Animasieflieks nou in Afrikaans op kykNET

(Foto: Unsplash)

Die kleinspan kan van Januarie af uitsien na ʼn hele rits oorgeklankte animasieflieks op kykNET.

Die kanaal sê die tradisie van animasie oorgeklank in Afrikaans strek dekades terug en gunstelinge soos Heidi het ʼn gesogte plek in die kanon van Afrikaanse televisievermaak.

“Kinders geniet animasie en daar is tans nie genoeg kinderprogramme vir ons Afrikaanse kinders nie. Daarom is die besluit geneem om nuwe en moderne animasieflieks vir kykNET oor te klank,” sê Nicola van Niekerk, senior bestuurder van teksgedrewe produksies en aktualiteit.

Eerste aan die beurt is Wiekie die Viking en die Towerswaard (die oorgeklankte weergawe van Vik the Viking and the Magic Sword).

Wiekie se grootste begeerte is om aan sy kaptein-pa se sy te wees op hul reise vol avontuur. Ná ʼn tragiese gebeurtenis waar sy ma in ʼn goue standbeeld verander, het Wiekie geen ander keuse as om te wys waartoe hy in staat is om sy gesin te red nie.

Die Meerminprinses (die oorgeklankte weergawe van The Mermaid Princess) is ’n pretbelaaide avontuur. Nadat ’n skip deur ’n verskriklike storm getref word, word die Meerminprinses gedwing om ’n klein mensdogtertjie te red. In dié avontuur besef die prinsessie dat die einste mense teen wie sy so lank gewaarsku is, eintlik almal goedheid in hulle dra. Soms verg dit net ʼn bietjie geduld om dit raak te sien.

“Daar is nog vele animasieflieks oorgeklank in Afrikaans wat vir die kleingoed op pad is; hierdie is net die begin ,” sê van Niekerk.

Komende animasieflieks oorgeklank in Afrikaans waarna kykers kan uitsien, sluit in Ella Bella Bingo, Snoet en Die Groot Avontuur en Vonk, ’n ruimteverhaal.

Wiekie die Viking en die Towerswaard wys Saterdag 2 Januarie om 20:00 en Die Meerminprinses 9 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alta Alleman ·

Hoe gaan ‘n kind tot 8 uur wakker bly om dit te kan kyk?

annie ·

En net ryk Afrikaanse kinders en hul ouers kan Kyknet kyk. Waarom is die stasie so duur? Dis ‘n absolute skande!

Anoniem ·

Dit is n skande dat daar op geen TV kanaal programme vir Afrikaanse kinders is nie.

JohanR ·

Ek het 5 maande gelede my tv aangesit. Hy staan maar daar in die hoek. Is daar ietsie verkeerd met my? Soek iemand miskien ‘n vry boepens tv?

Sarel ·

Multichoice…..DSTV…..albei gee my sooibrand.
Wag net vir Voetspore

Gerhardus ·

Nou probeer hulle op dié manier Afrikaanse kykers terug wen? Hulle vergeet hoe hulle die Afrikaanse kykers en kunstenaars behandel het. Ons vergeet nie. Dis waarom ek al méér as 2 jaar terug my DSTV subskripsie gestop het.

Kirst ·

Leer die kinders eerder lees. Daar is hordes Afrikaanse boeke beskikbaar, en dis baie beter vir kinders as TV kyk. Dit help om hulle verbeelding te ontwikkel en stimuleer hulle breine. TV hou geen voordeel in nie. Navorsing het bewys dat dit inteendeel onder andere maak dat kinders later in die lewe sukkel om te konsentreer. Alles op TV gebeur te vinnig, en kinders verwag dan dat die lewe teen dieselfde pas moet geskied. Nee wat, my kinders kyk die minimum TV. Niks meer as ‘n uur ‘n dag nie, meestal net een storie van 20 minute.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.