Anika Smit: Geregtelike ondersoek eers dán voortgesit

Damian Treeby (links) en André van Wyk (regs) saam met hul regsverteenwoordiger, adv. Corrie Nieuwenhuys (middel), by die Pretoria Noord-landdroshof. Foto: Phillip Bruwer

Die geregtelike ondersoek na die dood van die 17-jarige Anika Smit is Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof tot later vanjaar uitgestel nadat Anika se pa van prokureur verander het.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Haar pa, Johan Smit, het op haar geskende liggaam in ʼn plas bloed afgekom. Nico Venter, haar ekskêrel, is sowat twee maande ná haar dood in verband met haar moord in hegtenis geneem. Die aanklagte teen hom is egter ’n paar maande later teruggetrek. Venter word deur Anton van Staden verteenwoordig.

Damian Treeby was destyds saam met Anika in die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord, maar in ʼn hoër graad. Hy was die dag van Anika se moord nie by die skool nie. Hy het glo in ʼn MXit-gesprek met ander skoolmaats daarvan gepraat om van iemand ontslae te raak en het krapmerke aan sy nek gehad. Treeby word deur adv. Corrie Nieuwenhuys verteenwoordig.

Johan Smit, Anika se pa, en sy nuwe regsverteenwoordiger, Stef Kruger, by die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir die tiener se dood aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek in ʼn doodloop beland het.

Smit, Venter en Treeby, asook Anika se ma, Charlotte Eksteen, was al vier belanghebbendes wat opgeroep is om in die geregtelike ondersoek te getuig. Die ondersoek is egter in September 2016 deur landdros Pierre Wessels onbepaald uitgestel. Eksteen word deur Arno Olckers verteenwoordig.

Die uitstel volg nadat André van Wyk (25), wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, homself in September 2016 aan die polisie oorgegee het in verband met Anika se moord. Hy het aanvanklik erken dat hy haar vermoor het, maar het kort daarna van deuntjie verander en gesê hy is deur onbekende mense gedreig om skuld te beken.

Nico Venter (regs) en sy regsverteenwoordiger, Anton van Staden, by die hof. Foto: Phillip Bruwer

Hy was in aanhouding totdat hy uiteindelik op 30 Augustus 2017 vrygelaat is nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) besluit het om hom nie verder op aanklagte van moord, verkragting en lykskending te vervolg nie. Van Wyk is daarna ook as ʼn belanghebbende in die geregtelike ondersoek gevoeg. Hy word ook deur Nieuwenhuys verteenwoordig.

Die geregtelike ondersoek was veronderstel om Dinsdag hervat te word nadat die saak in November verlede jaar uitgestel is vir verdere ondersoek.

Die geregtelike ondersoek is egter Dinsdag tot Augustus uitgestel aangesien Smit van prokureur verander het. Die hof het gehoor hy het sy mandaat met sy vorige prokureur, Willem Koekemoer, beëindig en die dienste van Stef Kruger ingewin.

Wessels het die ondersoek vir vier dae op die hofrol geplaas. Die staat moet transkripsies van die hele geregtelike ondersoek aan al die regsverteenwoordigers verskaf.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carol van Zyl ·

Nico ek dink so aan julle as gesin en regtig ek hoop hierdie nagmerrie gaan nou verby.
Lief vir julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.