Anika Smit: Staat roep nuwe getuie ná pa se onthulling

Die nuwe belanghebbende in die saak, Ryno Brink, Woensdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Bewerings wat Dinsdag tydens die geregtelike ondersoek na die moord op Anika Smit (17) in die hof aan die lig gekom het, het daartoe gelei dat nog ʼn persoon Woensdag as ʼn belanghebbende in die ondersoek bygevoeg is.

Die geregtelike ondersoek is in September 2015 deur landdros Pierre Wessels in die Pretoria-Noord-landdroshof van stapel gestuur nadat die polisie se ondersoek na die moord doodgeloop het. Die belanghebbendes in die ondersoek was tot dusver Anika se pa, Johan Smit, Anika se ma, Charlotte Eksteen, ʼn ekskêrel, Nico Venter, en twee destydse skoolmaats, Damian Treeby en André van Wyk.

Maroela Media het Dinsdag berig hoe Anika se pa ná sy dogter se wrede moord, op 10 Maart 2010 by hul huis in Theresapark in die noorde van Pretoria, begin het om aantekeninge wat van datums voorsien is te neem in ʼn poging om geregtigheid vir sy dogter se moord te probeer vind.

Skokkende inligting het Dinsdag tydens kruisondervraging van Anika se vriendin, Hanrika Beukes, in die hof aan die lig gekom toe die hof gehoor het Anika was in ʼn stadium swanger en moes ʼn aborsie ondergaan. Die hof het ook gehoor hoe ene Ryno Brink glo by die saak betrokke was en glo Venter se hulp ontbied het op die dag van haar moord.

Brink was vermoedelik ʼn vriend van Venter en ʼn voormalige skoolmaat van Anika. Hy is Woensdag geroep om in hof te kom getuig.

Volgens Smit se aantekeninge, wat deur sy prokureur Stef Kruger as ʼn bewysstuk ingedien is, het Beukes glo op Donderdag 8 Julie 2010 met Smit gepraat en gesê sy het gehoor dat Brink blykbaar gesê het hy was daar [by Anika se huis] die dag van haar moord.

Smit se aantekening lees verder: “Sy [Beukes] het gesê hy [Brink] wou seks gehad het. Toe sy geweier het, het hy haar in die gesig geslaan en haar neus gebreek. Anika het blykbaar in haar kamer ingehardloop en die deur probeer toedruk. Wat daarna??? [sic].

Charlotte Eksteen, Anika se ma, Woensdag buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

“Toe het Ryno blykbaar vir Nico gebel wat ook hiernatoe gekom het. Volgens haar storie is daar vyf persone betrokke wat ek betwyfel, want hoe meer mense hoe groter die kans om aandag te trek. Die siener praat van drie persone. Ek weet nie waar sy aan die storie kom nie, ek het haar ook nie gevra nie.”

Dit is nie in die stadium duidelik na wie Smit as “die siener” verwys nie.

Beukes, tans ʼn sersant in die polisie se forensiese eenheid in Silverton wie se pa ʼn kaptein vir die Valke is, het ten sterkste ontken dat sy ooit dié gesprek met Smit gehad het. Sy het getuig sy kan nie aan ʼn rede dink hoekom Smit dié aantekening sou opmaak nie. Sy het gesê sy het in daardie stadium glad nie vir Venter of Brink geken nie.

Sy het wel erken sy het een keer ná Anika se moord vir Smit besoek en was vir sowat tien minute in die huis saam met hom voordat sy weer gery het. Die hof het ook vroeër gehoor hoe haar pa glo kontak met die destydse ondersoekbeampte van die moordsaak gehad het en glo foto’s van die moordtoneel in ʼn kluis in sy huis aangehou het.

Aanklaer Tania Carstens het in die hof aangedui dat dit die staat se voorneme is om Brink as ʼn getuie te roep nadat die stellings en bewerings van sy betrokkenheid Dinsdag deur die oorledene se pa geopenbaar is.

