Anika Smit-moord: ‘Geregtigheid kan nou geskied’

André Van Wyk Maandag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André Van Wyk Maandag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Anika Smit se pa en die twee jong mans wat as getuies geroep is in die geregtelike ondersoek na haar grudood ses jaar gelede, is dit almal eens dat hulle verlig is dat iemand uiteindelik weens haar moord in hegtenis geneem is.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Haar pa, Johan Smit, het op haar geskende liggaam afgekom. Nico Venter, haar ekskêrel, is sowat twee maande ná haar dood vir haar moord in hegtenis geneem. Die aanklagte teen hom is egter ’n paar maande later teruggetrek.

Damian Treeby was destyds saam met Anika in die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord, maar in ʼn hoër graad. Hy was die dag van Anika se moord nie by die skool nie. Hy het glo in ʼn Mxit-gesprek met ander skoolmaats daarvan gepraat om van iemand ontslae te raak en het krapmerke aan sy nek gehad.

Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir die tiener se dood aanspreeklik te hou.

Smit, Venter en Treeby was al drie belanghebbendes wat geroep is om in die geregtelike ondersoek te getuig. Dié drie was Maandag saam met hul onderskeie regsverteenwoordigers in die Pretoria-Noord-landdroshof waar landdros Pierre Wessels die geregtelike ondersoek onbepaald uitgestel het.

Die uitstel volg nadat Andreas Johannes (André) van Wyk homself Saterdag aan die polisie oorgegee het in verband met Anika se moord. Hy het ná die geregtelike ondersoek in die hof verskyn op aanklagte van moord, verkragting en lykskending. Wessels het gelas dit is in openbare belang om die verdagte te identifiseer, aangesien vorige verdagtes in die saak wel geïdentifiseer is en ook om bespiegeling te voorkom.

Van Wyk het vir regshulp aansoek gedoen waarna die staat versoek het dat die saak uitgestel word vir verdere ondersoek. Van Wyk moet weer op 26 September in die hof verskyn wanneer hy moontlik om borgtog sal aansoek doen. Hy bly in aanhouding by die Pretoria-Noord-polisiestasie tot en met sy volgende hofverskyning.

Treeby het buite die hof gesê Van Wyk was saam met hom en Anika op hoërskool maar dat hy hom nie goed geken het nie. Venter en Smit het gesê hulle ken nie vir Van Wyk nie, maar is verlig dat iemand in hegtenis geneem is en dat die reg sy gang moet gaan.

Treeby het gesê hy is dankbaar aan almal wat in sy onskuld geglo het. “Vir die laaste ses jaar was ek soos ʼn krimineel behandel en deur die openbare opinie skuldig bevind. Ek is deur verskeie mense, onder andere die media, uitgekryt as ʼn satanis en moordenaar,” het hy gesê.

“Ek het van dag een voorgehou ek is onskuldig en dit is nog steeds die geval. Ek het dreigemente ontvang veral, op Facebook waar ek deur die publiek skuldig bevind is. Ek hoop dat hierdie hoofstuk van my lewe nou afgehandel is. Geregtigheid sal nou seëvier.”

Lees vorige berigte van Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wonder maar net ·

Ek wonder maar net, niemand het aan die man as verdagte gedink nie, hy gee hom oor en vra regshulp,iewers maak iets nie sin. Ek hoop regtig dit is nie valse hoop vir hierdie ouers nie!

Cherokee ·

Dit het my ook opgeval dat hy homself oorgegee het maar om regshulp gevra het. Die gevolgtrekking is dat hy nie homself vrywillig oorgegee het nie maar gedwonge. Waarskynlik is bewyse uitgegrawe en miskien het die Mafia hom gesê om homself oor te gee of voor ‘n boendoehof tereg te staan. Daar is dinge wat bots met vrywillige oorgawe, dinge soos 6 jaar, en versoek om regshulp.

snoefie ·

hoekom was vyf jaar nodig voordat met die geregtelike ondersoek begin is? gaan dit nog vyf jaar vat voordat die saak afgehandel is?

zelda ·

Wow Mnr my vraag is hkm.u solank gevat het om uit te kom en te se wat gebeur het.Mnr u sal eers vir haar pa moet vergifnis vra en dan voor GOD moet staan en hom vra om jou te vergewe as jy dit gedoen.

Schalk ·

Zelda. Toe hy homself oorgegee het, het hy gese sy gewete het hom gepla. Hy sal moet vergifnis vra, jy is reg. Dit is God wat hom deur sy gewete gedryf het om skoon te kom. Kom ons vergeet hoe lank dit gevat het, punt is, hy het na vore gekom.

Faber ·

Een van die drie wat skielik nou so verlig is, het gister volgens n berig gese hy het Van Wyk nog nooit gesien nie, maar dit is moontlik dat hy hom al gesien het.
Dit klink vir my klaar na vure doodslaan. So kom ons wag maar en kyk of die verdagte noig medepligtiges uitwys

wondermaarnet ·

Dit sal baie interessant wees om ’n regskenner se mening te hoor wat betref die aanspreeklikheid van die staat en die media teenoor die persone wat valslik geïmpliseer is. Hierdie jongmans se lewes is onherroeplik verwoes deur hul name is aan die media te lek sonder dat daar voldoende bewyse teen hulle was. In die proses het die media hulself verryk met sensasionele berigte en selfs die foto’s is gepubliseer ten koste van twee jong mense wat beroof van vryheid en normale sosiale lewe.

CHRISTA ·

Wat gaan met ons Afrikaners aan? Ons word ook al hoe meer barbaars! Dan beweer ons dat ons uit die beskawing kom!!!

Grap ·

Ek dink hy is van die pampierstad van wyks die van wyks wat ek ken is goeie slim geleerde mense.

Sam ·

Christa, ons afrikaners kom nie uit die ‘beskawing’ uit soos jy dink nie. Die eerste massa moordenaar in SA was ‘n Afrikaner in 1902… Daar is wel iets soos geld, jaloesie en gierigheid, nie te praat van seksuele agendas ens. ‘Beskawing’ is nie net beskore vir Afrikaners nie, daar is baie nie-Afrikaners wat weet hoe om hulle self te gedra, en nie ‘barbaars’ op te tree nie.

E.K. - ek sê net! ·

Aan die wat vra hoekom vra hy vir regshulp – dis wanneer mens nie prokureurs kan bekostig nie AI TOG! Ek kry die onskuldiges soos die mnr Treeby wat weer weens geskinder en bespiegel sommer verdink is deur die “kenners” wat graag regter speel. Hulle is oral hier ook altyd gou om “slim” kommentare te lewer.

Ore ·

Hier is ‘n groot slang in die gras ……. Baie dinge is duister ….. Nog ‘n Oscar saak wat fyn gevolg moet word. As ek so tussen die lyne lees (my opinie) is hier meer as een moordenaar betrokke ….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.