Anika-saak: DOV moet nou besluit

André van Wyk vroeër in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), die man wat homself aan die polisie oorgegee het in verband met die opspraakwekkende grumoord op Anika Smit (17) in 2010, het Vrydag in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn.

Die hof het gehoor die verslae oor sy sielkundige evaluasie is gereed en dat dit aan die direkteur van openbare vervolging oorhandig sal word om ’n finale besluit oor Van Wyk se vervolging te neem. Die saak is tot 30 Augustus uitgestel.

Van Wyk was weer in dieselfde beige pak in die beskuldigdebank as tydens sy vorige verskynings. Sy ouers was ook weer in die hof.

Landdros Pierre Wessels het tydens Van Wyk se vorige verskyning beveel dat albei sielkundiges se verslae teen vandag se hofverskyning gereed moet wees.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het destyds aan Maroela Media gesê die staat het ʼn aansoek gebring dat Van Wyk ook deur ʼn sielkundige ondersoek moet word. Hy het die sielkundige evaluasie by die Kgosi Mampuru II-gevangenis ondergaan, anders as die psigiatriese waarneming wat hy in Oktober verlede jaar by die Weskoppies-hospitaal moes ondergaan.

Daar is tydens dié psigiatriese waarneming bevind hy is geskik om verhoor te word.

Nieuwenhuys het gesê op aandrang van Van Wyk se ouers sou hulle ook ʼn privaat sielkundige aanstel om hom te ondersoek.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het homself op 17 September verlede jaar aan die polisie oorgegee en aanvanklik skuld beken, maar later aangevoer hy was kort voordat hy homself aan die polisie oorgegee het besope, en is gedreig om verantwoordelikheid vir Anika se moord te neem.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lou ·

Wat sou mens te kenne gee met die feit dat hy dieselfde pak klere aan het as met sy vorige verskyning? Miskien dat hy net een pak klere het? Ek het glad nie meer ‘n pak klere nie.

Justice ·

Klink vir my asof daar moontlik geen DNA toetse gedoen is wat Van Wyk kan koppel aan die saak nie.

alida ·

Dit is 7 jaar later en nog geen uitspraak nie !!!!! Hy het homself oorgegee wat is die vertraging?

Mariette ·

Want hy ontken dit nou. Se hy was onder die invloed en gedare om dit te se

Eish ·

Sjoe, n paar jong manne wat waaragtig wrede moorde pleeg. Die seun, dan is daar die seun wat reeds toegesluit is wat sy hele familie op die plaas vermoor het n paar jaar gelede, dan nog die verhoor van die Breda seun. Groot kortsluitings!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.