Anika Smit: Hof hoor oor merk aan pa se gesig

Belanghebbendes en regslui Dinsdag in die hof (21 Augustus 2018). Foto: Phillip Bruwer

ʼn Vriendin van Anika Smit, die tienermeisie van Pretoria wie se wrede moord ná agt jaar steeds onopgelos is, moes ná Anika se moord by haar begrafnis gaan “spioeneer” vir onder meer mense wat krapmerke aan hul gesigte het.

Anika se jare lange beste vriendin, Hanrika Beukes, getuig tans in die Pretoria-Noord-landdroshof waar die geregtelike ondersoek na Anika se dood Maandag hervat is. Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg bewyse is om iemand vir Anika se dood aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek doodgeloop het.

Die belanghebbendes in die ondersoek is Anika se pa, Johan Smit, Anika se ma, Charlotte Eksteen, ʼn ekskêrel, Nico Venter, en twee destydse skoolmaats, Damian Treeby en André van Wyk.

Beukes, tans ʼn sersant in die polisie se forensiese eenheid in Silverton, het Anika van hul laerskooldae af geken. Sy en Anika was ook saam in Hoërskool Gerrit Maritz, maar nie in dieselfde graad nie – sy is twee jaar ouer as Anika.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, Treeby en Van Wyk se regsverteenwoordiger, wou Dinsdag spesifiek by Beukes hoor of daar enige merke aan Anika se pa se gesig was tydens haar begrafnis.

Dit volg nadat Beukes Maandag getuig het hoe sy deur die eerste ondersoekbeampte in Anika se moordsaak, AO Annerie Robinson, versoek is om by haar begrafnis op die begrafnisgangers te “spioeneer” vir mense met krapmerke aan hul gesigte of mense wat verdag optree.

“Ek het geweet Anika sou nie gaan sonder om te veg of haar man te staan nie. Sy was nie ʼn lamsak nie. Sy het krag gehad. Toe ek vir die polisie begin werk het, het ek geleer hoe belangrik DNS is. Ek het vir al my vriendinne gesê as hulle in ʼn moeilike situasie soos verkragting is om soveel moontlik DNS op hulle te kry deur te veg en te krap, want die DNS kan as bewyse in ʼn hof gebruik word,” het Beukes vroeër getuig.

Anika Smit

Nieuwenhuys het ʼn foto aan die hof getoon waar Smit by ʼn kruis sit met ʼn duidelike merk onder sy regteroogbank. Nieuwenhuys wou weet of Beukes dié merk ná Anika se moord gesien het en of sy weet waar en wanneer die foto geneem is.

“Dit lyk of die foto in haar huis geneem is en of dit ná die begrafnis was omdat die kruis daar is,” het Beukes geantwoord. Sy het ook getuig sy kan nie onthou of sy tydens die begrafnis enige merke aan Anika se pa se gesig opgemerk het nie, aangesien dit so lank gelede was en sy net daarheen gegaan het om haar eer te betoon.

Stef Kruger, Smit se regsverteenwoordiger, het egter tydens sy kruisondervraging dit aan die hof gestel dat die foto tydens ʼn onderhoud met ʼn Sondagkoerant geneem is. Hy het ʼn koerantuitknipsel, wat 6 April 2014 gedateer is, en ʼn mediese sertifikaat as bewyse in die hof ingedien en voer aan die merk is veroorsaak deur die verwydering van ʼn kwaadaardige gewas.

“My aanwysings is dat daardie foto ʼn paar dae geneem is voor die koerantberig verskyn het. Dit was dus vier jaar ná Anika se moord. So, dit is onmoontlik dat daardie merk vier jaar oud is,” het Kruger dit gestel.

Nieuwenhuys het Beukes ook uitgevra of Anika al ooit swanger was en of sy by die okkulte betrokke was. “Sover ek weet, was Anika nooit swanger nie en niemand van wie ek weet in my vriendekring was of is by die okkulte betrokke nie,” het sy geantwoord.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is tot nou toe nog nie gevind nie.

Die saak is vir die res van die week op die hofrol geplaas. Die saak duur voort. Beukes word steeds kruisondervra.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

honourable member ·

Hierdie is een van daai stories wat nooit opgelos gaan word nie. Dis baie tragies.

wielie ·

Waarom nog ” krap ” Die kind is dood. Laat haar en haar geliefdes nou met rus. Dis nou al 8 jaar en die saak is nie opgelos ……….. gaan dit ooit? Laat die mense met rus … aanvaar en berus.

Nettie ·

@wielie – ek is seker haar ouers, vriende, sibbe (indien sy enige gehad het) en die res van haar familie wil bitter graag weet wíé die moord gepleeg het en toesien dat daardie person tronk toe gestuur word.

Ek is ‘n gereelde kyker van misdaad-kanale soos Investigation Discovery en telkens sien jy gevalle van waar ‘n moordondersoek doodloop a.g.v. gebrek aan bewyse en dan – jare later – word die dossier weer oopgemaak in “cold case files” en die moordernaar(s) aangekeer. Telkens is daar die verligting en berusting nadat die skuldige(s) hul straf gekry het.

Sou jy nie graag wou hê dat – as dit jou kind of suster was – die saak opgelos moet word nie?

Hanna ·

Nee wielie die skuldige moet boet !! Los die saak en hy stap skotvry uit

magda ·

Nee hoekom moet dit nou gelos word omdat dit 8 jaar later is – Kry die Moordenaar en laat hy boet vir sy dade. Daar is sake wat langer as die een nog nie afgehandel was nie, wat wel afgehandel is. Niemand moet wegkom met so n verskriklike moord nie.

christa ·

om te dink die person is dalk onder die mense in die hof. ek wonder of hy/sy se gewete nie pla nie. Dis net soos Gert Van Rooyen se saak, niemand weet niks

Des ·

Ja, dis nie lekker om verder te karring aan die saak nie. Maar ek hoop uit die diepte van my hart van Anika se moordenaar gevind en gevonnis sal word. Om iemand so pragtig so wreed te vermoord. Dit kan net iemand wees met haat en duiwels in hom. Hy sal weer moor. Ek kry jammer vir die mense wat deur haar dood geraak is.

Wonder* ·

soms kyk mens so vas teen ietsie dat jy nie die ander goed raak sien nie, miskien is dit goed laat hulle weer kyk na die saak.. miskien het hulle 8 jaar terug ietsie gemis en tel dit nou op..

LHS ·

Uiters tragiese geval waar n kind skynbaar deur die sisteem gefaal is. Dit skyn asof haar huislike omstandighede en n moontlike gebrek aan ouerleiding en toesig gelei het tot n tipe van lewe wat ook n lang lys seunsname ingesluit het. My vermoede is dat die skuldige of skuldiges nie onder diegene is wat huidiglik ondersoek word nie. Dit moet n uiters wreedaardige, gewetenlose skurk wees om , al was sy reeds dood, hande af te sny. Verseker iemand wat sy geken het uit die verlede. Begin maar profiel ondersoeke doen na al die persone op daardie vermelde lys.

LB S ·

Hoe weet jy dit was ‘n LANG lys van name? Stadig ook met die beskuldigings. Tensy jy die familie persoonlik ken stel ek voor jy tel maar jou woorde.

Arie ·

Ek het nog nie te hore gekom van waar iemand n mooontlike rede gegee het waarom haar hande afgekap en nou nog steeds soek is nie

Kan dit nie dalk wees dat die moordenaar ook geweet het van DNS getuienis onder die naels van die slagoffer en dan op so n wyse die getuienis vernieyig het om homself te vrywaar van vervolging.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.