Anika-saak: Smiley hoor oor borgtog

André van Wyk Vrydag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk Vrydag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die Pretoria-Noord-landdroshof het Vrydag uitspraak gelewer in die borgtogaansoek van André van Wyk (24), die man wat homself aan die polisie oorgegee het in verband met die grumoord, verkragting en liggaamskending van Anika Smit (17) in 2010.

Landdros Pierre Wessels het Van Wyk, wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, borgtog geweier. Hy het in sy uitspraak gesê hy het daarteen gewaak om deur die media en gemeenskap voorgeskryf te word. Hy het gesê hy kon wel nie ignoreer dat Van Wyk al dreigemente ontvang het, veral op sosiale media, nie.

Wessels het ook beklemtoon dat sy uitspraak geensins daarop dui of die beskuldigde skuldig of onskuldig is nie aangesien dit tydens die verhoor beslis sal word. Hy het tydens sy uitspraak ook weer verwys na Van Wyk wat verskeie kere skuld “erken” het rakende die moord op Anika.

Wessels het die saak tot 4 April uitgestel. Die saak sal nou na die hooggeregshof verwys word vir verhoor. Van Wyk se ma het buite die hof in trane uitgebars nadat Wessels sy uitspraak gelewer het.

Johan Smit, Anika se pa, wou nie Vrydag kommentaar lewer nie. Sy regsverteenwoordiger, Willem Koekemoer, het egter die media te woord gestaan. “Mnr. Smit is ongelooflik verlig en baie tevrede met die proses soos dit nou verloop. Hy sal die strafsaak in die hooggeregshof bywoon om vas te stel wat die uitslag is.”

Anika se ma, Charlotte Eksteen, het nie Vrydag se hofverrigtinge bygewoon nie. Haar regsverteenwoordiger, Arno Olckers, het egter ná afloop van die verrigtinge gesê hy gaan haar dadelik inlig van die besluit wat geneem is. “Ek glo sy sal baie bly en verlig wees.”

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het gesê hulle is teleurgesteld dat Van Wyk nie borgtog gekry het nie. “Ons het gehoop hy sal borgtog kry. Die landdros het ‘n redelike uitspraak gegee en ons sal dit bestudeer voor ons besluit wat om verder te doen.” Nieuwenhuys het gesê hulle sal die moontlikheid oorweeg om te appelleer.

Volgens Nieuwenhuys is Van Wyk se ouers hartseer oor die besluit om nie borgtog toe te staan nie. “Veral sy pa is baie hartseer. Ek het nie dadelik weer vir André self gesien nie.”

Van Wyk het homself byna vier maande terug, op 17 September, aan die Pretoria-Noord-polisie oorgegee het.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het Dinsdag Van Wyk se verklaring in die hof voorgelees waarin onder meer beweer word hy was nog nooit by die huis waar Anika vermoor is nie en dat daar geen vingerafdrukke van hom op of naby die toneel gevind is nie.

Anika se pa en Van Wyk se ouers in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Anika se pa en Van Wyk se ouers in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Van Wyk, wat in ʼn stadium saam met Anika skoolgegaan het, is 24 jaar oud, enkellopend en het geen afhanklikes nie. Hy woon op ʼn kleinhoewe in Pretoria-Noord by sy ouers en het voor sy arrestasie as ʼn lugversorgertegnikus gewerk en R4 000 per maand verdien. Van Wyk het nie ʼn paspoort nie en het aangedui dat hy skuld sal ontken op die aanklagte teen hom.

Van Wyk voer aan hy was kort voordat hy homself aan die polisie oorgegee het besope en is gedreig om verantwoordelikheid vir Anika se moord te neem.

Volgens Van Wyk het hy op 16 September ʼn werksgeselligheid bygewoon waar hy gedrink het voordat hy later saam met vriende verder gaan kuier het. Volgens hom het hulle na ʼn kuierplek gegaan waar ʼn onbekende man en ʼn vrou hom genader het. Hy voer aan die man en vrou het hom en sy familie gedreig en dat hulle hom gedwing het om polisie toe te gaan en ʼn bekentenis af te lê.

Van Wyk voer aan hy het kort nadat hy homself oorgegee het besef hy het ʼn fout gemaak en het aangedui hy sal sy bekentenis betwis aangesien hy nie “duidelik” en “nugter” gedink het nie. Hy het ook gesê hy is jammer dat hy Anika se ouers, vriende en familie “vals hoop” gegee het deur die bekentenis af te lê, ook dat hy onnodige pyn en lyding vir sy ouers veroorsaak het en dat hy deur sy dade waardevolle tyd en hulpbronne vermors het.

