Anni Dewani se moordenaar in die hospitaal

Anni Dewani Foto: Facebook

Anni Dewani Foto: Facebook

Xolile Mngeni, wat skuldig bevind is aan die wittebroodtoeris Anni Dewani se moord, is in ʼn hospitaal opgeneem.

“Mngeni is Dinsdag by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad opgeneem, maar ons kan nie kommentaar lewer oor sy toestand nie,” het Simphiwe Xako, woordvoerder van die provinsiale departement van korrektiewe dienste, Sondag gesê.

Eyewitness News het berig Mngeni is in ʼn kritieke toestand nadat hy in 2011 met ʼn breingewas gediagnoseer is.

Hy is in 2012 lewenslange tronkstraf opgelê vir Dewani se moord. Hy is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede en vyf jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Dié vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Dewani (28) is op 13 November 2010 in Gugulethu doodgeskiet in ʼn vermoedelik vervalsde kaping. Haar liggaam is die volgende dag opgespoor. Haar man, Shrien, is in April aan Suid-Afrika uitgelewer om tereg te staan op aanklagte wat met haar moord verband hou. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.