Die Pretoria-Noord-landdroshof het Donderdag gehoor André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit (17), het geensins aan ʼn geestesversteuring gely toe Anika ses jaar gelede vermoor is nie.
Van Wyk het soos tevore in dieselfde beige pak in die hof verskyn waar hy teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en lykskending.
Hy was vir nagenoeg 50 dae lange sielkundige waarneming by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria gestuur.
Adv. Tania Carstens, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê die verslag van die hospitaal is beskikbaar en dui aan dat Van Wyk geskik is om verhoor te kan word.
Hy het verskeie toetse en skanderings ondergaan en volgens die uitslag van dié toetse het hy aan geen geestesversteurings ten tye van die voorval gelei nie.
Van Wyk se verdediging het aangedui hulle gaan nie in dié stadium om borgtog aansoek doen nie.
Die saak is tot 17 Januarie uitgestel. Hy bly in aanhouding. Daar word nog vir uitslae van DNS-toetse gewag.
Die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) het opdrag gegee dat Van Wyk in die hooggeregshof verhoor moet word sodra die saak gereed is.
Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.
Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee, ná ʼn lang geregtelike doodsondersoek in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man, wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.
Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.