Charlotte Eksteen, ma van die vermoorde Pretoria-tiener Anika Smit, se regsverteenwoordiger het Woensdag kommer uitgespreek omdat hulle haar nie kan opspoor om die geregtelike ondersoek na haar dogter se moord by te woon nie.
Haar prokureur, Arno Olckers, het aan landdros Pierre Wessels gesê verskeie pogings om haar op te spoor was onsuksesvol en Olckers het ʼn beroep op die media gedoen om haar te help opspoor.
Adv. Tania Carstens, staatsaanklaer, het gesê die staat het reeds reëlings getref om haar na Pretoria te vervoer en het ook verblyf gereël, maar sy het nie Dinsdag vir verrigtinge opgedaag nie. Eksteen is een van die belanghebbende getuienisse in die ondersoek. Carstens het gesê daar sal steeds gepoog word om met haar in verbinding te tree. Eksteen was tydens die vorige sitting van die ondersoek in Mosselbaai woonagtig.
Olckers het ʼn beroep op mense gedoen wat weet waar Eksteen haar bevind, om sy kantoor by 012 543 2780 of 072 931 8416 te bel.
Maroela Media het vroeër berig Anika (17) is op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor. Die moordenaar het albei haar hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.
Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir die tiener se dood aanspreeklik te hou nadat die polisie se ondersoek ʼn doodloopstraat bereik het.
Eksteen, Johan Smit, Anika se pa, Nico Venter, haar ekskêrel, Damian Treeby, ʼn skoolmaat en André van Wyk, ook ʼn skoolmaat, is belanghebbendes in die ondersoek
.
Die ondersoek duur voort.
Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.
Ek dink ie Sy wil nie meer iets bywoon wat iets met haar dogter se dood te doen het nie. Siestog want elke keer word alles van voor af rou gemaak. ???
Ek stem saam, dit word nou al amper 8 jaar sedert Anika vermoor is, wanneer kom mens nou tot berusting?
Wanneer geregtigheid geskied het.
Sy is reeds gevind. Sy het haar selfoon nr verander sonder om haar prokureur daarvan in kennis te stel.
Ek sou eerder sê dat sy ‘n ‘getuie’ is as ‘n ‘getuienis’.