Anika Smit-moord: Saak hervat

Van Wyk tydens sy vorige verskyning in die hof. Sy ouers sit skuins agter hom. Foto: Phillip Bruwer

Van Wyk tydens sy vorige verskyning in die hof. Sy ouers sit skuins agter hom. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit (17), sal ná verwagting Vrydag weer in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn, mits sy sielkundige waarneming afgehandel is.

Van Wyk, wat teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en lykskending, is tydens sy vorige hofverskyning op 26 September na ʼn psigiatriese hospitaal verwys vir sielkundige waarneming. Die hof het egter op 25 Oktober gehoor ʼn bed by die Weskoppies-psigiatriese hospitaal het eers onlangs beskikbaar geraak en hy is toe vir die 30 dae waarneming gestuur.

Indien die waarneming nog nie afgehandel is nie, sal die saak vir nog 30 dae uitgestel word.

Van Wyk, wat saam met Anika op skool was, is op 22 September deur ʼn staatsgeneesheer by die Pretoria-Noord-kliniek ondersoek, waartydens hy aangedui het hy het geheueverlies en kan nie onthou wat tydens Anika se moord gebeur het nie.

Die staatsgeneesheer het aanbeveel Van Wyk moet behoorlike waarneming ondergaan en was van mening dat Van Wyk die erns van die aanklagte teen hom verstaan, asook die gevolge van ʼn moontlike skuldigbevinding. “Hy kan nie beskryf wat tydens die voorval gebeur het nie en beskryf nie die relevante feite nie. Hy het geheueverlies oor die voorval en ontken hy sien drogbeelde of hallusineer,” lui die verslag.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee, ná ʼn lang geregtelike doodsondersoek in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man, wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tish ·

ai altyd die selfde storie – kan nie onthou nie, of jy word verwys na n inrigting, maar as jy n mens doodmaak weet jy dam goed wat jy doen
GOOI DIE SLEUTEL WEG DIE SAMELEWING HET JOU NIE NODIG NIE

Stem saam ·

Ek stem saam, ek dink die jong man het net bietjie aandag gesoek, maar hy gaan groot bollie kry as hy die reg en hof vir die gek gehou het vir aandag, as hy egter skuldig is hoop ek werklik hy kry gepaste straf, want sowaar, wat met hierdie meisie gebeur het is barbaars.

Elisabeth Kruger ·

As jy moordgepleeg het sal jy defnitief iets onthou, anders was jy n groot gevaar vir die samelewing die afgelope paar jaar. Hoeveel mense het jy nog doodgemaak wat jy nie van weet nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.