Anika Smit: Wie is die man op die motorfiets?

Anika Smit

Die Pretoria-Noord-landdroshof het Woensdag in die geregtelike ondersoek na Anika Smit (17) se onopgeloste wrede moord gehoor sy is ʼn paar weke voor haar dood saam met ʼn onbekende jongman op ’n motorfiets gesien.

Angelique van Niekerk, een van Anika se vele vriendinne, is geroep om te getuig. Die geregtelike ondersoek het in September 2015 begin om te bepaal of daar genoeg getuienis is om iemand vir die tiener se dood aanspreeklik te hou. Die ondersoek het Dinsdag ná ʼn lang uitstel hervat.

Anika se ouers, Charlotte Eksteen en Johan Smit, Nico Venter, haar ekskêrel, Damian Treeby, ʼn skoolmaat, en André van Wyk, ook ʼn skoolmaat, is belanghebbende getuies in die ondersoek.

Van Niekerk was 20 jaar oud toe Anika op 10 Maart 2010 in Theresapark, in die noorde van Pretoria, vermoor is. Die moordenaar het albei Anika se hande afgesny en dit van die toneel verwyder. Sy is ook seksueel aangerand en het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad. Haar hande is nooit gevind nie.

Van Niekerk het getuig sy ken Anika sedert 2004 en dat hulle saam in die Hoërskool Gerrit Maritz was. Hulle was nie in dieselfde graad nie. Hoewel hulle gereeld saam gekuier het en soms alkoholiese drankies sou drink, was hulle net vriende, maar nie “beste vriende” en vertrouelinge nie. Sy beskryf Anika as iemand wat spontaan, vriendelik en glad nie teruggetrokke was nie.

Van Niekerk het getuig sy en haar vyf dae oue babatjie was die dag van die moord by haar huis op ʼn kleinhoewe sowat 20 km van die moordtoneel. Sy beweer sy het die dag voor Anika se moord met haar op MXit gepraat. Anika het glo tydens die gesprek vir Van Niekerk van haar liefdesprobleme met Venter vertel.

“Ek het nie vir Nico geken nie, maar geweet hulle het uitgegaan. Ek weet nie hoe lank hulle saam was nie. Anika het vir my gesê hy is baie besitlik en jaloers. Sy het gesê hulle was by die aksiekrieket en sy het met iemand wat wou selfmoord pleeg op die telefoon gepraat om hom te keer om dit te doen. Nico het haar toe voor almal daarvan beskuldig dat sy rondslaap. Sy het toe vir my gesê sy gaan hom los,” het Van Niekerk getuig.

Sy het gesê sy kan nie ander gevalle onthou waar Anika liefdesprobleme met Venter met haar bespreek het nie, maar onthou haar MXit-statusse was meestal hartseer.

Anika Smit

Anton van Staden, Venter se regverteenwoordiger, het in reaksie hierop gesê sy kliënt sal getuig dat daar wel ʼn voorval by die aksiekrieketbaan was. “Maar dit was lank voor die tyd. Hy [Venter] het gespeel en sy [Anika] het gesê sy wil saamgaan. Terwyl hy gespeel het, het sy die paviljoen verlaat en by ander mense gaan kuier. Hy sal getuig daar is nie ‘n ‘scene’ voor almal gegooi nie. Hy sal openlik getuig daar was wel voorvalle met Anika en ander ouens wat krapperigheid veroorsaak het. Hulle het skaars begin uitgaan en hy wou dit verder vat. Hy het egter gesien sy is nie ernstig nie en dit het aanleiding gegee dat die twee op 7 Maart uitgemaak het,” het Van Staden gesê.

Anika het glo sowat drie weke voor haar moord een dag saam met ʼn onbekende man op ʼn motorfiets by Van Niekerk se huis op die kleinhoewe aangekom vir ʼn “vinnige stop en kuier”.

“Ons het net vlugtig buite die huis gestaan en gesels. Hulle het nie in die huis ingekom nie. Die twee het verlief voorgekom; sy was toe egter nog saam met Nico. Ek kan nie die man se naam onthou nie. Hy het donker hare gehad en oorbelle gedra. Hy het ʼn blou Honda Fireblade-motorfiets gery. Ek het hom daai dag gesien en weer die dag van Anika se begrafnis.”

Geen van die belanghebbendes weet wie dié motorfietsryer is nie. Daar is in die hof aangedui dat nadere ondersoek gedoen gaan word om te bepaal wie hy is.

Van Niekerk het gesê Anika se pa was baie streng met haar en haar ma was meer toegeeflik en sou haar meer laat uitgaan. Sy was nie bewus dat Anika enige vyande gehad het en dat haar lewe in gevaar was nie. Sy het getuig sy weet nie of Anika by satanisme, die okkulte of met dwelms betrokke was nie.

Die ondersoek duur Donderdag voort.

Lees alle vorige berigte oor Anika Smit op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jip ·

Die 1 is ‘n skoolfoto, dalk bietjie ouer (of andersom)en die ander is as sy uitgegaan het.

Sarie ·

Uvonka ek wil dieselfde vraag vra want dit lyk nie vir my so nie

Claudia ·

Boonste foto is n skoolfoto met skoolklere en sonder grimering. By die onderste foto is sy gegrimeer en het sy nie n skooluniform aan nie.

MvN ·

Dit is ja, dit is dieselfde fotos wat al vir die laaste paar jaar van haar gepubliseer is…

Leeutjie ·

Dit is vreemd! Op die skoolfoto lyk haar oe bruin en die meer volwasse foto blou! Dit is nogal misleidend!

Tanya Kruger ·

Jip, dit is Anika. Een is ‘n skoolfoto en die ander een het sy grimering aan.

Koeksuster ·

Ek sê maar net die vriendin onthou gied dis n blou honda fireblade maar sy kan nie die knaap se naam onthou nie….. vreemd!

Se net... ·

Die kinders gebruik filters as hulle fotos neem, of edit dit na die tyd Ek moes al n paar keer dubbel kyk om my eie kinders te herken.

Ekke ·

Is die persoon wat die medisyne die selfde dag van haar moord af gelewer het ,ook op die lys van mense wat verdink word?? Of as getuie geroep!? het ek dit gemis???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.