polisie en GPF het hulle dadelik na die omgewing gehaas.

“Sy kon intussen daarin slaag om deur ʼn klein venstertjie uit die kamer te ontsnap. Sy was baie verward en gedisoriënteerd. Sy het sowat 3 km in ʼn draai geloop voordat sy by ʼn nabygeleë lodge uitgekom het en met die hulp van ʼn veiligheidswag hulp ontbied het. Die wag het die bestuurder gaan roep.”

Terwyl die wag weg is, het Compaan in die veld gaan wegkruip uit vrees dat die man wat haar ontvoer het, haar sou sien. Die bestuurder het haar daar in ʼn swak toestand gevind en die polisie ontbied.

Compaan het aan die polisie gesê al wat sy kan onthou was dat sy badkamer toe gegaan het en later in die vreemde kamertjie wakker geword het. Sy was onder die indruk dit was nog Sondag. Sy kan niks anders onthou nie.

Sy het kneusplekke oor haar lyf, asook ʼn sny aan haar kop opgedoen en haar gesig was geswel. Sy was ook gedehidreer en moeg.

Compaan is na ʼn hospitaal geneem waar sy mediese behandeling ontvang het. Toetse is ook gedoen om te bepaal of sy moontlik seksueel aangerand is en sy is as voorsorgmaatreël antiretrovirale medisyne gegee. Die uitslag van die toetse is nog nie bekend nie.

Daar word vermoed dat haar ontvoerder ʼn onbekende middel in haar drankie gegooi het.

Die polisie ondersoek nou ʼn saak van ontvoering.

“Ons is baie dankbaar dat sy terug is by die huis. Dit gaan vandag beter met haar, maar sy is nog emosioneel en het met berading begin. Sy sê sy is bly om te lewe en dat sy daarin kon slaag om te ontsnap voordat iets erger kon gebeur,” het die familielid bygevoeg.

Die familie het hul dank betuig teenoor al die GPF-lede wat hulle in die moeilike tyd bygestaan het. Hulle het in besonder die Pink Ladies, Boksburg-GPF, die privaatspeurder Hennie Els, asook Presleys se eienaar, bedank daarvoor dat hulle uit hul pad gegaan het om hulle te ondersteun en na haar dogter te soek.

Die familie hoop dat die man gou vasgetrek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Eliza-beth ·

Ek lees so baie van die Pink Ladies – ek wil graag hiermee hulle bedank en gelukwens met wat hulle elke keer doen om mense te help opspoor. Dalk kan Maroela somemr net bietjei ‘n hele berig plaas oor die hoe en waar hul ontstaan het – sommer net vir interessantheid. Ek dink hul veriig ‘n wonderlike diens aan die gemeenskap. Ek hoop me Compaan herstel ten volle na wat met haar gebeur het.

pop ·

Nou is ek stom. Arme mens sal nooit weet wat alles met haar aangevang is nie. Dalk ook maar beter vir haar om dit nie bewustelik te moes meemaak nie. Kneusplekke aan haar lyf vertel n eie storie. Behoort nie te moeilik te wees om die skuldige op te spoor nie. Dis of in die kroeg waar die drankies vandaan kom< of iemand wat by hulle tafel was gedoen.

tinkerbell ·

My vriendin het dieselfde oorgekom. Ons het alleen by tafel gesit. Drankies self gekoop….. kon dit net by kroeg ingekry het. Gelukkig was ek nugter en sy het besef sy voel nie lekker. Ons het nie eers baie gedrink nie. Ek het saam haar badkamer toe gegaan. Selfs tot binne cubicle. Ons het verder gedans en net coke gedrink res van aand Dank die Here ons altwee is op eie stoom daar uit

sharmain holtzhausen ·

kry video opnames by Presleys en sit die vark se gesig op Facebook.

ladybug ·

en ek hoop die polisie gaan stel verder ondersoek in na die plek waaar sy aangehou is …

Ratatouille ·

Ratatouille ruik ek ook!
Sy het haar handsak & beursie in haar verloofde se kar gelos, hoe dan dat sy haar selfoon by haar gehad het, en dat die foon nie van haar af weggevat isnie?

