Anika-saak: Jong vrou sê jammer oor sosialemediaplasing

Sarah Huyser in die hof (30 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

Sarah Huyser (25), ʼn inwoner van Pretoria-Noord, het Woensdag in die plaaslike landdroshof om verskoning gevra nadat sy tydens die geregtelike ondersoek na die moord op Anika Smit ʼn hofbevel verontagsaam het deur ʼn sosialemediaplasing.

Maroela Media het vroeër berig Huyser het in September 2015 die Pretoria-Noord-landdroshof se bevel verontagsaam deur een van die belanghebbendes in die geregtelike ondersoek, Damian Treeby (26), se naam op sosiale media bekend te maak.

Die hof het in 2015 die geregtelike ondersoek begin om te bepaal of iemand aanspreeklik gehou kan word vir Anika se dood. ʼn Groep belanghebbendes is tydens die ondersoek geïdentifiseer, naamlik Anika se pa, Johan, haar gewese kêrel, Nico Venter, en Damian Treeby, ʼn skoolmaat van Anika.

Landdros Pierre Wessels het destyds beslis dat Treeby nie geïdentifiseer mag word nie, want dit kon sy lewe in gevaar stel en die ondersoek benadeel.

Sarah Huyser. Foto: Facebook

Huyser het egter vir Treeby op sosiale media geïdentifiseer wat verreikende gevolge vir hom ingehou het aangesien hy deur lede van die publiek as haar moordenaar uitgekryt is. Huyser was in dieselfde graad as Treeby in die Hoërskool Gerrit Maritz. Hulle was nie vriende nie. Anika was ook in dié skool toe sy in 2010 wreed vermoor is.

Huyser is in Junie van crimen injuria asook minagting van die hof aangekla. Sy het op 18 Augustus weer in die hof verskyn waarna daar beslis is dat mitigasie tussen haar en Treeby moet plaasvind.

Huyser het daarvolgens Woensdag onvoorwaardelik om verskoning aan Treeby asook landdros Pierre Wessels, wat die geregtelike ondersoek lei, gelewer wat in die hof deur staatsaanklaer adv. Tania Carstens voorgelees is.

Treeby het by monde van sy regsverteenwoordiger, adv. Corrie Nieuwenhuys, besluit om Huyser se verskoning te aanvaar, waarna die staat besluit het om die saak terug te trek.

Landdros Pierre Wessels het aangedui hy is bly versoening kon bereik word en dat ʼn waardevolle les hieruit geleer kan word dat mense nie net op sosiale media mag sê wat hulle wil nie en dat die hof, asook die publiek se vertroue in die howe gerespekteer moet word.

Hier volg Huyser se skriftelike verskoning aan Treeby:
Geagte Damian Treeby

Ek wil net hiermee vir jou sê dat ek regtig jammer is oor wat gebeur het. En dat jy my kan vergewe vir alles wat gebeur het, en weet dat ek nie gedink het dat die hele situasie so sou uitdraai nie.

Ek het nooit besef die nagevolge gaan so ʼn groot negatiewe impak op jou lewe hê nie en hoop dat mense hieruit sal leer en nie dieselfde duur les leer wat ek nou leer nie. Die bevele wat ʼn hof maak, word gemaak vir ʼn rede en die nienakoming daarvan het ernstige nagevolge soos wat ek nou self ervaar.

Dus is ek regtig jammer oor enige skade of negatiewe impak van die hele situasie en hoe dit jou geaffekteer het. Partykeer as ʼn mens jonk is, doen mens goed sonder om behoorlik te dink wat die impak gaan wees en dat ʼn “spur of the moment”-oomblik permanente en ernstige nagevolge kan hê en almal wat hulself in die situasie bevind, geaffekteer kan word.

Dus is ek regtig jammer en sê ek dankie dat jy dit in jou hart kon vind om my te vergewe en ons die hele onaangename besigheid agter ons kan sit. Dit wys watter tipe mens jy is en dat jy my vergewe het en hoe jy die situasie hanteer het, sal my altyd bybly.

Huyser se skriftelike verskoning aan Wessels het soos volg gelui:

Ek is dankbaar teenoor alle partye se vergewensgesindheid teenoor my.

Ek wil die hof om verskoning vra vir my optrede en gee my woord dat ek van nou af vir mense sal vertel van die impak wat die nienakoming van so ʼn bevel wys – dat mens die hof en hofstelsel en/of bevele moet respekteer.

Ek vra nederig om verskoning en sal ʼn verskil maak in die gemeenskap deur mense te inspireer uit hierdie les wat ek vandag gegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kannaland ·

Ek volg nie die storie nie maar wie is toe skuldig bevind? As dit Treeby was dan het ek volle simpatie met hierdie meisie.

Adam ·

Daar moet “mitigasie” plaasvind. Probeer eerder “mediasie”, die ander een klink te veel na purgasie.

Natasha ·

Niemand nie – moordernaar loop nog vry rond, die saak is teen van Wyk teruggetrek en Treeby is ‘n skool vriendin van Aneke wat geregtigheid op FB soek vir haar vriendin,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.