Anika Smit se ma opgespoor

Charlotte Eksteen, Anika se ma tydens ‘n vorige geleentheid by die hof. Foto: Phillip Bruwer

Charlotte Eksteen, ma van die vermoorde Pretoria-tiener Anika Smit, is opgespoor nadat sy vroeër nie bereik kon word om die geregtelike ondersoek na haar dogter se moord by te woon nie.

Haar prokureur, Arno Olckers, het Woensdag tydens verrigtinge in die Pretoria-Noord-landdroshof kommer uitgespreek omdat hulle haar nie kan opspoor nie en het die media se hulp versoek om met haar in verbinding te tree.

Olckers het gesê kort nadat die mediaberigte verskyn het, het Eksteen sy kantoor gekontak. Hy het gesê dit blyk asof sy van selfoonnommer verander het sonder om sy kantoor in kennis te stel.

Dit was nie dadelik duidelik waar sy tans is of wanneer sy by die hofverrigtinge gaan aansluit nie. Sy woon in Mosselbaai. Eksteen is ʼn belanghebbende getuie in die geregtelike ondersoek.

Anika (17) is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir die tiener se dood aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek ʼn doodloopstraat bereik het.

Buiten Eksteen is Johan Smit, Anika se pa, Nico Venter, haar ekskêrel Damian Treeby, ʼn skoolmaat en André van Wyk, ook ʼn skoolmaat, ook belanghebbendes in die ondersoek.

Die ondersoek duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alida ·

Hoekom haar ma betrek. Sy was nie eers in Gauteng tydens die moord op haar kind nie.

Piet ·

Ek dink hulle soek vergeefs na die moordenaar tussen die skoolkinders. Dit is algemene kennis dat hande gereeld in muti handel gebruik word. Die polisie moes mense wat naby aan haar was onder n vergrootglas bekyk en dan op die hande fokus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.