Karen ·

Ek ruik nie noodwendig enige iets nie, maar daar is vrae soos Ratatouille tereg gesê het. Kyk ek verstaan sy kon met haar cell badkamer toegegaan het, maar sou die persoon nie dit weggevat het nie….? Aan die anderkant dalk het sy dit in haar broeksak gehad en die persoon het dit nie gesien nie, want mens weet ook nie op watter staduim is sy ontvoer nie…..bv oppad na die badkamer, ens. Nietemin ek wens haar en haar familie alle sterkte toe en mag die skuldige aan die pen ry!!

PURE BOER ·

Ha verloofde moes haar prober bel het. Die “Ontvoerder” sou sekker die selfoon hoor lui het. Slang in die gras.

Muis ·

Ja nee kyk net daai word PRESLEYS laat koue rillings oor my gaan.
Ek en my man was self al bedwelm daar en het dadelik huis toe gegaan, kon skaars die huis haal van elke 5minute stop en siek word, en dit van een shooter, van vroeg aand het nog nie eens iets te drinke gehad nie.
Was ‘n hele 3 dae hond siek en kon skaars loop
Daai plek is GIF!!!!

Theresa ·

Dankie Mev Verwey dat jy so kop gehou het en vining opgetree het. Ook dat jy die media ingelig het. Dit gebeur al hoe meer dat mense by kuierplekke iets ingegee word en later niks kan onthou nie. Dit blyk asof daar in elke plek (ordentlik of nie) spy cams aangebring moet word. Is dit nie aaklig om te dink dat mens nie eers met gemoedsrus meer kan uitgaan na ‘n plek en jouself net gaan geniet nie?? Ongelukkig ‘n besliste waarheid dat daar nou oral, heeltyd onwelkome mense rond is wat slegs belangstel om ander kwaad aan te doen.
SO bly die dametjie is wel betyds gevind.

LOLLOS ·

Sal graag wil weet waar in Pomona sy gekry is, en wonder ook of die polisie dan die plek dophou vir ingeval nog iemand soontoe ontvoer word. Dit moet tog iemand se plek wees.

Petro ·

In enige nagklub is daar maar sulke riller stories dis nie net presleys nie en die beste is om maar altyd meer as een saam te gaan orals ons het n ou geken wat in presleys ook gedrug was en hys weggeneem waar ander mans hom verkrag het maar ek maak nie presleys sleg nie onthou jy ken die mense saam wie jy is nie die wagte by die deur nie so as jy “gedrug” is kan hul dalk net se jys dronk hul vat jou huistoe wie gaan weet hul vra mos nie vir jou om applikasie vorms in te vul voor jy inkom nie so mense dit gebeur enige plek kyk hoe word mense aangeval as hul by hul huise braai.Die meisie is baie gelukkig dat sy lewe maar ek wens haar n spoedige herstel toe.

CP ·

Hehe – Johan, daar is darem ‘n verlore punt!
Goed om te weet daar is nog mense wat so oplet.

Tish ·

Dit kan wees dat hy klaar als gedoen het aan haar wat hy wou en maandag haar selfoon by haar gelos het met die hoop dat sy sal bel en uitkom.

Tish ·

Dit kan wees dat hy klaar als gedoen het aan haar wat hy wou en maandag haar selfoon by haar gelos het met die hoop dat sy sal bel en uitkom.

Stellie ·

I dont know julle.
Die storie maak nie baie sin nie. Ek is bly sy is okay though.
Ken Presleys nogal goed en dit is nie juis gif nie. Dit is maar soos enige ander kuier plek.
As iemand n persoon wil bedwelm sal hulle dit enige plek doen,
Voel net dat n ontvoerder dadelik n foon sou wegvat.

Cornelia ·

Sjoe. Bly sy is ok. Kon sy nou nie maar die poliesie na die kamerkie toe gevat het waar sy aangehou was nie. Dit moet tog aan iemand behoort. As hulle weet dat sy +-3km in n draai geloop het.

danielmclion ·

Het al die be rig wel begree, maar wat is die GPF? Dankie vir uitleg en groet uit Oostende, Belgie. :)

neelsie ·

Danielmclion,
GPF staan vir ; gemeenskap- polisie forum.
Word bedryf deur plaaslike vrywilligers.
Hulle staan die polisie by en doen wonderlike werk.
Groete.

neelsie ·

Dankie sy is veilig.
Leer asb uit die ervaring!
Bly weg by sulke vieslike plekke , kuier in n groep as dit moet.