Johan Smit, Anika se pa, Woensdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

“Sou die implikasie egter wees dat die hof bevind dat Brink as ʼn belanghebbende verklaar word, is dit in sy beste belang as hy ʼn regsverteenwoordiger kry. Hy het ook reeds twee verklarings ingedien wat teenstrydig is. Die eerste verklaring was as alibi vir Venter wat verskil van ʼn tweede verklaring. Die implikasie daarvan is dat dit moontlik kan neerkom op meineed of regsverydeling sou die staat dit oorweeg om hom strafregtelik te vervolg. Dit sal dus beter vir sy regte as ʼn getuie wees as hy behoorlike regsverteenwoordiging kry,” het Carstens gesê.

Wessels het gesê dit is die eerste keer wat Brink as ʼn persoon van belang in die ondersoek geïdentifiseer is. “Daar is nog geen ander verklarings of bewyse wat hom met die saak verbind nie, buiten gister se openbaring. Die hof gaan hom egter as ʼn belanghebbende by die ondersoek voeg. Ons kan dus nie verder met die aangeleentheid voortgaan as sy regsverteenwoordiging nie uitgeklaar is nie,” het Wessels gesê.

Anton van Staden, vir Venter, asook adv. Corrie Nieuwenhuys, Treeby en Van Wyk se regsverteenwoordiger, en Kruger het saamgestem dat dit in Brink se beste belang sal wees as hy ʼn regsverteenwoordiger aanstel.

Brink het aangedui hy is van plan om met ʼn prokureur in gesprek te tree en sou hy nie regsverteenwoordiging kan bekostig nie, dat hy om regshulp sal aansoek doen.

Wessels het die saak tot September uitgestel sodat Brink regsverteenwoordiging kan kry. Die inligting in die saak sal aan sy verteenwoordiger verskaf word waarna ʼn nuwe datum bepaal sal word vir die geregtelike ondersoek om voort te gaan.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Theo ·

Sjoe! lyk my as ek so vlugtig deur die hofsaak lees,het dinge ook maar rof met die arme meisiekind gaan.

Nuuskierig ·

Ai die arme kind. Moontlik was sy nie gelukkig by haar ma nie moontlik was die ma strenger as die pa ?? Bitter moeilike stadium van n kind se lewe daai en as jy nie bewus is wat jou kind hom/haar mee besig hou nie kan dinge lelik uitdraai. My hart bloei vir die ouers wat nou weer deur al hierdie trauma moet Gaan

Vriendin ·

VanAfrika moet nie so gou mense judge wat jy nie ken nie. Eintlik is Ryno nie soveel ouer nie. Ryno is ń wonderlike mens met ń hart van goud wat nie vlieg sal skade aandoen nie

NieVanAFrikaNie ·

Ek stem saam met Vriendin, ek was saam Ryno op skool en hy is werklik aangenaam.
Ek was eintlik geskok oor wat ek hier gelees het. Dit wat daar beslryf is van hom PAS GLAD NIE by die persoon met wie ek al n paar keur gepraat het nie.

O jinne ·

O jinne, nou na al die jare raak dit interessant, vir die arme ouers, hoop ek dit stop nou, maar op die anderkant vir hulle hoop ek hul hoor meer. Die skuldige of skuldiges, moet mos elke dag opstaan met die wete. Die sloer van die saak, maak hul ook bietjie op hul senuwees, so dalk is dit ook goed, mens kan mos nie dit aan ‘n ander een doen en net wegloop nie.

E ·

Daar word so gekyk na die vriendekring met al die stories van satanisme en mixt boodskappe. Eintlik storetjies wat tienners opmaak as hul jonk is om aandag te trek.
Dalk waar, dalk nie.
Maar het iemand al gedink dat dit dalk iemand van buite kon wees?
Sy was alleen by die huis, dalk het ń vreemdeling haar dopgehou?

