Anika Smit-moord: Man weer in hof ná sielkundige waarneming

André van Wyk in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Die jong man wat hom aan die polisie oorgegee het in verband met die moord op Anika Smit (17), sal na verwagting Dinsdag weer in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn nadat hy vir sielkundige waarneming na die Weskoppies-hospitaal gestuur is.

André van Wyk (24), wat saam met Anika op skool was, het op 26 September vlugtig in dié hof verskyn op aanklagte van moord, verkragting en lykskending.

Die saak is uitgestel nadat die staatsaanklaer, adv. Tania Carstens, versoek het dat Van Wyk na ʼn psigiatriese hospitaal verwys word vir behoorlike waarneming en evaluering. Van Wyk is op 22 September deur ʼn staatsgeneesheer by die Pretoria-Noord-kliniek ondersoek waartydens hy aangedui het hy het geheueverlies en kan nie onthou wat tydens Anika se moord gebeur het nie.

Die staatsgeneesheer was van mening Van Wyk verstaan die erns van die aanklagte teen hom, asook die gevolge van ʼn moontlike skuldigbevinding.

“Hy kan nie beskryf wat tydens die voorval gebeur het nie en beskryf nie die relevante feite nie. Hy het geheueverlies oor die voorval en ontken hy sien drogbeelde of hallusineer,” lui die verslag.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee ná ʼn langdurige geregtelike doodsondersoek deur die hof in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.

Lees die vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Helen Doman ·

Hoe kan hy hom oorgee as hy nou nie kan onthou wat gebeur het nie? Hoe weet hy dan dat hy betrokke was?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.