Lizl ·

Nare waarheid is dat mens nie meer na nagklubs kan gaan nie. Ek weet ek klink soos n party pooper , maar dop by die huis is veliger , en as jy omval is jy naby die bed !

Elfie ·

Nee Lisl jy is geen party pooper maar jou kop is reg aangeskroef. Om tuis te bly is goedkoper, jy hoef nie bekommerd te wees oor drink and drive en jy hoef ook nie te wonder of jy veilig daar gaan wees nie.

Nietemin ·

Ek sekondeer ek kuier liewers tuis op daardie manier kan ek maar in die kooi gaan klim wanneer ek wil dis baie veiliger – ek probeer my kinders ook leer om maar liewer as ‘n groep te kuier by die huis – maak ‘n krismis bed en jy weet daai kinders gaan nerens voor hulle nugter is die volgende oggend nie!

Pumba ·

Joh, Dit is nogals erg. Ek is bly sy is veilig
Julle ek is self een van die wagte by Presleys Pretoria. elke naweek kry ek gereeld meisies wat vermoed dat hulle vriendinne “gedrug” is. Maar na verdere ondersoek het ek nog altyd bevind dat hulle net “dronk” is. Ek het nog net twee maal ervaar dat die persoon werklik “gedrug” is. Eerste stap vir ons is altyd om die meisie se vriende op te spoor. Ons herken baie maal groepe mense wat inkom. En dan seker te maak dat sy hulle herken voordat sy in ‘n motor saam met hulle klim.
Ek wil graag advies hier gee vir wat dit werd is

Hier is ‘n paar simptome om voor uit te kyk NB* Dit geld net as jy self weet dat jy slegs een drankie gehad het en jy nie die hele aand lank 15 doppe en 20 shooters by die freebar gedrink het nie!

* Jy voel dizzy en flouerig (Asof jou ooglede nie kan oopbly nie)
* Jy voel baie naar
* Jy voel deurmekaar en sukkel om normaal te praat (woorde slurr)
* Jy sukkel om regop te bly, het geen balans nie en geen krag in jou arms of bene nie (kan aandui dat iemand jou met Rohypnol (rufies) gespike het

Mense, laat altyd die bouncer by die deur weet asseblief! Ons het kommunikasie met mekaar en kan baie vinnig help waar nodig.
Ek hoop hierdie het gehelp!

L ·

Hi daar !

Wil net se as jy by Presley’s gaan kuier gaan saam baie mense moet nooit alleen loop nie ens. Vriendin van my was laasweek daar gespike maar haar kêrel was gellukig daar en het haar huistoe geneem. Uit kennis bly ook weg van drankies soos coke en iets donkers baie ‘spike’ middels kan maklik in donker kleurige drankies soos bv. Coke gegooi word want dit is donker stowwe wat nie raakgesien kan word nie.

Polisie sal verdere ondersoek moet intstel by Presley’s aangesien daar al n paar gevalle was

tash ·

Wow. Hoendervleis. Dit kan by ENIGE kuier plek gebeur. Sterkte aan die dame. Hoop sy herstel gou. Dankie aan die Presleys wag, Pumba, wat bereid is om te help en ander te se waarvoor om uit te kyk. Ons kort mense soos jy!

annoniem ·

My dogter was oujaar by Presleys en iemand het ook iets in haar drankie gegooi. Sy het dit gelukkig agtergekom en is badkamer toe waar sy haar vinger in haar keel gedruk het…. dit het haar gered. Sy is toe dadelik na haar woonstel toe.