Abe ·

n Man loop by n aanklagkantoor in en le n bekentenis af dat hy die grusame moord gepleeg het. n Persoonlike skulderkenning is tog een van die sterkste bewyse in n moordsaak. Ses persone word geidentifiseer as belanghebbendes by die saak. Hoe op aarde kan die polisie nog nie genoeg stof he om n saak te open nie. Moet elkeen van daardie persone se betrokkenheid nie in n hof getoets te word nie?

Noujanê ·

Korreksie, dit was nie Venter se kar nie maar sy Pa sin, die mat is uitgesny getoets en bevind dat nie bloed is nie. Ek dink dit is hoekom dit nie weer genoem is nie.

Landras ·

Ek volg ook al die storie vandat Anika vermoor is, ons het op daai stadium in Theresapark gebly – ek wil weet wat het geword van die vrou met die baba stootwaentjie wat ook in die erf was , ek onthou ook sy móes die hond toemaak – so die persoon moes aan haar bekend gewees het . Ek hoop die skuldige word gekry, al was sy nie ‘n engeltjie nie bly dit hulle kind .

KoosGrapJas ·

Hier is ñ groot slang in die gras. Ek hoop hulle vang hom gou.

Mimi ·

Ja die feit dat sy die honde toegemaak het, om iemand in te laat, laat bleik dat sy die persoon geken het. Glo my mense kan so goed soos goud lyk..maar dis geeen waarborg dat daardie persoon nie die pad byster raak en by allerande ongeoorloofde seksuele praktyke betrokke raak en heeltemal buite karakter optree nie. Die feit dat 3 persone se verklarings weggeraak het, is uiters kommerwekkend!!! En dat sekere DNA uitslae na n jaar nog uitstaande is, laat n mens verder wonder. Dis al asof iemand met hulp van binne die polisie, besig is om n moordenaar te beskerm. Mag die waarheid seevier!

LHS ·

Snaaks almal kan aflei wat die omstandighede moes wees waarin daardie kind moes grootword en toe reeds vasgevang in was maar niemand waag dit om dinge by die naam te noem nie. Hoekom was sy so baie afwesig by die skool? Die lys mans name wat gevind is soos getuig is deur haar voormalige vriendin wat nou self in die polisie is, dit is verseker nie normaal of gesond gewees vir n dogter van haar ouderdom. Voeg daarby n moontlike aborsie en dwelmgebruik, nou staan die deur skielik wawyd oop oor wie haar kon vermoor het. Kon dus ook n persoon of persone gewees het wat sy toe vir die eerste keer ontmoet het. Hoe moeilik kan dit nou wees om met die semen wat op haar gekry is forensies dmv DNA toetsing baie vinnig te kan bepaal wie was nie betrokke nie en/of dan wie dit was.

Abe ·

LHS,
Nou wil ek graag weet, is daar met al die gegewens wat jy noem plus nog meer, nie genoeg bewyse om n saak oop te maak nie??

Pop ·

Ek vermoed haar hande is afgekap omdat sy n helse geveg opgesit het en daar onder haar naels hope velle en ander DNS was. Die spoor is nou al doodgeloop, so ek hou nie asem op vir enige bewyse om nou gekry te word nie.

Wynand ·

Hierdie is die soort nuus wat n’ pa laat wakker le, Gelukkig is dit in goeie hande. Dit word tans in n’ hof getoets en mens ken nie eens jou huweliks maat volkome nie. Kom ons le ,aar nog wakker

lulu ·

JOJO
Hierdie saak klink amper soos n BFF saak
maar druk hul mnr die ondersoeker
HIER gaan n vrot ou knak
So baie sterkte aan die ouers

Antiestabliesment ·

Speel ons nou Cluedo met al hierdie vrae en antwoorde?

He He

My vraag:
Wie sou geweet het hoe om ‘n moordtoneel so te verwoes dat bewyse meer chaos veroorsaak as leidrade lewer?

moeks ·

Hierdie getuienis kan maklik bevestig word. Het die nadoodse ondersoek bewyse dat haar neus gebreek was? Wat’n afgryslike moord, my hart gaan uit aan haar ouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.