Anika se pa: ‘Dis sommer ʼn klomp leuens’

Johan Smit buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

Johan Smit buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), die man wat aangekla word van die moord op Anika Smit, se borgaansoek sal Vrydag voortgaan. Anika is in 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor.

Adv. Tania Carstens, staatsaanklaer, het nadat die hofverrigtinge hervat is gesê saam met Van Wyk se grondwetlike regte kom daar ook sekere verpligtinge. Sy het gesê in die ses jaar sedert die moord het niemand hom of sy familie gedreig nie en het hy nooit na vore gekom nie.

Carstens het gesê Van Wyk probeer nou ʼn weergawe voorhou dat hy deur mense in ʼn kuierplek gedreig is om na vore te kom. Carstens wou weet wat die waarskynlikheid daarvan is dat Van Wyk nie melding daarvan sou maak toe hy homself aan die polisie oorgegee het nie.

Carstens het gesê Van Wyk het eerder besluit om ʼn waarskuwingsverklaring te onderteken en dieselfde dag ʼn bekentenis voor ʼn landdros te maak. Sy het gesê Van Wyk het by minstens vier geleenthede volgehou hy is skuldig. Sy het ook verwys na Van Wyk se beweerde uitlatings dat hy met die polisie se koppe gaan smokkel en sy beweerde bekentenisse tenoor selmaats.

Carstens het gesê Van Wyk se persoonlike omstandighede regverdig nie dat hy op borgtog vrygelaat word nie. Sy het gesê Van Wyk het nou dat hy die erns van die saak besef sy weergawe verander. Sy het Van Wyk se geloofwaardigheid bevraagteken. Volgens Carstens het Van Wyk gesê hy vrees vir sy lewe en om dié rede moet hy ook borgtog geweier word.

André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het gesê dit is vreemd dat Van Wyk dan nou, amper sewe jaar ná die moord, uit die bloute sou sê dis hy wat die moord gepleeg het. Volgens Nieuwenhuys sou Van Wyk se gewete hom lankal gery het. Nieuwenhuys meen daar moenie veel waarde geheg word aan Van Wyk se beweerde bekentenisse teenoor selmaats nie. Nieuwenhuys het ook aangevoer die inligting wat Van Wyk gegee het, is wyd bekend in die media.

Die saak is hierna tot Vrydag uitgestel wanneer die landdros uitspraak gaan lewer in die borgtogaansoek. Van Wyk bly in aanhouding.

Johan Smit, Anika se pa, het buite die hof aan verslaggewers gesê die bewerings wat Van Wyk vandag in sy borgtogverklaring aangevoer het, is “sommer ʼn klomp leuens”.

“Dit is net ʼn slim storie van sy regspan om vir hom borgtog te kry. Hy het kort-kort sy storie verander en nie een van sy stories was dieselfde nie. As ek gedreig word deur iemand gaan ek dit onmiddellik sê.”

Smit het gesê hy was bly toe Van Wyk homself aan die polisie oorgegee het aangesien daar toe uiteindelik iets gebeur het in die saak. “In hierdie stadium kan ons nou maar net kyk wat gebeur vorentoe. Dit is al wat ek in die stadium wil sê.”

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Magda ·

Hy moet oppas as hy borg kry, want dan gaan hy dalk regtig gedreig word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.