Anika Smit-moordsaak: Beskuldigde vra dalk borgtog

Andre van Wyk. Foto: Phillip Bruwer

Andre van Wyk. Foto: Phillip Bruwer

Vier maande nadat André van Wyk (24) hom aan die polisie oorgegee het in verband met die raaiselmoord op Anika Smit (17) in 2010, gaan hy na verwagting Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof aansoek doen om borgtog.

Ná Van Wyk die feestyd agter tralies deurgebring het, het sy regspan tydens sy eerste hofverskyning op 17 Januarie aangedui dat hy nou gereed is om om borgtog aansoek te doen aangesien die uitslae van die DNS-toetse bekend is.

Die staatsaanklaer het aan die hof gesê die staat en verdediging het ooreengekom om die saak tot vandag uit te stel vir ʼn formele borgtogaansoek.

“Ons voorneme was nog altyd dat ons ʼn borgtogaansoek sal indien sodra ons die DNS-uitslae gekry het en dit bekend is,” het Latham Dixon, Van Wyk se regsverteenwoordiger, tydens Van Wyk se vorige hofverskyning aan verslaggewers gesê.

Van Wyk gaan dalk self getuig of sy verklaring gaan deur sy regspan voorgelees word.

Die staat het versoek dat uitslae van die DNS nie toe bekend gemaak moet word nie.

Dit is nog nie bekend of die staat Van Wyk se borgtogaansoek gaan teenstaan nie.

Van Wyk het reeds 50 dae sielkundige waarneming by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria ondergaan. Die hof het tydens Van Wyk, wat teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en lykskending, se vorige hofverskyning op 15 Desember gehoor hy was nie geestesversteurd toe Anika ses jaar gelede vermoor is nie. Daar is ook vasgestel dat hy geskik is om verhoor te word.

Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het opdrag gegee dat Van Wyk in die hooggeregshof verhoor moet word sodra die saak gereed is.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee, ná ʼn lang geregtelike doodsondersoek in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man, wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wonder ·

Ek wonder of die André werklik iets met Anika se dood te doen gehad het.
Wat is die werklike storie agter hierdie storie.?.?
Ek hoop en bid vir Anika se familie dat die waarheid nou sal uitkom en dat die skuldige aan die pen gery kan word.

broos ·

en as hy hom nie self oorgegee het nie het die polisie nou nog na ‘n skuldige gesoek….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.