Anika-saak: Maat vertel oor gerugte by skool

Anika Smit

Maxie de Kock, die vrou wat saam met Anika Smit (17) op skool was toe sy in 2010 in die noorde van Pretoria wreed vermoor is, het Woensdag in die Pretoria-Noord-landdroshof tydens die geregtelike ondersoek na haar dood getuig.

De Kock het getuig sy het Anika in 2006 vir die eerste keer tydens ʼn kerkkamp ontmoet. “Ek was nuut daar en sy was die eerste persoon wat na my toe gekom het en my onder haar vlerk geneem het,” het De Kock gesê.

Anika het vir ʼn ruk daarna by haar ma in Mosselbaai gaan woon en is aan die begin van 2010 terug om by haar pa in Theresapark te gaan woon. Sy het toe weer aan die Hoërskool Gerrit Maritz skoolgegaan.

“Sy het toe meer volwasse opgetree en in die drie maande voor haar dood het ons mekaar op skool gesien, maar moes mekaar weer van vooraf leer ken en was nie regtig vriende nie.”

De Kock het gesê sy was net een Sondagaand vlugtig by Anika se huis toe sy en haar broer vir Anika daar gaan aflaai het. “Ons het vroeër die aand by ʼn kuierplek gaan kuier en mekaar toevallig daar raakgeloop. Anika was duidelik ontsteld want sy het nie ʼn saamrygeleentheid teruggehad na haar huis toe nie. Ek en my broer het haar toe gaan aflaai.”

Op ʼn vraag oor Anika se verhouding met haar ouers het De Kock gesê sy het nie veel van haar ma gepraat nie, maar het wel in ʼn stadium gesê vir ʼn pa is ʼn dogter alles en vir ʼn meisie is haar pa alles. “Verder was sy baie privaat en het nie veel oor haar persoonlike lewe uitgebrei nie.”

Sy het genoem dat die kinders by die skool die dag ná haar dood gerugte begin versprei het dat Anika vermoor, verkrag en haar hande afgekap is. Hulle het later ook daarvan in die media gelees.

De Kock het genoem volgens gerugte moes Anika haar moordenaar geken het aangesien sy die honde agter in die erf toegemaak het, daar geen gedwonge toegang tot die huis was nie en daar koffie in die sitkamer was wat nie gedrink is nie.

Leerlinge het gerugte versprei dat dit dalk iemand in die skool was wat haar vermoor het, maar niemand het egter enigiemand by die naam genoem nie. De Kock het verder getuig volgens haar kennis was Anika nie by die okkulte, satanisme of dwelms betrokke nie. Die ondersoek duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Melinda Bezuidenhout ·

Die deel oor die dag na haar moord het skoolkinders gepraat oor alles wat gebeur het. Ons het alles geweet nog voordat dit in die nuus versprei was en die skool het ons nie vertel van die details nie.
Die deel oor die honde is ook waar. Baie vriende het gese dat hulle moes vir enige iemand die honde toe maak so ek glo ook dat sy die moordenaar geken het.

Arsène Lupin ·

Ek mag dalk verkeerd wees – maar deur die hoërskool se naam te noem, doen dit nie skade aan die skool se beeld nie?

Lara ·

Ek dink nie so nie.. hulle het bloot genoem dat sy daar in die skool was en leerlinge van enige skool sou wonder wat gebeur het en 10 teen 1 stories versprei het, so dit reflekteer nie negatief teenoor die spesifieke skool se leerders nie.

WW ·

Ek kan glad nie uitpluis HOE presies hierdie getuienis kan bydra tot enige uitkoms in hierdie saak nie?
Dis dan so irrelevant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.