Anika-saak: Smiley hoor vandag oor borgtog

André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), die man wat homself aan die polisie oorgegee het in verband met die grumoord, verkragting en liggaamskending van Anika Smit (17) in 2010, sal na verwagting Vrydag in die Pretoria-Noord-landdroshof hoor of sy borgtogaansoek suksesvol was.

Van Wyk, wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, het Dinsdag sy borgtogaansoek by die hof ingedien, byna vier maande nadat hy homself op 17 September aan die Pretoria-Noord-polisie oorgegee het.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het vroeër aangedui dit was van die begin af die verdediging se voorneme om die borgtogaansoek in te dien sodra die DNS-uitslae gekry en bekend is.

Nieuwenhuys het Dinsdag Van Wyk se verklaring in die hof voorgelees waarin onder meer genoem word dat Van Wyk se DNS nie ooreen stem met die DNS wat op Anika se liggaam en die moordtoneel gevind is nie. Hy het ook gesê hy was nog nooit by die huis waar Anika vermoor is nie en dat daar geen vingerafdrukke van hom op of naby die toneel gevind is nie.

Van Wyk, wat in ʼn stadium saam met Anika skoolgegaan het, is 24 jaar oud, enkellopend en het geen afhanklikes nie. Hy woon op ʼn kleinhoewe in Pretoria-Noord by sy ouers en het voor sy arrestasie as ʼn lugversorgertegnikus gewerk en R4 000 per maand verdien. Van Wyk het nie ʼn paspoort nie en het aangedui dat hy skuld sal ontken op die aanklagte teen hom.

Van Wyk voer aan hy was kort voordat hy homself aan die polisie oorgegee het besope en is gedreig om verantwoordelikheid vir Anika se moord te neem.

Volgens Van Wyk het hy op 16 September ʼn werksgeselligheid bygewoon waar hy gedrink het voordat hy later saam met vriende verder gaan kuier het. Volgens hom het hulle na ʼn kuierplek gegaan waar ʼn onbekende man en ʼn vrou hom genader het. Hy voer aan die man en vrou het hom en sy familie gedreig en dat hulle hom gedwing het om polisie toe te gaan en ʼn bekentenis af te lê.

ʼn Voortslepende geregtelike doodsondersoek deur die Pretoria-Noord-landdroshof in ʼn poging om haar moordenaar te vind, sou die Maandag [19 September] hervat word. Johan Smit, Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor, wat in die hooggeregshof aangehoor gaan word.

Van Wyk voer aan hy het kort nadat hy homself oorgegee het besef hy het ʼn fout gemaak en het aangedui hy sal sy bekentenis betwis aangesien hy nie “duidelik” en “nugter” gedink het nie. Hy het ook gesê hy is jammer dat hy Anika se ouers, vriende en familie “vals hoop” gegee het deur die bekentenis af te lê, ook dat hy onnodige pyn en leiding vir sy ouers veroorsaak het en dat hy deur sy dade waardevolle tyd en hulpbronne vermors het.

Adv. Tania Carstens, staatsaanklaer, het Van Wyk se borgtog teengestaan. Die ondersoekbeampte, lt.kol. Mike van Aardt, se verklaring is voorgelees. Volgens Van Aardt het Van Wyk op 17 September mondelings aan hom erken dat hy Anika vermoor het.

Daar is ook dieselfde dag ʼn waarskuwingsverklaring afgeneem en Van Wyk het bevestig dat dit korrek is en dat hy die erns van die saak besef. Hy het dieselfde dag voor ʼn landdros ook skuld beken. Hy het aan dié landdros gesê hy het die vorige aand iets gedrink, maar het erken hy is helder (in ʼn “clear state of mind”) en het nie na drank geruik of besope voorgekom nie.

Van Wyk is op 21 September weer ondervra. Dit is glo eers toe dat hy melding gemaak het dat hy en sy familie gedreig is.

Volgens Van Aardt se verklaring het ʼn selmaat van Van Wyk in November aan hom gesê dat Van Wyk gesê het hy het die oorledene verkrag en vermoor. Van Wyk het glo ook op ʼn skoolbank geskryf dat hy Anika vermoor het. Volgens Van Aardt word Van Wyk deels met die misdaadtoneel en die moord verbind.

Nieuwenhuys het in sy betoë aangevoer Van Wyk moet borgtog kry aangesien die staat nie ʼn saak het sonder die sogenaamde bekentenisse nie. Hy het gesê al die bekentenisse van Van Wyk gemaak het, is oor inligting wat wyd deur die media gedek is. Van Wyk se weergawe van fynere inligting oor die saak, soos die voorwerp waarmee Anika verkrag is, is wisselvallig.

Carstens het in haar betoë gesê dit is onwaarskynlik dat Van Wyk gedreig is. Sy het gesê in die ses jaar sedert die moord het niemand hom of sy familie gedreig nie en het hy nooit na vore gekom om dit by die polisie aan te meld nie.

Carstens het gesê Van Wyk probeer nou ʼn weergawe voorhou dat hy deur mense in ʼn kuierplek gedreig is om na vore te kom. Carstens wou weet wat die waarskynlikheid daarvan is dat Van Wyk nie melding daarvan sou maak toe hy homself aan die polisie oorgegee het nie.

Carstens het gesê Van Wyk se persoonlike omstandighede regverdig nie dat hy op borgtog vrygelaat word nie. Sy het gesê Van Wyk het nou dat hy die erns van die saak besef sy weergawe verander. Sy het Van Wyk se geloofwaardigheid bevraagteken. Volgens Carstens het Van Wyk gesê hy vrees vir sy lewe weens dreigemente uit die publiek en om dié rede moet hy ook borgtog geweier word.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marlene ·

Ek dink hy was medepligtige, en is afgepers deur die ander wat betrokke was. Toe die uitslae vd Dns beskikbaar word en hy nie direk verbind word het, het hy ‘n geleentheid gesien om weg te kom.

Marius ·

Weet jy wat maak my die hell in die beskuldigde het in die tronk aan n man gese hy wil onthou word as smiley omdat hy die moord gepleeg het en wie gee hom sy naam die media.swak swak

Marius ·

Ek verwys na berig 31 Januarie 2017 “Volgens Van Aard het van wyk gese hy wil as Smiley scissor hands bekend staan in die tronk en dat hy n tatoeeermerk op sy bors gaan kry van twee hande waarvan die bloed afdrup”Dit kom glad nie van sy vriende soos berig word hy het dit aan medegevangenis gese.

LS ·

Hy weet definitief meer as wat hy beken.
Ek sit my kop op ‘n blok hy weet presies wie haar vermoor het, en hy was ook betrokke!!!
Dit is so hartseer dat haar familie nou weer deur alles moet gaan en steeds nie weet wat daardie dag gebeur het nie. Sterkte aan die familie en vriende, hoop en bid dat julle eendag sal weet wat presies gebeur het en dat julle die berusting kry wat julle verdien!
En jy is reg Marius, nou kry hy die naam SMILEY soos hy dit wou gehad het, ek stem, dis swak van die media om so iemand te gee wat hy wil hê. SWAK !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.