Anika Smit-moord: Beskuldigde nie self in hof

Anika Smit

Anika Smit

André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit (17), het nie Vrydag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn nie.

Die staatsaanklaer het in Van Wyk se afwesigheid versoek dat hy vir ʼn verdere 20 dae vir waarneming in die Weskoppies-psigiatriese hospitaal bly. Die verdediging het nie die versoek teengestaan nie en gesê dit is in belang van geregtigheid.

Die saak is hierna tot 15 Desember uitgestel vir die afhandeling van die ondersoek. ʼn Verslag oor Van Wyk se sielkundige toestand sal na verwagting ook dan gereed wees.

Van Wyk, wat teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en lykskending, se ouers was Vrydag in die hof.

Hy is tydens sy vorige hofverskyning, op 26 September, na ʼn psigiatriese hospitaal verwys vir sielkundige waarneming. Die hof het egter op 25 Oktober gehoor ʼn bed by die Weskoppies-psigiatriese hospitaal het eers onlangs beskikbaar geraak en hy is toe vir die 30 dae waarneming gestuur.

Van Wyk, wat saam met Anika op skool was, is op 22 September deur ʼn staatsgeneesheer by die Pretoria-Noord-kliniek ondersoek, waartydens hy aangedui het hy het geheueverlies en kan nie onthou wat tydens Anika se moord gebeur het nie.

Van Wyk tydens sy vorige verskyning in die hof. Sy ouers sit skuins agter hom. Foto: Phillip Bruwer

Van Wyk tydens sy vorige verskyning in die hof. Sy ouers sit skuins agter hom. Foto: Phillip Bruwer

Die staatsgeneesheer het aanbeveel Van Wyk moet behoorlike waarneming ondergaan en was van mening dat Van Wyk die erns van die aanklagte teen hom verstaan, asook die gevolge van ʼn moontlike skuldigbevinding. “Hy kan nie beskryf wat tydens die voorval gebeur het nie en beskryf nie die relevante feite nie. Hy het geheueverlies oor die voorval en ontken hy sien drogbeelde of hallusineer,” lui die verslag.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee, ná ʼn lang geregtelike doodsondersoek in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man, wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Penelope ·

Ek voel so jammer vir die ouers en familie van Anika. Dis ‘n lang uitgerekte 6jaar sedert haar dood. Die moordenaar moet duidelik iets makeer om so wreed te moor en dan nog haar hande af te sny. Dis ‘n verskriklike daad om te pleeg en dan onthou hy niks?……..Klink bietjie verdag!
God slaap nie en hy sal moet verantwoording doen eendag, en dan gaan geheueverlies nie help nie!

Wonder ·

As hy geheueverlies het, hoe het hy onthou dat hy homself moes gaan oorgee??

E.K. - wil ook maar net noem... ·

Voel ook jammer vir die man se ouers… there, but for the grace of God go we…

Delia ·

Ja E.K, indien hulle Godvresende ouers is, voel ek bitter jammer vir hulle. Kan net dink deur watse diep waters hulle moet gaan en soos jy tereg se “there but for the gace of God, goes I”

ek ·

geheuverlies my allie!! hy het by sy “cell mates” lekker gepronk oor wat hy gedoen het, en hoe hy dit gedoen het!! sterkte aan die ouers.

Verıtas ·

Ek, as jy kennıs dra daarvan ıs dıt jou plıg om dıt aan dıe ondersoekbeamptes te noem. Deur dıt nıe te doen nıe, kan jy jouself blootstel aan vervolgıng.

Sputnik ·

Ja-nee “Ek”, hoe weet jy dié aantyging? Is jy ‘n selmaat?

Koper ·

Ongeag sy geestestoestand, hy is n wrede moordenaar. Ons raak moeg vir verskonings. Doodstraf moet terug!

Gatiep ·

Gee hom vir my…net n halfuur en sy geheue sal volkome herstel wees..

Frik ·

Stem saam met “ek”. Hoe kan hy onthou hy het moord gepleeg maar vergeet hoe hy dit gedoen het. Belaglik glo homself net soos Zuma, sit hom onder verpligte hipnose en trek alles uit hom uit

Kees ·

Hierdie forum beskerm die moordenaar, kommentaar wat vir die meisie opkom word delete. Waarom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.