Anika Smit: ‘Dit was die tydperk van dood’

Anika Smit

Die nuus van Anika Smit (17) se wrede moord in Pretoria in 2010 was só traumaties vir haar swanger vriendin dat sy op twee geleenthede byna in vroeë kraam ingegaan het.

“Dit was ʼn baie traumatiese tydperk vir ons almal. Dit was glad nie lekker nie. Ons skool [Hoërskool Gerrit Maritz] het destyds ʼn reputasie gehad vir die skool met die meeste kinders wat dood is van 2006 tot en met 2010. Ek het in daardie tydperk baie van my skoolvriende verloor.”

Só het Anika se jarelange beste vriendin, Hanrika Beukes, Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof getuig waar die geregtelike ondersoek na Anika se dood hervat het om te bepaal of iemand vir haar moord aanspreeklik gehou kan word.

Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg bewyse is om iemand vir Anika se dood aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek doodgeloop het. Die belanghebbendes in die ondersoek is Anika se pa Johan Smit, Anika se ma Charlotte Eksteen, ʼn ekskêrel Nico Venter en twee destydse skoolmaats Damian Treeby en André van Wyk.

Beukes, tans ʼn sersant in die polisie se forensiese eenheid in Silverton, is ʼn jarelange vriendin van Anika en het haar van hul laerskooldae af geken. Sy en Anika was ook saam in Hoërskool Gerrit Maritz, maar nie in dieselfde graad nie – sy is twee jaar ouer as Anika.

Beukes het onder kruisondervraging deur Anton van Staden, Venter se regsverteenwoordiger, verduidelik hoe sy deur die eerste ondersoekbeampte in Anika se moordsaak, ao. Annerie Robinson, versoek is om by haar begrafnis op die begrafnisgangers te “spioeneer” vir mense met krapmerke aan hul gesigte of mense wat verdag optree.

“Ek het Anika se begrafnis bygewoon. Daar was baie mense gewees. Maar dit was vir my te traumaties – ek het gegaan om te rou, nie om te spioeneer nie. Ek het niks ongehoord by die begrafnis opgemerk nie.”

Sy het erken sy het nie vir Venter in daardie stadium geken nie, want sy het die laaste paar maande wat Anika nog gelewe het uit die vriendekring onttrek weens haar swangerskap en om Anika “nie onder groepsdruk” te plaas om saam met hulle te kuier nie, sodat Anika, wat reeds ʼn jaar gedruip het, op “haar skoolwerk kon konsentreer”.

Beukes het gesê sy het Anika se ouers by die begrafnis opgemerk en kan nie onthou of haar pa enige krapmerke gehad nie. Sy kan nie onthou of sy Treeby by die begrafnis gesien het nie.

“Hoekom dink u het die ondersoekbeampte so iets versoek?” wou Van Staden weet.

“Ek weet nie, ek het nie baie vrae gevra nie. Ek het ingestem om dit te doen, want ek sou graag wou justice hê. Ek het maar aangeneem dit was omdat dit ʼn ernstige saak was waar geweld betrokke was. Ek het geweet Anika sou nie gaan sonder om te veg of haar man te staan nie. Sy was nie ʼn pap persoon nie. Sy het krag gehad. Toe ek vir die polisie begin werk het, het ek geleer hoe belangrik DNS is. Ek het vir al my vriendinne gesê as hulle in ʼn moeilike situasie soos verkragting is om soveel moontlik DNS op hulle te kry as moontlik deur te veg en te krap, want die DNS kan as bewyse in ʼn hof gebruik word.”

Beukes het vroeër in die hof beklemtoon alhoewel sy, haar ma en haar pa in diens is van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, was niemand van hulle enigsins by haar moordondersoek betrokke nie, veral aangesien sy ʼn hoërisikoswangerskap gehad het en hulle haar en haar ongebore dogtertjie verdere trauma wou spaar.

Sy het gesê sy het die dag toe sy van Anika se moord gehoor het, amper in vroeë kraam ingegaan en ook die dag toe bewysstukke wat op die moordtoneel gevind is, by die polisie se forensiese kantoor ingedien is.

Een van die bewysstukke is onder meer ʼn uniek gevormde bottel wat by Anika se geslagsdeel ingedruk is, toe haar pa op haar bebloede liggaam in haar kamer afgekom het.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is tot nou toe nog nie gevind nie.

Die saak duur Dinsdag voort wanneer Beukes verder kruisondervra gaan word en een van Anika se mansvriende gaan getuig.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gesiggie ·

2010… dit is al 2018??? hoe kan geen speurder enige moordenaar opspoor, hierdie familie gaan nogsteeds deur hel, hul moet elke dag wonder, en het vrae… ek kan nie glo dat n saak so lank kan vat- iewers moet daar iemand slimmer wees. Sterkte aan Anika se familie en vriende…

EP ·

Stem heelhartig saam. Hoe kan die saak na agt jaar nog nie opgelos wees. Wat is fout met ons regstelsel??

Antiestabliesment ·

Hoe kan dit so lank neem? Want die moordenaar was baie slimmer as die polisie. Iemand met kennis oor DNA! Iemand wat weet hoe om ‘n moordtoneel te stage en te los sodat minimum bewyse agtergelaat word en maximum chaos die saak ontspoor.

Wow! ek ky te veel CSI…. he he he

leser ·

“om te bepaal of iemand vir anika se moord aanspreeklik gehou kon word”
wat se stupid stelling is dit ????????????????????

Wonder ·

Is daar dan absoluut geen DNA op die toneel of by haar gevind nie?

Marinda ·

Too many loose ends, but the quilty party will eventually make a mistake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.