Annatjie Myburgh-saak: Albei verdagtes in hof

Annatjie Myburgh. Foto: Facebook

Annatjie Myburgh. Foto: Facebook

Die twee verdagtes wat aangekla word in verband met die verdwyning en dood van Annatjie Myburgh (58), sal Maandag saam in die Witrivier-landdroshof verskyn.

Selby John Mabila (26) het verlede Maandag in die hof verskyn. Die saak is tot 27 Junie uitgestel. Die tweede verdagte, Paul Mathebula (32), het Dinsdag in die hof verskyn en dié saak is ook uitgestel tot vandag wanneer die verdagtes moontlik om borgtog sal aansoek doen.

Maroela Media het intussen vroeër berig die nadoodse ondersoek dui aan dat Myburgh aan ʼn hartaanval gesterf het, wat vermoedelik veroorsaak is deur die angs en trauma wat sy deurgemaak het tydens die kaping en ontvoering. Geen opsigtelike beserings is aan haar liggaam gevind nie. “Die familie wag nog vir die amptelike verslag van die nadoodse ondersoek, maar dit blyk asof dit wel ʼn hartaanval was,” het Bruce Macaulay, woordvoerder van die familie, gesê.

Die uitslag van die nadoodse ondersoek sal na verwagting vandag in die hof voorgehou word. Albei verdagtes in die saak word tans van motorkaping en ontvoering aangekla. ʼn Bykomende aanklag sal moontlik vandag bygevoeg word na aanleiding van die uitslae van die nadoodse ondersoek.

ʼn Gedenkdiens vir Myburgh is Saterdag vanuit die NG Kerk Witrivier gehou. Maroela Media het vroeër berig ʼn reusesoektog is van stapel gestuur nadat Myburgh op 15 Junie op pad na haar werk verdwyn het. Haar liggaam is die Sondag daarna in die vroeë oggendure sowat 7 km buite Witrivier tussen bosse gevind.

Lees alle vorige berigte oor Annatjie Myburgh op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lance ·

Oppas net hulle gaan dalk net ontsnap soos al so BAIE keer gebeur het

Johanné ·

Lance, wat maak dit saak? Hulle gaan in elkgeval borgtog kry. Dis net in SA wat moordenaars borgtog kry.

Gesiggie ·

Aan: Annetjie se Gesin en Familie….. jul moes nou finaal afskeid neem van haar… en weet daar is nog so baie vrae… met die 2 verdagtes se hofsaak nou aan die gang… moet jul nogsteeds deur al die hartseer gaan… die leemte sal nooit gevul kan word…. mag die Krag van God se Genade met jul wees… mag geregtigheid geskiet”” en die 2 wat haar lewe gekos het… kry wat hul verdien.

Bid saam ·

Ek bid saam dat hierdie verdagtes nie borg kry nie, as hulle kry sal die poppe dans.Dit bly moord, dolus eventualis, directus……., hul het haar dood veroorsaak al het hul dit nie beplan nie!
Kalmte en sterkte vir die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.