Anika Smit-moordsaak: ‘Smiley’ soek nou borgtog

Van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Van Wyk Dinsdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit (17), het Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

Die staatsaanklaer het aan die hof gesê die staat en verdediging het ooreengekom om die saak tot 31 Januarie uit te stel vir ʼn formele borgtogaansoek. Die landdros het die versoek toegestaan. Van Wyk, bekend as Smiley aan sy vriende, bly dus in aanhouding tot hy op 31 Januarie om borgtog sal aansoek doen.

Van Wyk se ouers was soos met al sy vorige hofverskynings weer in die hof. Anika se pa, Johan Smit, was ook in die hof. Van Wyk was skoongeskeer en het in dieselfde beige pak as voorheen verskyn.

Latham Dixon, Van Wyk se regsverteenwoordiger, het buite die hof aan verslaggewers gesê die uitslae van die DNS-toetse is gister aan hulle bekend gemaak. “Die staat het versoek dat ons dit in die stadium nie bekend maak nie. Ons houding was nog altyd dat sodra ons die uitslae gekry het en dit bekend is ons dan ʼn borgtogaansoek sal bring. Ons het in hierdie stadium nie ʼn aanduiding of die staat die borgtogaansoek gaan teenstaan nie.”

Van Wyk se verdediging het aanvanklik aangedui hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie. Dit was nadat hy vir 50 dae sielkundige waarneming by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria ondergaan het. Die hof het tydens Van Wyk, wat teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en lykskending, se vorige hofverskyning op 15 Desember gehoor hy was nie geestesversteurd toe Anika ses jaar gelede vermoor is nie. Daar is ook vasgestel dat hy geskik is om verhoor te word.

Van Wyk het die feestyd agter tralies in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria deurgebring. Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het opdrag gegee dat Van Wyk in die hooggeregshof verhoor moet word sodra die saak gereed is.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee, ná ʼn lang geregtelike doodsondersoek in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man, wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Pam ·

Nou wat het die kleur van die man se pak klere met die saak uit te waai ? Ai ai ai.

Hilda ·

Dis nou vir mense soos jy Pam wat nie verstaan hoekom hy weer in dieselfde pak afgeneem word nie! Jy weet soos mense wat hul breins iewers verloor het.
Ek weet nie wat soek julle nog op Maroela Media as julle nooit iets ordentliks kan se nie. Alles is elke dag negatief. Genade tog die dinge word gese soos Maroela dit sien.
Soms vergeet ek julle is paviljoen sitters. Delete Maroela van jul fone af as dit jul so irreteer. Ek het nog nie een dag iets gelees wat jul positief se nie. Word net groot en DINK voor julle sulke swak kommentaar lewer.

Delia ·

Ag toe nou Hilda, Pam is heeltemaal reg….wat het sy kleredrag met die hele saak te doen? Jou aanval op haar en ander mense wat kommentaar lewer, is totaal onvanpas en kleinlik….word volwasse asb!

Irene ·

Goed gestel, Hilda.

Pam – en net ter inligting, dis Joernalistiek 101 – mens doen verslag oor die betrokke persoon se kleredrag. As jy wil weet hoekom, gaan vors dit bietjie na.

JJ ·

Sal bitter graag wil weet wat is die uitslag van die DNA toetse. Kan nie verstaan hoekom dit nie bekend gemaak mag word nie.

Dedré ·

Nou waar sit ñ mens die pot mis en besluit om ñ ander mens dood te maak? Ek verstaan nie daai konsep nie!

Snuffels ·

Laat hy haar hande gaan uitwys – dit sal ‘n lang, uitgerekte saak voorkom… open & shut!

Snuffels ·

Laat hy haar hande gaan uitwys – dit sal ‘n lang, uitgerekte saak voorkom… open & shut!

Alicia ·

hy het homself oorgegee hoe kan hy aansoek doen vir borg? en hoekom vat dit so lank om hom tronk toe te stuur , hy het dan erken hy het haar vermoor

m ·

Hierdie is ook een van daai sake wat vir jare en jare gaan aanhou.

rose ·

Ek wil my verstout om te se hy het nie die moord gepleeg nie. Wat hom laat besluit het om homself te gaan oorgee weet ek nie maar die hele storie maak nie vir my sin nie.

Kobus ·

Rose ek geneig om saam te stem…daardie borgtog aansoek is nie verniet…daar nie bewyse dat hy die dade gepleeg het….want wat is die rede dat die DNS uitslae nie bekend gemaak kan word…dit sal as motivering dien vir borg einde Jan.

Katie ·

Ek stem….weet nie of hy dit gedoen het nie…iets is nie reg nie….alles pas net nie. Baie mense erken hulle het iets gedoen, maar dan word bewys hulle het nie. Of hulle erken later hulle het nie…miskien vir die aandag wat hy kry?

Professor ·

Net die moordenaar sal weet waar die hande is… Indien “Smiley” dus die moordenaar is, sal hy mos weet waar die hande is, of wat daarvan geword het… duh!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.