stem saam ·

Ek stem Presleys is GIF!!! Ek en my vrou (toe nog net gedate) is een aand ook gespike. Maar waar die verskil in kom is ons het die Free Bar gevat. Ons het elkeen een drankie gevat en dit nie eers half gedrink toe ons n shooter drink. Dit is waar alles begin het. Ons was nie eers n uur daar nie en het altwee gevoel iets is nie reg nie. Ons het in die kar geklim en opad huistoe seker 7 keer langs die pad gestop so siek soos n hond geraak. Het eers die Maandag amper weer soos mens gevoel. My punt is ons het die glase nie eers neergesit nie en ons was gespike. Al plek waar dit kon gebeur het is by die bar waar ons dit gekry het. So ja iets is nie lekker daar nie. En om eerlik te se dit sal nice wees as hulle so nou en dan ondersoek word. Ons is nie die enigste wat dit oorgekom het nie. Daar is n groot slang in die gras. Hoop nou dat daar iets drasties gedoen word oor al die clubs waar hierdie dinge gebeur. Van daai aand nie weer ons voete in daai plek gesit nie.

vic ·

Hoekom het die kerel haar nie op haar selfoon geskakel nie, sy het mos die ding by haar gehad, Was haar foon af, of het sy nie geantwoord nie. Sy het tog later self van haar foon af gebel en gese dat sy in n kamertjie toegesluit is. Sy is by die klub weg saam met n man in n bakkie maar iemand moes tog gesien het iets is nie pluis nie, sy kon dalk nie lekker loop nie of is sy gedra tot by die bakkie. Die twee se hulle kuier gereeld daar, so hulle ken seker baie ander mense wat ook gereeld daar kom. My ondervinding uit my kuier dae is dat mens gou-gou almal leer ken by so plek, veral as jy gereeld daar kom, die moeilikheid makers die nice mense, ooriges, dronkgatte ens, almal weet van mekaar. Het niemand dan iets gesien of vermoed nie. Ek wonder maar net.

Vic ·

En niemand het opgemerk dat die dame uit die klub uit gehelp word of gedra is nie. Hulle kuier gereeld daar, dan ken hulle mos baie ander regulars en anders om. Hoekom het die kerel haar nie op haar selfoon geskakel toe hy agterkom sy is weg nie, maar sy kon hom later self bel. Twak

Vic ·

Aangesien die dame en haar verloofde GEREELD daar kuier behoort hulle baie ander regulars te ken. My ondervinding uit my kuier dae, meeste mense ken mekaar, nie op voornaam nie, maar agv die lekker atmosfeer wat heers weet almal van mekaar. Jy weet wie is die moeilikheid makers, dronkies, ooriges, nice mense ens. Die uitsmyters en kroeg personeel ken gewoonlik ook die regulars, en so mooi vrou word onthou, altyd. SO niemand het opgemerk dat die dame na n bakkie toe gehelp is nie, of dalk gedra is nie. Ek meen sy is mos nou gedrug, en volgens die wag se komentaar is jy lam en sukkel om te loop en jy kan skaars praat. Ek wonder by watter deur is die slagoffer en haar ontvoerder uit. Het haar verloofde haar nie op haar selfoon gebel toe hy agterkom sy is weg nie,sy het tog die foon by haar gehad. As hy wel gebel het was die foon dalk af of het dit net bly lui. Maar sy het wel Maandag n oproep na haar verloofde gemaak.

Amanda Terblanche ·

I rest my case!!!! Ek weet nie hoekom gaan ons jongmense na die plekke toe nie!?!?!?!?!?

Ben ·

Die laaste keer wat ons by Presleys was, is die water wat hulle die glase mee uitspoel, gespike met spirits. My vrou het 2 drankies gehad, toe word haar tong dik. Sy slaan toe oor coke toe, toe proe ek of dit skoon is. Dit was ene spirits. So ja. Enige iets kan daar gebeur!

Knersus D ·

Ek dink die ondersoek met by haar verloofde begin….Partykeer word vrouens “uitgehuur” . Die keer het die “klant” haar aangerand dalk omdat die “diens” nie na sy liking was nie of dalk was die “aanranding ” deel van die S&M pakket?

Sinest ·

Ek kan dit nie glo nie!!! , maar ek is net dankbaar dat sy veilig terug is by haar familie en verloofde.
Sterkte voorentoe, ons bid saam dat jy gou beter sal word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.