Anika Smit: Geregtelike ondersoek hervat

Anika Smit.

Die geregtelike ondersoek na die dood van die 17-jarige Anika Smit hervat Maandag in die Pretoria-Noord-landdroshof.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Haar pa, Johan Smit, het op haar geskende liggaam afgekom. Nico Venter, haar ekskêrel, is sowat twee maande ná haar dood vir haar moord in hegtenis geneem. Die aanklagte teen hom is egter ’n paar maande later teruggetrek.

Damian Treeby was destyds saam met Anika in die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord, maar in ʼn hoër graad. Hy was die dag van Anika se moord nie by die skool nie. Hy het glo in ʼn MXit-gesprek met ander skoolmaats daarvan gepraat om van iemand ontslae te raak en het krapmerke aan sy nek gehad.

Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir haar dood aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek ʼn doodloopstraat bereik het.

André van Wyk, ook bekend as Smiley, in die landdroshof in Pretoria-Noord (30 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

Smit, Venter en Treeby was al drie belanghebbendes wat opgeroep is om in die geregtelike ondersoek te getuig. Die ondersoek is egter in September 2016 deur landdros Pierre Wessels onbepaald uitgestel.

Die uitstel volg nadat André van Wyk (25), wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, homself in September 2016 aan die polisie oorgegee het in verband met Anika se moord. Hy het aanvanklik erken dat hy haar vermoor het, maar het kort daarna van deuntjie verander en gesê hy is deur onbekende mense gedreig om skuld te beken.

Hy was in aanhouding totdat hy uiteindelik op 30 Augustus 2017 vrygelaat is nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) besluit het om hom nie verder op aanklagte van moord, verkragting en lykskending te vervolg nie. Van Wyk is daarna ook as ʼn belanghebbende in die geregtelike ondersoek gevoeg. Anika se ma, Charlotte Eksteen, is ook ʼn belanghebbende.

Die ondersoek duur voort en is vir die hele week op die hofrol geplaas.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ryan ·

Ek het 8 jaar terug met baie belangstelling die storie gevolg. Skokkend dat daar steeds niemand aangekla is van moord nie. Dit was ‘n baie wrede moord op die kind.

Poppie ·

Hoekom het Smiley eers skuld erken? Hy kon mos daardie tyd gesê het hy is gedreig en ook deur wie, dan kon verdere ondersoek ingestel gewees het. En die persoon wat krapmerke gehad het, nie by die skool was, gese het hy gaan van iemand ontslae raak? Hoekom is daar nie in diepte ondersoek toe gedoen nie? As dit my kind was, sou ek nie kan rus tot geregtigheid geseevier het nie. Glo die ouers sal graag wil hê dat die skuldige(s) nou moet boet en dat hul met hul lewens kan aangaan.

Amelia ·

Dai hande wat weg is……..ek wonder of het die slagoffer nie baie teegesit en gekrap en daarom het die moordenaar gereken hy verwyder enige iets wat dns toetse kan oplewer.

Sarie ·

Haai daai kind was so wreed vermoor,dis tyd dat haar ouers ook kan berusting kry.

Tunic ·

Janee .. hoeveel jaar verloop , ‘n ou ERKEN dit is hy maar hy word vrygelaat .. hoekom ..dit is ‘n WIT MEISIE, die regering en regstelsel voel NIKS VIR WITMENSE Nie . hulle is nie haastig om die moordenaar op te spoor nie. Die moordenaars van die twee polisiemanne laas WEEK Is klaar opgepoor en agter tralies .IS DIT NIE VREEMD NIE?? Julle het vinnig ook die DOODSKIS ouens in die tronk gegooi maar sukkel om hierdie pragtige meisie se moordenaar vas te trek? Al klop die ou aan die deur van die polisie of staatsaanklaer en le ‘n beedigde verklaring af DIT IS HY, sal hulle hom nog laat loop .. dis ons regstelsel vir jou

kas ·

Ek sal net graag die volgende wil weet;1 Hoe oud was Anika tydens die partytjie by Bekes se huis in 2006?2 Hoe oud was Anika in 2010 toe sy vermoor is?3 Hoe oud sou Anika in 2018 gewees het, en was sy in die Hoerskool toe sy vermoor is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.