Anika-saak: Smiley terug in die hof

Van Wyk tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), die man wat homself aan die polisie oorgegee het in verband met die opspraakwekkende grumoord op Anika Smit (17) in 2010, het Vrydag weer in die hof verskyn.

Die voortslepende saak is in April in die Pretoria-Noord-landdroshof uitgestel sodat Van Wyk, wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, vir sielkundige evaluasie kon gaan.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het destyds aan Maroela Media gesê die staat het ʼn aansoek gebring dat Van Wyk ook deur ʼn sielkundige ondersoek moet word. Hy het die sielkundige evaluasie by die Kgosi Mampuru II-gevangenis ondergaan, anders as die psigiatriese waarneming wat hy in Oktober verlede jaar by die Weskoppies-hospitaal moes ondergaan.

Daar is tydens dié psigiatriese waarneming bevind hy is geskik om verhoor te word.

Nieuwenhuys het gesê op aandrang van Van Wyk se ouers sou hulle ook ʼn private sielkundige aanstel om hom te ondersoek.

Landdros Pierre Wessels het beveel dat albei sielkundiges se verslae teen Vrydag se hofverskyning gereed moet wees.

Die staat het egter Vrydag vir ʼn verlenging gevra aangesien die polisiekolonel wat Van Wyk moes evalueer, se verslag nog nie gereed is nie.

Nieuwenhuys het nie beswaar gehad nie en gesê dit is in sy kliënt se beste belang dat die verslag so deeglik moontlik moet wees. “Ons verstaan dat die verslag nog nie gereed is nie en dat daar onder meer gewag word vir verslae van sy psigiatriese waarneming by Weskoppies, en ons verstaan dit neem tyd,” het hy gesê.

Wessels het die aansoek toegestaan en die saak tot 18 Augustus uitgestel. Van Wyk bly in aanhouding.

Van Wyk was weer in dieselfde beige pak in die beskuldigdebank as tydens vorige verskynings en het sy ouers, wat oudergewoonte die verrigtinge bygewoon het, vlugtig en vriendelik gegroet.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het homself op 17 September verlede jaar aan die polisie oorgegee en aanvanklik skuld beken en later aangevoer hy was kort voordat hy homself aan die polisie oorgegee het besope en is gedreig om verantwoordelikheid vir Anika se moord te neem.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stella ·

Nou hoekom se hy nie wat hy met haar hande gedoen het nie? Waarvoor wag hy,hy gaan tog nie loskom nie,vertel alles en die saak kan afgehandel word,,,eish!

gogo ·

Jy beter praat boetie vermoordes besit die gawe om hul moordenaars aan die kaak te stel net jammer ons speurders is nog agter met die nuwe tegnieke maar dit kom sooner or later en praat die waarheid

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.