Anika Smit-moordsaak: Verdagte weer in hof

André van Wyk (24). Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24). Foto: Phillip Bruwer

André van Wyk (24), wat aangekla word van die moord op Anika Smit (17), sal na verwagting Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.

Die hof het tydens Van Wyk, wat teregstaan op aanklagte van moord, verkragting en lykskending, se vorige hofverskyning op 15 Desember gehoor hy was nie geestesversteurd toe Anika ses jaar gelede vermoor is nie. Daar is ook vasgestel dat hy geskik is om verhoor te word.

Die bevinding is gemaak nadat hy vir 50 dae sielkundige waarneming by die Weskoppies- psigiatriese hospitaal in Pretoria ondergaan het.

Van Wyk se verdediging het toe aangedui hulle gaan nie in dié stadium om borgtog aansoek doen nie. Van Wyk het die feestyd agter tralies in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria deurgebring.

Die saak is toe tot 17 Januarie uitgestel. Daar word nog vir die uitslae van DNS-toetse gewag.

Die direkteur van openbare vervolging (DOV) het opdrag gegee dat Van Wyk in die hooggeregshof verhoor moet word sodra die saak gereed is.

Anika is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Wyk het hom op 17 September aan die polisie oorgegee, ná ʼn lang geregtelike doodsondersoek in ʼn poging om haar moordenaar te vind. Anika se pa, haar destydse kêrel en nog ʼn man, wat saam met haar op skool was, was belanghebbendes wat in die ondersoek getuig het. Dié ondersoek is intussen onbepaald uitgestel, hangende die uitkoms van Van Wyk se verhoor.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Genade dit is 6 jaar later. Die arme ouers van Anika wat nie tot ruste kan kom nie. Ek is jammer vir julle en hoop dat die saak spoedig afgehandel sal word en die skuldige vir baie lank weggesit sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.