Angus-sage: EFF-man trek kleefmyn-stelling terug

Die sekretaris-generaal van die EFF, Godrich Gardee. (Foto: Ben Curtis/AP)

Godrich Gardee, sekretaris-generaal van die EFF, het Woensdag gesê hy trek sy vroeëre stelling terug dat kleefmyne by die Loftus Versfeld-stadion geplant moet word voor ʼn gebedsaamtrek van die evangelis Angus Buchan.

Gardee het uitgevaar nadat Buchan, bekend vir sy Christelike saamtrekke, gesê het slegs twee nasies het ʼn verbond met God. In ʼn video wat die EFF-LP Floyd Shivambu rondgestuur het, kan gehoor word hoe Buchan sê dat daar “onthou moet word dat slegs twee nasies ter wêreld ʼn verbond met die God van Abraham, Isak en Jakob het. Dit is Joodse mense en Afrikaanse mense”.

In die video het Buchan die “Staan op vir Jesus”-geleentheid, wat op 1 Februarie aanstaande jaar by die stadion gehou word, bemark.

(Skermgreep: Twitter)

Gardee het daarna op Twitter gesê myne moet rondom Loftus geplant word om te “sien wat dan gebeur met die enigste mense wat ʼn verbond met God het”. Hy het ook gesê hy is seker dat Buchan Jode verkeerd uitbeeld.

(Skermgreep: Facebook)

Buchan het intussen in ʼn Facebook-plasing om verskoning gevra vir dié uitlating. “Om te sê dat net Joodse en Afrikaanse mense ʼn verbond met God het, is heeltemal verkeerd en vir daardie stelling vra ek nederig om verskoning.”

Hy het gesê enigeen wat sy lewe aan Jesus Christus gee gaan inderwaarheid ʼn nuwe verbond met God aan.

“In al my jare as ʼn dienaar van die Here Jesus Christus was dit nog nooit, ooit my bedoeling om enige man, vrou, of kind leed aan te doen of verdeeldheid tussen enige ras, mense of geloof in ons pragtige land, Suid-Afrika, te saai nie.

“As my stelling tot enige verdeeldheid gelei het, vra ek om verskoning,” het Buchan geskryf.

Gardee het in reaksie op dié verskoning gesê rassistiese optrede moet hewig teengestaan word en dat dit ʼn dreigement gekos het om Buchan tot sy sinne te bring. “Dit is waaraan ons onderwerp word … saai rasse-onmin en vra dan om verskoning as jy voor stok gekry word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.