Anika Smit: Foto’s van gru-toneel bespreek

Anika Smit

WAARSKUWING: Die berig bevat grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers en kinders ontstel.

Foto’s van die gru-toneel waar Anika Smit (17) se geskende liggaam sewe jaar gelede in ʼn plas bloed gevind is, is Donderdag tydens die geregtelike ondersoek na haar dood bespreek.

Hanrika Beukes, tans ʼn sersant in die polisie se forensiese eenheid in Silverton, is geroep om in die Pretoria-Noord-landdroshof te getuig.

Beukes is ʼn jarelange vriendin van Anika en ken haar al van hul laerskooldae af. Sy was gereeld by die Smit-gesin aan huis. Sy en Anika was ook saam in Hoërskool Gerrit Maritz, maar nie in dieselfde graad nie en sy is twee jaar ouer as Anika.

Beukes het beklemtoon alhoewel sy, haar ma en haar pa in diens is van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, was niemand van hulle enigsins by haar moordondersoek betrokke nie.

Beukes het ook ʼn stelling in ʼn vorige getuienis van ʼn gemeenskaplike vriendin, Angelique van Niekerk, ten sterkste ontken waarin beweer word dat Beukes kort ná Anika se dood foto’s van haar moordtoneel gesien en met die vriendekring bespreek het. “Die eerste keer wat ek die foto’s van die toneel gesien het was in die staatsaanklaer se kantoor,” het sy gesê.

Ten tyde van Anika se moord, op 10 Maart 2010 in haar ouerhuis in Theresapark in die noorde van Pretoria, was Beukes vyf maande swanger. “Die dag van haar moord was ek saam met my ouers by die Eugene Marais-hospitaal om ʼn 4D-skandering te doen,” het sy getuig.

Sy verduidelik sy en Anika het sowat 2 km van mekaar af gebly en het gereeld ná skool saam gekuier. “As ek of sy ʼn af dag gehad het, sou ons daaroor praat, of net saam chill. Ons het oop gesprekke oor enigiets gehad.”

Beukes het gesê Anika se pa, Johan Smit, het haar vertrou en toegelaat dat Anika sommige aande saam met hulle uitgaan. Beukes, wat toe ouer as 18 was, het ʼn motor gehad en sou die vriendekring rondry en terugneem huis toe.

Sy het getuig sy weet nie of Anika by satanisme, die okkulte of met dwelms betrokke was nie. Sy het wel getuig Anika was seksueel aktief en het in ʼn stadium gedink sy is swanger, maar dit was toe nie die geval nie.

Op ʼn vraag van adv. Tania Carstens, staatsaanklaer, oor Anika se verhouding met haar ma, Charlotte Eksteen, het Beukes geantwoord: “Ek weet nie hoekom Anika destyds by haar ma in die Wes-Kaap gaan bly het nie. Ek het maar aangeneem dit was omdat sy swak op skool gevaar het en ʼn jaar moes agterbly. Sy het in 2009 teruggekom Pretoria toe. Ek is toe deur Anika meegedeel sy het baie met haar ma oor haar stiefpa vasgesit. Sy wou veel eerder terugkom Pretoria toe omdat sy hier meer vrye teuels gehad het. Sy het gesê daar was te veel boundaries en dissipline daai kant en het haar mense in Pretoria gemis.”

Sy het gesê hoewel Anika nie ʼn rebel was nie, sou sy kyk hoe ver sy “die boundaries kon push”. Beukes het gesê Anika wou in 2009 probeer om van haar “bad girl image” ontslae te raak. Die hof het gehoor Anika het gerook, alkohol gebruik, tatoeëermerke gehad en sou wispelturig haar hare sny en kleur.

Beukes het gesê dat Anika in die nagenoeg 10 jaar wat die twee mekaar ken, nooit in enige stadium melding gemaak het dat sy bang was vir iemand of vir haar lewe gevrees het nie. “Anika was ʼn baie happy go lucky-persoon as ons gekuier het, ons het dan nie oor hartseer goed gepraat nie en net gefokus op lewe.”