Nieuwenhuys het in sy betoë aangevoer Van Wyk moet borgtog kry aangesien die staat nie ʼn saak het sonder die sogenaamde bekentenisse nie. Hy het gesê al die bekentenisse van Van Wyk gemaak het, is oor inligting wat wyd deur die media gedek is. Van Wyk se weergawe van fynere inligting oor die saak, soos die voorwerp waarmee Anika verkrag is, is wisselvallig.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

m ·

Bly ma snaakse saak hierdie. Dan is hy skuldig en gee hom oor en dan besluit hy nou hy was besope en wat ook al. Wonder of hierdie saak ooit opgelos gaan word.

CAROL ·

JA NEE WONDER EK OOK. DAAR GEEN VINGER AFDRUKKE VAN HOM GEVIND NIE EN DIE DNA IS OOK NIE SYNE NIE???? NOU WAT NOU

fcs ·

Wonder of hy “besope” was voordat hy met sy prokureur geraadpleeg het, of daarna.

Adel ·

Dit is regtig n vreemde storie en baie moeilik om uit een te sit. Nr 1, met verkragting kan dna toetse bepaal of hy wel die 1 was moeilik om te bepaal as dit met n voorwerp was soos aangedui in berig. Nr 2, as hy regtig skuldig is sal hy mos weet waar haar hande is. Indien sy vingerafdrukke nie gevind word nie hoe seker is julle dan hy is die person wat die daad gepleeg het. Ek weet dit klink dalk onsensitief maar dit is tog van nood belang dat daar genoegsame bewyse is dat hy wel die skuldige is…. Net my mening

lulu ·

Ek glo hy weet meer en sodoende wil ek skuldig op sy voorkop plak Adel maar soos jy sê sonder genoegsame bewyse het die staat n baie swak saak dalk moet hul skok therapy toepas

Leilani ·

Regtig “smiley” wat ñ klomp TWAK!!!net jou ouers sal in jou onskuld glo, dis ñ sonde wT jy aan hulle doen!!!

Dinkffs ·

Sonde is om te oordeel voordat jy die feite weet. Spring van jou ponie af, sak daai vinger en wag vir die uitslag. Skaam jou wat so verkondig wat sonde is.

Liza ·

Maklik om kommentaar te lewer as jy nie die volle waarheid ken nie.

Cherokee ·

Moet nie voorgee dat jy meer weet as diegene wat kommentaar lewer nie. Jy weet net so min.

Dinkffs ·

En raai wat Cherokee? Jy ook, so … stilte in die hof. Dit is so Liza, almal het n eiertjie om te le.

Nita ·

Die moordenaar was seker slim genoeg om handskoene te dra. Iewers gelees die verdagte wil as Scissors hands bekend staan. Se dit enige iets vir iemand?

Johann cb ·

Ek begin wonder of die “beskuldigde” dalk nié die skuldige is nie…na al die jare lyk dinge verdag…die skuldige loop waarskynlik nog vry rond! Ek wonder net oor hierdie raaisel…

Bella ·

Ek stem saam met jou Johann. Ek weet nie, maar ek het so `n gevoel dat hulle nie vir Treeby moes laat gaan het nie. Dis al wat ek sê …

Louw ·

Boet jy is baie siek ek kan nie vir BID nie want jy het n probleem……

Dinkffs ·

Boet, jy wat so oordeel hoort nie n lisensie te he on te bid nie. Jy is siek man, kan nie eers vir jou bid nie. Wag tot hy skuldig bevind is voor jy sulke goed se, dan is jy heeltemal reg. Indien hy werklik onskuldig is, gaan jy jou woorde terugtrek? Kom reg.

Chris ·

Bid gaan geen mens hier help nie. Dit gaan n vermorsing van tyd wees.

Mariné Lourens ·

Dagsê Marc

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Chris ·

Ek dra slegs kennis oor die saak wat ek in die media lees. Dit is vir my vreemd dat die lat uit die bloute kom en ‘n skulderkenning aflê. Wat het hom genoop om dit te doen. Ek glo natuurlik daaraan dat enige persoon onder verdenking is tensy onskuldig bewys. In sulke gevalle sal ek naby die huis begin snuffel en ondervra.

sue ·

Sluit hom sommer op vir die kat wat hy lewendig aan die brand gesteek het. Wys my hoe jy diere hanteer en ek sê vir jou watter tipe karakter jy het….

wilma ·

As jy kat lewendig ani brand kon steek kon jy seke moord ook pleeg. Satanisme?. Hoop hierdie saak word afgehandel. Strongs vi Anika geliefdes

Student ·

Lyk vir my asof hy onskuldig is. Ten beste weet hy dalk van iets. Wonder of hy ook al sy varkies het…klink nie so nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.