Anika-saak: Jong vrou in sop oor sosiale media-plasing

Sarah Huyser. Foto: Facebook

Sarah Huyser (25), ʼn inwoner van Pretoria-Noord, het Vrydag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat sy glo tydens die opspraakwekkende geregtelike ondersoek na die moord op Anika Smit, ʼn hofbevel verontagsaam het.

Huyser het glo in September 2015 die Pretoria-Noord-landdroshof se bevel verontagsaam deur een van die belanghebbendes in die geregtelike ondersoek, Damian Treeby (26), se naam op sosiale media bekend te maak.

Die hof het in 2015 die geregtelike ondersoek begin om te bepaal of iemand aanspreeklik gehou kan word vir Anika se dood. ʼn Groep belanghebbendes is tydens die ondersoek geïdentifiseer, naamlik Anika se pa, Johan, haar gewese kêrel, Nico Venter, en Damian Treeby, ʼn skoolmaat van Anika.

Landdros Pierre Wessels het destyds beslis dat Treeby nie geïdentifiseer mag word nie, want dit kon sy lewe in gevaar stel en die ondersoek benadeel.

Huyser het egter glo vir Treeby op Facebook geïdentifiseer. “Haar plasing het my kliënt se lewe verwoes,” het adv. Corrie Nieuwenhuys, Treeby se regsverteenwoordiger, buite die hof aan die media gesê.

Huyser het in swart klere in die beskuldigdebank gestaan. Die staat het gesê sy word van crimen injuria asook minagting van die hof aangekla.

Huyser is die opsie gegee om haarself te verteenwoordig, haar eie prokureur aan te stel of om vir regshulp aansoek te doen. Sy het versoek om ʼn regshulpprokureur te kry.

Wessels het die saak tot 18 Augustus uitgestel om Huyser tyd te gun om vir regshulp aansoek te doen. Sy is op waarskuwing vrygelaat en moet op die dag om 09:00 by die hof wees.

Huyser het geweier om ná die verrigtinge met die media te praat.

Maroela het verneem sy was in dieselfde graad as Treeby in die Hoërskool Gerrit Maritz. Hulle was nie vriende nie. Anika was ook in die skool toe sy in 2010 wreed vermoor is.

Die geregtelike ondersoek is in September 2016 onbepaald uitgestel nadat André van Wyk (24) homself aan die polisie oorgegee het vir Anika se moord.

Lees vorige berigte van Anika Smit op Maroela Media.

Damian Treeby vroeër toe die geretelike ondersoek onbepaald uitgestel is. Foto: Phillip Bruwer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.