Daarna is die foto’s aan die hof gewys wat geneem is die dag toe Anika se pa op haar liggaam in ʼn plas bloed in haar kamer afgekom het.

Beukes het die sitkamer uitgewys waar die vriendekring gewoonlik sou kuier. Anika se valhelm lê onderstebo op die vloer by die bank waar sy gewoonlik sou sit en huiswerk doen. Op die bank is skoolboeke en ʼn asbakkie met sigaretstompies in. Daar is ook twee koppies met koffie in, wat nie gedrink is nie.

In die eetkamer het sy uitgewys waar die eetkamertafel skeef staan met die stoele om dit versprei, waar dit gewoonlik netjies reguit sou staan met die stoele “netjies ingeskuif”. Die vermoede bestaan dat Anika in dié kamer deur haar moordenaar aangeval is en ʼn struweling ontstaan het. Daar is ook ʼn bloedkol op die mat gevind wat met ʼn lappie wat in Anika se kamer was, toegegooi is.

Anika is daarna glo na haar kamer gesleep waar sy vermoor is. Sy het steekwonde aan haar nek gehad. Haar naakte liggaam het op die vloer gelê en daar was ʼn buitengewone lang bottel in haar private deel ingedruk. Haar hande is ook afgesny en van die toneel verwyder. Dit is tot nou toe nog nie opgespoor nie.

Beukes het verduidelik Anika het ʼn rak met allerhande bottels gehad wat sy versamel het. Die bottel waarmee Anika geskend is, het altyd op die rak gestaan. Sy het vermoedelik elke bottel gehou wat vir haar ʼn spesiale betekenis gehad het.

Oor Anika en haar pa se honde het Beukes getuig dit is twee groot bruin boerboele. Die honde was die dag van haar moord in die agtererf toegemaak, waar hulle gewoonlik al om die huis kon beweeg. “Gewoonlik as vriende vir die eerste keer daar kom kuier het, het sy hulle agter toegemaak totdat die honde gewoond geraak het aan die mense, want die honde kan aggressief wees.”

Beukes het gesê sy het ná Anika se moord een keer vir Anika se pa gaan kuier en dit was ʼn emosionele besoek, sy het ná ʼn halfuur weer gery. Sy het emosioneel geraak toe sy vertel het van die dag toe sy van Anika se moord ingelig is en gesê sy het amper ʼn miskraam gehad.

Beukes was die laaste getuie om in dié gedeelte van die geregtelike ondersoek te getuig.

Die ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir die tiener se dood aanspreeklik te hou. Die ondersoek het Dinsdag ná ʼn lang uitstel hervat. Anika se ouers, haar ekskêrel Nico Venter en twee skoolmaats Damian Treeby en André van Wyk, is belanghebbende getuies in die ondersoek.

Landdros Pierre Wessels het Donderdag die ondersoek  tot Maart 2018 uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deloris ·

Die 2 koppies koffie dui aan sy moes n nuwe besoeker ontvang het…… die honde is toegemaak met eerste besoeker….. soek die man vd motorfiets ….. maar hoe…. is daar nerens kameras nie? Wat hey die bure gesien?

martin cilliers ·

hierdie was n reeks moordenaar wat weer sal toe slaan as hy nog lewe.Hy sny altyd sy slagoffers se hande af en het al in Pretoria voorheen gebeur. Ek din hy beweeg rond in die land en soe slagoffers.

Malan ·

Geen persoon verdien om so grusaam te sterf nie. Met so baie nuwe tegnologie, is dit nie moontlik om te kyk watter SELFOON NOMMERS daardie dag by Annika se huis was nie ? N mens wonder of die uitreik van n beloning nie “iemand” sal laat praat nie ? N Mens hoop werklik die skuldige sal aan die pen ry!

Riaan ·

Satanisme? Ag asseblief. Wat is hierdie, 1986? En die “Okkulte” ? Is dit dan nou onwettig? Die Okkulte is ‘n belangstelling in die “paranormal”. Wat is fout daarmee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.