Anika Smit: Geregtelike ondersoek hervat

Anika Smit

Die geregtelike ondersoek na die dood van die 17-jarige Anika Smit is Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof hervat en gaan Woensdag voort.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Haar pa, Johan Smit, het op haar geskende liggaam afgekom. Nico Venter, haar ekskêrel, is sowat twee maande ná haar dood vir haar moord in hegtenis geneem. Die aanklagte teen hom is egter ’n paar maande later teruggetrek.

Damian Treeby was destyds saam met Anika in die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord, maar in ʼn hoër graad. Hy was die dag van Anika se moord nie by die skool nie. Hy het glo in ʼn MXit-gesprek met ander skoolmaats daarvan gepraat om van iemand ontslae te raak en het krapmerke aan sy nek gehad.

Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir die tiener se dood aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek ʼn doodloopstraat bereik het.

André van Wyk, ook bekend as Smiley, in die landdroshof in Pretoria-Noord (30 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

Smit, Venter en Treeby was al drie belanghebbendes wat opgeroep is om in die geregtelike ondersoek te getuig. Die ondersoek is egter in September 2016 deur landdros Pierre Wessels onbepaald uitgestel.

Die uitstel volg nadat André van Wyk (25), wat onder sy vriende as Smiley bekend staan, homself in September 2016 aan die polisie oorgegee het in verband met Anika se moord. Hy het aanvanklik erken dat hy haar vermoor het, maar het kort daarna van deuntjie verander en gesê hy is deur onbekende mense gedreig om skuld te beken.

Hy was in aanhouding totdat hy uiteindelik op 30 Augustus 2017 vrygelaat is nadat die direkteur van openbare vervolging (DOV) besluit het om hom nie verder op aanklagte van moord, verkragting en lykskending te vervolg nie. Van Wyk is daarna ook as ʼn belanghebbende in die geregtelike ondersoek gevoeg. Anika se ma, Charlotte Eksteen, is ook ‘n belanghebbende.

Die ondersoek duur voort en is vir ʼn week op die hofrol geplaas.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pierre ·

Dis interessant om te kyk na hoeveel moordsake daar onopgelos is in SA. Hierdie is ook een van daardie gevalle waar niemand iets gesien of gehoor het nie, ek dink ook aan die johan Heyns geval en dan natuurlik Rober Smit in 1976 in Springs. Is dit die moordenaars wat so goed is of bloot net dat ons nie die vermoe het om tot die wortel van die oorsprong uit te kom nie. CSI/NCIS se ondersoekende beamptes moet dalk maar hier kom help.

Piet ·

Ek sien jy stel belang in onopgelosde moordsake. Onthou beide die Smit egpaar en Johan Heyns se aanval was sluipmoorde met politiek en geld wat die aanvalle gemotifeer het. Hierdie meisie se moord was gepleeg deur n bose mens – as hy wegkom sal hy dit weer doen.

HPV ·

In ag geneem dat ongeveer 437000 mense vanaf 1994 in Suid Afrika vermoor is en mens kyk na die tronk getalle, is dit te betwyfel dat die helfte van die moordsake opgelos is. Teen vyftig moorde per dag is dit bykans onmoontlik om alle sake behoorlik op te ondersoek.

Michelle ·

Dit is heel vanselfsprekend, krapmerke op die nek en die hande is verwyder, hy was bang die DNA word onder haar vingernaels gekry toe verwyder hy haar hande en vat die DNA bewyse saam. SA geregstelsel, julle moet wakker skrik hoor.

AP ·

Ek kan onthou van vroer berigte dat ‘n persoon, ek praat onder korreksie, medikasie van ‘n apteek by die huis moes aflewer, en dat die buurvrou die motorfiets voor die huis gesien het, ek wonder maar nou net oor die nuutste berig van ‘n motorfiets ryer wat sy mee saam was ‘n paar weke voor haar moord, of was dit net ‘n valse berig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.