Anika-saak: Smiley hoor sy lot

André van Wyk, ook bekend as Smiley, in die landdroshof in Pretoria-Noord (30 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk het Woensdag, twee dae ná sy 25ste verjaardag, die nuus gekry dat alle aanklagte teen hom in die saak oor die opspraakwekkende grumoord op Anika Smit, voorlopig teruggetrek is.

Van Wyk, wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, het in ʼn swart pak in die beskuldigdebank van die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, verkragting en lykskending.

By sy vorige verskyning op 18 Augustus het die hof gehoor verslae oor sy sielkundige evaluasie is gereed en dat dit aan die direkteur van openbare (DOV) vervolging oorhandig sal word om ’n finale besluit oor Van Wyk se vervolging te neem. Adv. Tanya Carstens, die staatsaanklaer, het Woensdag aan die hof gesê die DOV het besluit om Van Wyk nie verder te vervolg nie. Hy gaan egter as ʼn belanghebbende getuie in die nadoodse ondersoek na die moord op Smit bygevoeg word.

André van Wyk, ook bekend as Smiley, saam met familielede by die landdroshof in Pretoria-Noord (30 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

ʼn Duidelik verligte Van Wyk het breed geglimlag toe hy die nuus hoor. Sy ouers en familie het emosioneel geraak en mekaar omhels nadat landdros Pierre Wessels aangekondig het dat alle aanklagte teen hom teruggetrek word.

Die geregtelike ondersoek na Smit se dood gaan nou voort nadat dit tydelik opgeskort is toe Van Wyk homself in September 2016 in verband met haar moord aan die polisie oorgegee het. Hy was sedertdien in aanhouding.

Smit se pa, Johan, haar gewese kêrel, Nico Venter, en Damian Treeby, ʼn skoolmaat van Smit, is almal vroeër as belanghebbendes tydens die geregtelike ondersoek geidentifiseer. Die hof het Woensdag beslis al die belanghebbendes moet weer op 20 September in die hof verskyn wanneer ʼn datum vasgestel sal word wanneer die ondersoek sal hervat.

Smit is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het homself verlede jaar aan die polisie oorgegee en aanvanklik skuld beken, maar later aangevoer hy was kort voordat hy homself aan die polisie oorgegee het besope, en is gedreig om verantwoordelikheid vir Smit se moord te neem.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jannie ·

WIE het hom kwansuis “gedreig” om verantwoordelikheid te neem en WAAR is die hande?? Twee deurslaggewende en maklike vrae. Wat is so verdomp moeilik daaraan?!

Schalk ·

Ons almal weet teen die tyd dat ons regstelsel en ondersoek beamtes nie op standaard is nie. Die feit dat hy aanvoer hy was gedreig, kan jy aanvaar is ondersoek voordat die staat besluit het om die saak teen hom terug te trek. As hy nie weet waar die hande is nie, weet hy nie. Toe hy hom self oorhandig het, besope was, sou hy tog seker gese het waar die hande is. Dink jy werklik dit is twee maklike vrae?

Karma ·

@vrikie – hoe redeneer jy dan nou só, as dit waar sou wees dat die laaitie onder die invloed was en gedwing was om ‘n skulderkentenis te teken? Ek reken hy het dit níé gedoen nie – òf hy beskerm iemand óf die ondersoekende beampte wou net die saak klaar en afgehandel kry.

Wat ‘n jammerte vir haar ouers – na meer as 7 jaar het geregtigheid nog steeds nie geskied nie, nes met die Inge Lötz-saak. Sal hierdie twee sake raak soos die Bubbles Schroeder saak van 1948?

Veritas ·

Die ligte is aan maar daar is niemand tuis nie. Ek dink nie die impak van sy skulderkenning het hom ooit getref nie tot heelwat later toe dit deur sy prokureur aan hom verduidelik is. Ek voel jammer vir die jongman.

Anna ·

Ek voel nie jammer vir hom- hy voel beslis nie jammer vir ons wat belasting betaal en dit so gemors word!!!!
En dit omdat hy nie besef het wat hy doen.

Luke ·

Skielik is hy nie meer bang nie! Die knaap het weggekom met moord. Mens gee nie jouself oor vir so grusame misdaad nie.

Karma ·

Sjoe, maar julle is hard op die outjie. Sou julle op dieselfde manier gereageer het as dit een van julle seuns was wat skuld op die moord erken het en toe aangekla is?

Onthou net, dit is nie SAPD speurwerk wat Smiley in die hof laat beland het nie – hy het ingestap by ‘n polisie-aanklagkantoor en homself gaan oorgee, ‘n skuld-bekentenis geteken (al was hy onder die invloed) en die saak het daarna toe sy verloop geneem. Die NVG of staatsaanklaer het besluit om te vervolg en die saak is op die hofrol geplaas, maar toe het die regter sielkundige evaluasie aanbeveel. Waarskynlik, gegrond die evaluasie en die onvermoë om “beyond reasonable doubt” tot ‘n skuldigbevinding te kom, is daar besluit om die klagte terug te trek.

Ek wonder ook hoekom hy erken het hy het die moord gepleeg as hy dit níé gedoen het nie. Was dit “Dutchman’s courage” onder die invloed van drank, of aandagsoekery of hét hy dit dalk gedoen, maar is hy net gelukkig om weg te kom op grond van onvoldoende bewyse? Wel, dit het een goeie gevolg gehad: die ondersoek is weer heropen nadat dit voorlopig gestaak is.

Mag Anika se moordsaak, anders as die Lötz-meisie s’n, opgelos word en die skuldige(s) aan die pen ry.

Anna ·

Hoop die staat dagvaar hom vir al die onkoste! As hy nie skuldig was en besope hoekom nie na hy in hegtinis geneem is en nugter is se hy was besope en hy uil? Nou eers free lodging and bording vir ‘n jaar en sielkundige ondersoeke – vermorsing van belasting geld!!!

Peet J ·

Ek stem saam met Luke en Anna hulle moet die waarheid uit hom haal daar is maniere om dit te doen hy is nou besig om ‘n grap van die regstelsel te maak asook van Anika se familie hoe kan jy een oomblik sê jy is skuldig en daarna beweer jy , jy is gedwing om vir iemand se dood aanspreeklikheid te aanvaar op grond waarvan het die hof sulke nonsens aanvaar. Ek dink die hele saak moet van die begin af oopgevlek en ondersoek word iets is nie pluis nie .

LS ·

Ek kan nie glo hulle laat hom gaan nie !!!
My mond hang letterlik OOP !!!!
Ai, haar arme familie wat nog met al hierdie hartseer moet sit, REGTIG !!!
Sterkte aan almal !!!

Latham ·

Dankie “karma” vir die sin wat jy praat. Jy het duidelik gaan lees hieroor, en seker gemaak van jou feite. Ek is verheug om te sien ons het nog rasionele kommentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.