Anika Smit: Vriendin op WhatsApp aangevat oor getuienis

Anika Smit.

ʼn Jare lange vriendin van Anika Smit, die 17-jarige meisie van Pretoria wat in Maart 2010 wreed vermoor en seksueel aangerand is, en wie se hande afgesny is, is glo Maandag deur ʼn ander vriendin wat vroeër getuig het, Angelique van Niekerk, as leuenaar uitgemaak.

Anika se vriendin Hanrika Beukes is ʼn sersant in die polisie se forensiese eenheid in Silverton, en getuig tans in die geregtelike ondersoek na Anika se moord in die Pretoria-Noord-landdroshof.

Beukes en Anika het mekaar al van laerskooldae af geken. Sy en Anika was ook saam in Hoërskool Gerrit Maritz, maar nie in dieselfde graad nie en sy is twee jaar ouer as Anika.

Adv. Tania Carstens, staatsaanklaer, het – toe die verrigtinge Dinsdag begin het – aan landdros Pierre Wessels gesê een van die partye oor wie Beukes Maandag in die hof getuig het, het met Beukes kontak gemaak en dat die boodskap “nogal redelik aanvallerig” was.

Carstens het versoek dat, sou mense wie se name tydens die geregtelike ondersoek genoem word nie saamstem met die getuie se weergawe van gebeure nie, hulle hulself tot ander kanale moet wend as om die getuies te dreig.

Wessels het harde woorde gehad vir alle partye wat met getuies inmeng.

“Die hof is nie sonder die nodige tande om op te tree indien mense nie die bevele van die hof gehoorsaam nie. Indien iemand mense dreig, hetsy op sosiale media, persoonlik op WhatsApp, SMS of e-pos. In die omstandighede waar ʼn persoon gedreig word wat besig is om te getuig, kan dit neerkom op ʼn kriminele oortreding van intimidasie,” het Wessels gesê.

“Die boodskap wat hier oorgedra moet word, is: As ʼn getuie wat getuig dreigemente ontvang oor haar waarneming van gebeure, kom dit nie net op intimidasie neer nie, die hof kan selfs so ver gaan om dit te beskou as ʼn poging tot regsverydeling.”

Wessels het gesê dit staan enige persoon wat ongelukkig is oor wat in die hof gesê word, en ʼn ander weergawe voor die hof wil plaas, vry om die staat te nader en ʼn beëdigde verklaring by die staat te kom aflê.

“Die voorval moet u nie verhoed om met vrymoedigheid met die saak voort te gaan nie,” het Wessels gesê voor verrigtinge hervat het.

Onder kruisondervraging deur adv. Corrie Nieuwenhuys het hy Beukes oor die konfrontasie uitgevra.

“Ek het 21:31 in die bed gelê en toe kom die boodskappe op WhatsApp in van Angelique,” het Beukes gesê en ʼn boodskap van haar selfoon af voorgelees.

Verslaggewers en belangstellendes Maandag (20 Augustus 2018) in die hof by die geregtelike ondersoek na die moord op Anika Smit. Foto: Phillip Bruwer

Die boodskap lui: “Hi ek lees nou eers die leuens wat jy in die hof kwyt geraak het. WTF!!” [sic].

Beukes het gesê sy het aangedui sy is nog onder eed en kan nie verder met Van Niekerk praat nie.

Van Niekerk het na ʼn berig op Maroela Media verwys en wou by Beukes verneem hoekom sy glo in die hof gelieg het deur te sê sy was “histeries” toe sy tydens ʼn kuiersessie by Beukes se huis glo vir Anika met ʼn mes wou aanval.

“Wat het ek aan jou gedoen dat my naam so beswadder word op sosiale media?” wou Van Niekerk weet, waarna Beukes weer vir haar gesê het sy mag nie tans terwyl sy onder eed is met enigiemand oor die saak praat nie. Sy het Van Niekerk daarna geblok.

Beukes het op ʼn vraag deur Nieuwenhuys getuig dat sy nie leuens vertel nie.

Maroela Media het Maandag berig die hof het gehoor hoe Anika en Beukes se vriendekring in ʼn stadium in 2006 by Beukes se huis gekuier het toe een van hulle vriendinne, Van Niekerk, vir Anika met ʼn mes wou steek omdat Anika met Van Niekerk se ekskêrel by Beukes se huis opgedaag het.

“Sy [Van Niekerk] het gedrink voordat Anika en haar kêrel daar opgedaag het. Angelique was histeries daaroor en het die mes in die kombuis gegryp. Ek het egter met haar gepraat en haar kalmeer en sy is na ʼn kamer toe. Die res van die vriende het verder gekuier en Anika het op haar kêrel se skoot gesit. Angelique het later by ons aangesluit. Sy was baie rustiger en het om verskoning gevra en almal het vrede gemaak. Die twee het ná die voorval baie goeie vriende geraak en oor dié voorval gelag,” het Beukes getuig.

Die verhoor duur voort.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa ·

Was hierdie persoon nie vroeër beskikbaar as getuie nie?

Colleen ·

Nou na al die jare kom hierdie getuienis voort oor ‘n mes wat uitgepluk was??? Is dit oor swak diens van die polisie?

Anni ·

Almal soek na ‘n moordenaar, pasop dat dit nie ‘n moordenares is nie. Ek het hierdie ding lankal vir my man gese, die Polisie soek na ‘n man, dis dalk nog ‘n vrou gewees. Dat Anika dalk uit jaloesie deur ‘n mansvriend se eks of meisie vermoor is. Jaloesie, veral as die by die liefde kom, laat mense mal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.